Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia help matrieks vanjaar ook met Wetenskap en Rekeningkunde

Gepubliseer op: 24 Junie 2019

“Akademia maak gebruik van die beste onderwysers, wat weet wat tydens die eksamen van matrikulante verwag word. Hierdie onderwysers wys al die vangplekke vir leerders uit en wys hulle ook hoe om gestruktureerd te leer.”

Goeie matriekresultate lyk nie net goed op ʼn CV nie, maar is die sleutel tot verdere studie. Daarom is dit belangrik dat matrikulante alles in die stryd werp tydens voorbereiding vir die matriekeksamen. Dit is geen geheim dat ekstra voorbereiding matrieks help om beter punte te behaal nie. Omdat meeste van ons leerders in oorvol klasse skoolgaan en nie altyd toegang tot ʼn privaat tutor of ekstra klasse het nie, kan matrikulante groot voordeel trek uit ekstra klasse tydens die wintervakansie.

Akademia bied reeds sedert 2015 met groot sukses jaarliks ʼn Winterskool in die Junie-vakansie aan. Vanjaar vind die Winterskool van 2 tot 5 Julie plaas by Akademia se studiesentrums in Die Moot en Somerset-Wes. Die vakke wat aangebied word, is Wiskunde, Tegniese Wiskunde en Afrikaans Huistaal. Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde word ook vanjaar vir die eerste keer aangebied.

Hanre Groenewald, ʼn student wat die Winterskool verlede jaar bygewoon het, sê hy het baie by hierdie ekstra klasse gebaat. “Ek het baie meer hulpbronne ontvang as wat ek by die skool gekry het en onderwysers by die Winterskool het die werk ook baie beter verduidelik as my eie onderwysers,” sê Groenewald.

Marli Buys se wiskundepunt het verbeter nadat sy Akademia se Winterskool verlede jaar bygewoon het. Sy sê die Winterskool was veral waardevol aangesien leerders na die tyd wéér na video-opnames van die lesse kon kyk.

Màrie Grabe, ʼn voormalige onderwyser in Afrikaans Huistaal aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, sê dit is beslis die moeite werd vir matrikulante om Akademia se Winterskool by te woon. “Akademia maak gebruik van die beste onderwysers, wat weet wat tydens die eksamen van matrikulante verwag word,” sê Grabe. “Hierdie onderwysers wys al die vangplekke vir leerders uit en wys hulle ook hoe om gestruktureerd te leer.”

Matrieks het nog kans tot 29 Junie 2019 om hulle plek vir vanjaar se Winterskool te bespreek. Kostes beloop R100 per persoon per dag. Besprekings word aanlyn op Akademia se webblad voltooi.