Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Hoe finansiële beplanning jou help om vir noodgevalle te spaar

Gepubliseer op: 9 Julie 2019

“Deur beheer te neem van jou uitgawes skep jy beweegruimte in jou begroting, en begin jy werklik met finansiële beplanning. Dus sal jy meer fondse beskikbaar hê om te begin spaar vir behoeftes soos aftrede.”

Deur Alicia Kamfer

Alicia Kamfer doseer Finansiële Beplanning by Akademia.

Finansiële beplanning kan omskryf word as ʼn professionele diens wat deur ʼn finansiële adviseur aan individue gebied word. Daar word van die finansiële adviseur verwag om ʼn finansiële ontleding te doen in terme van die individu se unieke finansiële omstandighede en behoeftes. Hierdie finansiële ontleding stel die finansiële adviseur in staat om individue se kort- en langtermyndoelwitte vas te stel en ʼn gebalanseerde plan daar te stel om hierdie finansiële doelwitte te behaal.

Boedelbeplanning, belastingbeplanning en begrotings kan jou help om meer van jou swaar verdiende geld te behou.

Finansiële beplanning is vir die volgende redes van uiterse belang:

  1. Inkomste te rek: Dit is moontlik om jou inkomste beter te bestuur deur middel van effektiewe beplanning. Wanneer jy jou inkomste bestuur deur middel van ʼn begroting en/of ʼn finansiële plan kan jy voorsiening maak vir die besparing van fondse op ʼn maandelikse basis, betaling van uitgawes, asook nooduitgawes.
  2. Gesinsekuriteit: ʼn Groot gedeelte van finansiële beplanning behels gesinsekuriteit. Behoorlike finansiële beplanning sal jou in staat stel om die finansiële produkte wat jy in die toekoms mag benodig in plek te kry.

 

Gestel jy is die gesin se broodwinner. Jy het ʼn vrou en twee kinders. Jy betaal die huis en twee karre se paaiemente. Jy is in ʼn ernstige ongeluk en kan vir ses maande nie werk nie. In so ʼn geval moet jy die nodige dekking in plek hê om te verseker dat daar voorsiening gemaak is vir jou en jou gesin sou ʼn onvoorsiene en onbeplande gebeurtenis oor jou pad kom.

  1. Beleggings: Behoorlike finansiële beplanning neem jou persoonlike omstandighede, doelwitte en risiko-toleransie in ag. Dit dien as ʼn gids om jou te help om die regte tipe belegging te kies wat by jou behoeftes en doelwitte pas. Die plan dui dan ook aan wat jou tekortkominge is in terme van die behoefte wat jy moet aanspreek. Sodra jy weet wat jou tekortkominge is, is dit makliker om dit aan te spreek en voorsiening te maak daarvoor. Hoe vroeër jy begin om ʼn bydrae te maak vir jou aftrede, hoe vinniger gaan jy besef hoeveel jy nog moet bydrae om jou toekomstige behoefte aan te spreek.
  2. Aaneenlopende advies: ʼn Vetrouensverhouding tussen jou en jou finansiële adviseur is van kritiese belang vir die bereiking van jou finansiële doelwitte. Jou finansiële adviseur sal gereeld met jou ontmoet om te verseker dat julle nog op dieselfde pad is met betrekking tot jou finansiële plan ten einde jou finansiële behoeftes aan te spreek.

 

Kry vandag nog jou finansiële plan in plek om te verseker dat jou toekomstige risiko’s aangespreek is. Die dekking wat jy nou uitneem sal in onvoorsiene en onbeplande omstandighede finansieel voorsiening maak vir die effek wat dit op jou en jou gesin mag hê. Maak seker dat jou finansiële plan ook jou beleggingsdoelwitte aanspreek en dat jy weet watter behoeftes prioriteit moet geniet wanneer jy begin voorsiening maak vir jou oudag.