Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Beleef ʼn voorsmakie van studentwees by Akademia se kampusopedag

Gepubliseer op: 7 Augustus 2022

Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling, bied vanjaar ʼn tweede kampusopedag op 9 en 10 September by die Centurion-kampus aan. Ouers en voornemende studente word hartlik uitgenooi om hierdie dag vol opwinding by te woon waar hulle meer kan uitvind oor die instelling se studiemoontlikhede en eerstehands die bruisende studentelewe kan ervaar.

Dit is nou al die tweede jaar dat Akademia ʼn voltydse kampusmodel bied waar studente, oftewel Fonties, bedags in hul moedertaal kan klasdraf en deel kan vorm van ʼn unieke studentegemeenskap. “Akademia vier vanjaar ʼn dekade van klasgee en ons nooi jou uit om te kom kyk wat in hierdie tien jaar verrig is,” sê Lizán Maree, bestuurder van Studentewerwing.

Hierdie opedag het ten doel om vir voornemende studente die geleentheid te bied om ʼn voorsmakie van die studenteaksies te beleef, soos sport, kultuur, koshuisaksies en baie meer. Kampusbesoekers sal ook die instelling se dosente kan ontmoet en met hulle kan gesels oor die verskeie studierigtings waarin hulle belangstel.

Die geakkrediteerde kwalifikasies wat op kampus aangebied word strek oor verskeie fakulteite, naamlik Regsgeleerdheid, Opvoedkunde, Natuurwetenskappe, Geesteswetenskappe sowel as Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Die Centurion-kampus is optimaal ingerig om klasse aan te bied en daar is voldoende parkering, ʼn kafeteria, ouditorium, mediasentrum, ruim klaskamers, studenteverblyf, asook genoegsame wegbreekruimtes. Die kampus is gerieflik naby ʼn inkopiesentrum in Centurion geleë en is stapafstand vanaf die naaste Gautreinstasie.

“Ons wil graag hê dat voornemende studente ná die opedag rustigheid in hul hart sal hê oor hul studiekeuses. Kom kyk wat dit beteken om deel van die Akademia-familie te wees,” sluit Maree af.

Elke studiereis begin met die eerste tree. Voornemende Fonties en hul ouers kan die sessie op Vrydag 9 September of een van die twee sessies op Saterdag 10 September bywoon. RSVP gerus hier en stof solank jou klasdrafskoene af. Akademia sien uit om jou te verwelkom!

Akademia bied ʼn veilige studietuiste waar die Fonties se hart en denke gevorm word.
Akademia sien uit om al die voornemende Fonties en hul ouers op kampus te verwelkom!