Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-taalliefhebbers smee bande in Europa

Gepubliseer op: 2 Augustus 2022

Die hartklop van ʼn gesonde universiteitslewe is om in akademiese gesprek met ander akademici te tree. Dit is vir Akademia as privaat hoëronderwysinstelling belangrik om goeie verhoudinge en wedersydse samewerking in die universitêre wêreld te handhaaf. Een van die maniere is deelname aan konferensies en akademiese gesprekke, en dit is ook presies waarom twee Akademia-kollegas einde Julie in Europa besoek gaan aflê het.

Dr. Annelise de Vries (dosent in die Fakulteit Opvoedkunde) en Karien Brits (taalpraktisyn en deeltydse dosent in die Fakulteit Opvoedkunde) het vanaf 17 – 21Julie 2022 ʼn konferensie oor forensiese linguistiek in Portugal (Porto) bygewoon waar hulle elkeen ʼn referaat gelewer het. De Vries se referaat het gehandel oor die rol wat die forensiese taalkundige moet speel in hofsake oor haatspraak. Brits het oor die transliterasie van Oekraïense name en taalregte gepraat.

Beide die referate is goed ontvang en Akademia het as Afrikaanse akademiese instelling in Suid-Afrika goeie blootstelling ontvang. By hierdie geleentheid is daar ook goeie netwerke gevestig wat nou deur akademiese publikasies en gesprekke verder versterk sal word. Volgens die goeie Akademia-tradisie sal die referate ook intern in Augustus 2022 aan Akademia-personeel gelewer word.

De Vries en Brits het ook van die geleentheid gebruik gemaak om terwyl hulle in Europa was besoek by instellings in die Lae Lande af te lê en so ook die internasionale bande te versterk. Dit het natuurlik ʼn pitstop aan Haarlem (Nederland) ingesluit. Dit is ʼn stad wat met ʼn paar uitvinders spog wat die drukkuns en vliegtuie betref, maar dit is ook die tuiste van Ingrid Glorie wat haar al dekades lank vir kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland beywer. Glorie het vroeër vanjaar die Van Ewijck-Stigting se Prestasieprys daarvoor ontvang. Akademia se gesprekke met haar het dit ook weer bevestig.

Afrikaans en Nederlands as kwalifikasies is wel nog toekomsmusiek by Akademia, maar in die einste Haarlem was de Vries en Brits se gesprek met Karlijn Waterman, senior beleidskonsultant by die Nederlandse Taalunie, mooi musiek in die ore. Sy het praktiese voorstellings aan die hand gedoen van hoe personeel en studente se Nederlands verbeter kan word deur middel van somer- en winterskursusse.

In Brussel (België) is daar by die Nederlandse Taalunie aangedoen en is Akademia deur Maarten Vidal (beleidsekretaris) ontvang. Daar is oor die bevordering van akademiese artikels in Nederlands en Afrikaans en samewerkingsgeleenthede gesels.

Dr. Tina Vitackova van die Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika in België het de Vries en Brits op ʼn uitgebreide toer deur die stad Gent geneem terwyl daar oor navorsing en navorsingsgeleenthede gesels is. Sy het Akademia se twee taalliefhebbers na die Poëziecentrum geneem waar hulle kontak met Stefaan Goossens (hoof van dokumentasie-, studie en informasiesentrum) gemaak het.

Akademia wil met hierdie internasionale besoeke aan ons Fonties blootstelling gee aan die nuutste tendense op akademiese gebied en so ook verseker dat die vakinhoud van Akademia se kwalifikasies van hoë gehalte en relevant bly. Die instelling is daarom dankbaar vir al die bande wat op internasionale gebied gesmee is en ons sien uit om hierdie bande aan te hou versterk.

Kollegas van Akademia, dr. Annelise de Vries en Karien Brits, het Maarten Vidal van die Nederlandse Taalunie in Brussel besoek. Daar is oor taal besin en boeke oor Nederlands is aan Akademia oorhandig.
Dr. Annelise de Vries, dosent van Akademia, praat oor die rol wat die forensiese taalkundige moet speel in hofsake oor haatspraak. Sy het die Europese konferensie oor forensiese linguistiek in Porto (Portugal) bygewoon.
Karien Brits, die taalpraktisyn van Akademia, se referaat het oor die transliterasie van Oekraïense name en taalregte gehandel.
Dr. Annelise de Vries en Karien Brits, het die Poëziecentrum in Gent (België) besoek. Hier staan hulle by Stefaan Goossens en kyk na Ernst van Heerden se plakboek oor ander skrywers. Foto geneem deur Tina Vitackova.
Dr. Annelise de Vries (middel) en Karien Brits (regs), het die Poëziecentrum in Gent (België) besoek. Hier staan hulle saam met dr. Tina Vitackova by die Ernst van Heerden-versameling, die grootste Afrikaanse poësieversameling in Europa.
Daar is heerlik oor Nederlands en Akademia in Haarlem (Nederland) gesels. Van links na regs is dr. Annelise de Vries, Karlijn Waterman, Karien Brits en Ingrid Glorie.