Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Federalisme-studietoer in Europa

Gepubliseer op: 25 Junie 2019

“Idees oor federalisme in Suid-Afrika het te veel bagasie weens ons apartheidsverlede. Ons gaan nou ʼn toekoms binne waarin ons stelselmatig ʼn nuwe woordeskat van federalisme skep en uitleef.”

Alida Kok, programkoördineerder van BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), het van 19 Mei tot 1 Junie ʼn federalisme-studietoer na Europa saam met medeinstellings van die Solidariteit Beweging afgelê. Die doel van hierdie toer was om multivlakregering te bestudeer. Hierdie besoek is hoogs gepas is vir Akademia, wat vanaf 2019 haar eerste kwalifikasie in die Geesteswetenskappe, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), aanbied. Hierdie kwalifikasie fokus juis daarop om studente in staat te stel om eietydse kwessies deur ʼn interdissiplinêre benadering te beskou.

Tydens die internasionale besoek het die studietoer met politieke partye en burgerlike belangegroepe in Nederland, België, Duitsland, Italië en Oostenryk ontmoet. Streeksparlemente in hierdie federale stelsels is ook besoek om meer te leer oor gevalle waar regeringsmag tussen sentrale (of nasionale) en gedesentraliseerde (of provinsiale) regerings gedeel word.

Kok verduidelik dat ʼn staat met federale strukture regeringsmag nie net in ʼn sentrale regering huisves nie, maar ook in provinsiale regerings. “Suid-Afrika het, volgens ons Grondwet, ʼn hibriede staatsvorm wat unitêre en federale eienskappe kombineer. Dit wil sê unitêre eienskappe wat verwys na gesentraliseerde regeringsmag in ʼn nasionale regering, en federalisme wat verwys na gedesentraliseerde regeringsmag in ʼn provinsiale regering.” Ten spyte van die bloudruk wat die Grondwet bied word regeringsmag in Suid-Afrika in praktyk oormatig gesentraliseer – die nasionale regering, en dan eintlik maar die regerende party as dominante politieke party, oorweldig provinsiale strukture. Hierdie benadering maak die toepassing van federalisme, waarvoor die Grondwet se hibriede stelsel voorsien, bykans onmoontlik.

Die toergroep by die Tiroolse parlement, Innsbruck, Tirool, Oostenryk.

Volgens Kok het sy talle lesse geleer wat sy na Akademia toe terugbring. “Met ons blootstelling aan streeksparlemente en gesprekke met politici en rolspelers het ek opnuut besef dat oormatige politieke sentralisering in Suid-Afrika ons verstaan van ons eie politiek verwring en problematiseer.” Sy meen dat ons die balans en gesonde politieke kompetisie wat deur die afwenteling van mag, en stabiele koalisiepolitiek of tweepartystelsels teweeg gebring word, in wese nie verstaan nie. “Ons het ʼn groot taak om uiteenlopende gemeenskappe in Suid-Afrika te versterk om sodoende weer die verhouding tussen nasionale en plaaslike politiek te herstel,” sê sy.

Volgens Kok het Suid-Afrikaners nie die woordeskat om te kan dink en praat oor gedesentraliseerde of federale politieke mag nie. “Idees oor federalisme in Suid-Afrika het te veel bagasie weens ons apartheidsverlede. Ons gaan nou ʼn toekoms binne waarin ons stelselmatig ʼn nuwe woordeskat van federalisme skep en uitleef,” meen sy. Die kwalifikasie, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) by Akademia, speel juis ʼn belangrike rol in die daarstel van hierdie woordeskat. “Dit is hier waar ons die studente en lede van gemeenskappe kweek wat krities kan dink, leef en werk om hernuwing in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te laat plaasvind en die federale eienskappe van ons eie stelsel te versterk.”

Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting oor die BSocSci (Politieke, Filosofie en Ekonomie)-kwalifikasie.