Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Begroting: Vier stappe tot sukses

Gepubliseer op: 9 Julie 2019

“Deur beheer te neem van jou uitgawes skep jy beweegruimte in jou begroting, en begin jy werklik met finansiële beplanning. Dus sal jy meer fondse beskikbaar hê om te begin spaar vir behoeftes soos aftrede.”

Deur Jaco Mostert

Jaco Mostert is ʼn finansiële adviseur en doseer Geïntegreerde Finansiële Beplanning by Akademia.

Persoonlike finansiële beplanning is drie woorde wat my as ʼn jong man geweldig geïntimideer het, want waar op aarde moet ʼn mens begin? Die antwoord is jou begroting. Dit is die grondslag van enige finansiële beplanning. Maar wanneer laas het iemand vir jou gesê hoe om ʼn begroting op te stel?

Die belangrikste reël van jou begroting is om minder te spandeer as wat jy inkry. President Eisenhower het gesê dat ʼn plan niks is nie, maar dat beplanning alles is. Hierdie woorde kan ons deurtrek na hoe mens jou eie begroting opstel, implementeer en effektief monitor.

Die eerste stap is om te bepaal wat jou vaste kostes vir elke maand is. Vaste kostes verwys na die onveranderlike kostes wat ons elke maand het. Voorbeelde hiervan is huuruitgawes, motorversekering, inkomstebelasting en spaargeld. (Dis reg, ja – spaargeld behoort ʼn vaste koste in jou begroting te wees!)

Die tweede stap is om vas te stel wat die veranderlike kostes in die begroting gaan wees. Veranderlike kostes fluktueer op ʼn maand-tot-maand-basis. Soms sal die koste baie hoog wees, soos byvoorbeeld ons onthaal en sosiale rekening, of verjaarsdaggeskenke. Later besef mens jy sal moet beter beplan om die maand uit te sien.

Die derde stap is om jou begroting aan die begin van die maand saam te stel. Sodra jou salaris in die bank geland het moet jou begrotingtemplaat ingevul word. Dit is van kardinale belang om dit so eerlik en akkuraat as moontlik te voltooi. Die laaste stap is die moeilikste deel van ʼn begroting – dit is waar jy vergelyk wat begroot is vir die maand teenoor wat werklik spandeer is. Die beste is om jou maandelikse bankstaat te trek en langs jou begroting te sit.

Hierdie metode van begroting is ʼn effektiewe manier om jou eie spanderingspatroon te identifiseer. As beginpunt kan die metode op ʼn weeklikse basis gebruik word totdat jy gemaklik met jou werklike weeklikse uitgawes is. Daarna kan dit op ʼn maandelikse basis gedoen word.

Binne die spanderingspatroon kom ons ook gou agter waar ons meer aandag sal moet gee. Moet ek byvoorbeeld my skuld beter bestuur, of sal ek my sosiale rekening moet inperk? Deur beheer te neem van jou uitgawes skep jy beweegruimte in jou begroting, en begin jy werklik met finansiële beplanning. Dus sal jy meer fondse beskikbaar hê om te begin spaar vir behoeftes soos aftrede.

Almal van ons wil graag sukses bereik, maar daarvoor moet mens ʼn doelgerigte padkaart hê. Deel van dié padkaart is om jou finansies reg te bestuur, en hierin is ʼn effektiewe begroting die wegspringplek na finansiële onafhanklikheid.