Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Topstudent én ma inspireer ten spyte van siekte

Gepubliseer op: 14 Junie 2019

“As jy werklik wil studeer, glo in jouself en moenie ophou totdat jy die kwalifikasie voltooi het nie.”

ʼn 50-jarige ma in Boksburg, Debbie Lombard, vertel van haar studente-ervaring by Akademia. Alhoewel sy elke maand chemoterapie ontvang is Lombard ʼn topstudent en ontvang sy talle onderskeidings.

Lombard het vanaf haar matriekjaar simptome soos gewrigpyne, moegheid, maagpyn, geswelde kliere, koors en mondsere ervaar. Na talle misdiagnoses soos inflammasie en chroniese maagpyn is sy uiteindelik in 2011 met sistemiese lupus eritematose gediagnoseer. Weens die verergerde simptome van hierdie chroniese aandoening was dit nie meer vir haar moontlik om te werk nie.

In 2018 het Lombard oorweeg om vir BCom (Ondernemingsbestuur)-graad in te skryf om haar seun te motiveer om harder gedurende sy matriekjaar te werk. “Ek het geweet dat hy in ʼn BCom-rigting sou belangstel en ek het aangeneem dat indien ek hom ʼn jaar voor is, ek hom advies en ondersteuning kon bied,” skerts Lombard. “Boonop sou hierdie kwalifikasie my ook help om my man in alle aspekte van sy besigheid by te staan.”

Alhoewel Lombard haar matriekseun wou inspireer, was sy tog huiwerig of sy die mas sou opkom gegewe die uitdagings van haar mediese toestand. Nadat sy navorsing gedoen het oor studiemoontlikhede by verskeie instellings, was sy aangenaam verras met Akademia se onderrigmodel. By hierdie instelling kan studente nauurs in Afrikaans klasdraf, terwyl interaktiewe kontaksessies opgeneem word en beskikbaar gestel word vir studente se hersiening en teoretiese verdieping. Net daar en dan het Lombard besluit om haar studiereis by Akademia te begin.

Sy is tans in haar tweede jaar, nadat sy haar eerste jaar van studies met vlieënde vaandels geslaag het. Lombard dien selfs op die studenteraad (SR) vir 2018/2019. “Toe ek aanvanklik as SR-lid genomineer is, het ek myself ontleed en probeer bepaal watter bydrae ek tot die studente kan lewer. Ek het toe besef dat ek graag jongmense sal wil help en inspireer,” sê Lombard. Sy verduidelik dat sy deur heelwat jonger studente genader word vir studie­ondersteuning. “Ek dink my lewenservaring help dat ek die regte advies vir hulle kan gee.”

Lombard meen dat dit nooit te laat is om te studeer nie. Haar advies aan ma’s wat oorweeg om te studeer is om liewer minder modules te neem sodat daar genoeg tyd is vir al die gesinsverpligtinge. “Maar as jy werklik wil studeer, glo in jouself en moenie ophou totdat jy die kwalifikasie voltooi het nie.”