Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-dosent blink uit as televisieaanbieder

Gepubliseer op: 21 Junie 2019

“Ek moet bieg dat my gemaklikheid en liefde om voor die kamera te werk alles te danke is aan Akademia – dit is waar alles eintlik begin het.”

Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van BCom (Bestuursrekeningkunde), is saans in die klaskamer te sien as Finansiële Bestuur-dosent, terwyl sy Saterdae op die televisieskerms verskyn as aanbieder van die Virsekerbeker.

Nieuwoudt se passie vir sport dra by tot haar suksesvolle mede-aanbieding van die Virsekerbeker. “Ek is lief vir alle sport en sou enige sport wou uitsaai,” deel sy. “Ek het twee ouer broers en as klein dogtertjie moes ek en my sussie altyd saam hulle sport speel en kyk. Min wetend dat dit my eendag in my beroep sou help.” Sy noem dat sy dit veral geniet om rugby te kyk omdat daar soveel fasette in die wedstryd is en die spel baie onvoorspelbaar is. “Dit is ʼn sport wat Suid-Afrikaners geniet om te kyk en ons skoolseuns speel uitstekende rugby.”

Haar rol as aanbieder sluit in om voor die tyd ʼn prentjie te skets van wat die wedstryd mag inhou. Met rustyd word die eerste helfte se spel bespreek, en na afloop van die kragmeting word onderhoude met die kapteine gevoer. Ten einde laaste word wedstryd as geheel saam met haar media-aanbieders ontleed. Die eerstespanne se rugbywedstryde word Saterdae regstreeks om 12:30 op KykNET uitgesaai.

Rika Nieuwoudt en haar mede-aanbieders in die Virsekerbeker-ateljee

Om haar rugbykennis toenemend uit te brei lees sy gereeld daaroor op en luister sy graag na wat die kenners sê. “Tydens die Virsekerbeker-aanbieding is dit is vir my lekker om die manne te verbaas met my tegniese rugbykennis,” skerts sy.

“Ek moet bieg dat my gemaklikheid en liefde om voor die kamera te werk alles te danke is aan Akademia – dit is waar alles eintlik begin het,” sê Nieuwoudt. Akademia se onderrigmodel is van so aard dat moderne videokonferensie-tegnologie gebruik word om interaktiewe kontaksessies vanuit die ateljee in Centurion regstreeks na dertien studiesentrums landwyd en in Windhoek uit te saai. Deur kontaksessies vanuit ʼn ateljee aan te bied, in plaas van die tradisionele metode van onderrig met ʼn dosent voor in die klas, is kamerawerk al tweede natuur vir haar.

Sy vertel dat toe Akademia nog in die beginstadium was, sy genader is om ʼn radioadvertensie namens die instelling op te neem­ – iets wat sy toe baie geniet het. Net daar en dan het sy besluit om vir ʼn stemtoetsoudisie te gaan by die gemeenskapsradiostasie Lekker FM, waar sy vir twee en ʼn half jaar elke Sondag die Goue Oue-program aangebied het. “Ek glo as mens iets wil doen moet jy dit probeer, dalk is jy goed daarin,” meen sy. Nieuwoudt is in 2018 genader as aanbieder vir Virsekerbeker nadat sy eintlik ʼn oudisie vir ʼn ander program gedoen het. Vanjaar is sy al twee jaar by dié skolerugbytoernooi betrokke.

Nieuwoudt is ʼn vrou met vele talente. Bo en behalwe haar akademiese rol by Akademia, haar betrokkenheid by Virsekerbeker, en haar meestersgraadstudies, is sy ook in haar spaartyd op die gholfbaan te sien. “Ek glo vas dat elke mens soms net moet afsluit en iets in die natuur doen, en dit is wat gholf vir my is. Ek het ʼn besige brein en sukkel soms om my gedagtes af te skakel, maar wanneer ek gholf speel dink ek aan niks nie en herlaai ek totaal en al,” verduidelik sy.

Nieuwoudt het groot drome vir haar beroep vir die volgende vyf jaar. “Hopelik is Akademia se residensiële kampus klaar gebou en het ek iewers ʼn gaatjie of verantwoordelikheid om verder met die uitbreiding hiervan te help. Ek sal graag steeds televisiewerk wil doen, en hopelik nie net in sport nie, dalk teen daardie tyd kon ek self iets op die planke bring.”