Akademia se kunstekultuur gedy met eerste As jy sêr-geleentheid

Gepubliseer op: 7 Augustus 2025

Akademia se koshuissêrgroepe (inwoon asook daghuise) het onlangs vir a capella vermaak uit die boonste rakke gesorg tydens die eerste As jy sêr-geleentheid. Dié kompetisie, wat op 23 Julie 2025 by die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria aangebied is, het aan die gehoor ʼn besonderse musikale kykie op die instelling se bruisende studentelewe asook sy gesonde kunstekultuur gebied.

Volgens Mariska Bolleurs, koördineerder: Studentesake, neem Fonties reeds vanaf 2022 aan die sêrtradisie deel. Sedertdien is die enkelsêrformaat aangehang, selfs nog voor die vestiging van al ses die instelling se huidige koshuise, en in 2024 is daar vir die eerste keer in koshuissleepformaat deelgeneem. Vanjaar is dan óók die eerste keer dat al die Pretoria-koshuise mekaar op die verhoog die stryd aangesê het. “Die As jy sêr-geleentheid verteenwoordig ʼn nuwe en opwindende hoofstuk vir hierdie uitvoerende-kunstemedium,” meen Bolleurs.

ʼn Musikale viering van samehorigheid

Vir diegene wat nie met hierdie kunstemedium vertroud is nie, verduidelik Bolleurs dat dit ʼn a capella-sangkompetisie is wat baie aan musiekteater herinner, met ʼn voorgestelde tema, sang, dans en storievertelling. Gedagtig aan die instelling se jaartema, Afrikaans en tuis, moes elke huis die boodskap van tuiskoms in hul optrede oordra.

Sy voeg by dat dié kompetisie nie nét aan Fonties die geleentheid bied om hul musikale talente te slyp nie, maar óók om as deel van hul onderskeie koshuisgemeenskappe die deugde van gesonde kameraadskap en verbondenheid met selfvertroue uit te leef. “Deur die gedissiplineerde proses van saam oefen en optree word elke Fontie se individuele vaardighede nie net verbeter nie, maar seëvier spanwerk, samehorigheid en onderlinge respek óók,” sê Bolleurs.

In aanloop tot die As jy sêr-geleentheid het elke huis (die vier inwoonkoshuise sowel as die twee daghuise) ʼn enkelsêroptrede voorberei en het die studente baie moeite gedoen met choreografie, kostuums en natuurlik die eiesoortige musiekverwerkings. Wat hierdie optredes nóg méér uitsonderlik maak is dat alle afrigting intern plaasgevind het.

Bolleurs verduidelik voorts dat dié geleentheid nie nét ʼn besonderse hoogtepunt op die studentelewekunskalender verteenwoordig nie, maar óók die spreekwoordelike tafel dek vir die jaarlikse kuns- en kultuurskouspel, Artium. Laasgenoemde vind aan die einde van September plaas en bied ʼn geleentheid aan die topdriesêrgroepe, soos aangewys tydens die As jy sêr-geleentheid, om hul vernuf verder op die verhoog ten toon te stel.

Die volgende koshuissêrgroepe, in geen spesifieke volgorde nie, het gevolglik deurgedring na die Artium-skouspel: Huis Daglelie, Huis Dahlia en Huis Hennops.

Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe en koshuise, is vol lof vir die deelnemende studente en meen dat die geleentheid ʼn groot sukses was. Hiervan getuig nie nét die feit dat al die kaartjies vir dié geleentheid uitverkoop is nie, maar óók dat die studente heelhartig en passievol deelgeneem het. “Die studente het vir vermaak uit die boonste rakke gesorg, terwyl die gehalte van elke optrede ook vir ʼn onvergeetlike ervaring gesorg het. Ek is seker die gehoor sal met my saamstem, dat die deelnemende Fonties hulself uitstekend van hul taak gekwyt het, en ek glo dat ʼn ieder en ʼn elk reeds met afwagting uitsien na volgende jaar se As jy sêr-geleentheid,” sluit d’Assonville af.

Die sêrgroepe van Huis Daglelie, Huis Dahlia en Huis Hennops het deurgedring na die Artium-kunsteskouspel later in September.
Die sêrgroepe van Huis Karoo, Huis Strelitzia en Huis Magalies in aksie op die verhoog.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.