Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Vyf wenke vir finansiële vryheid

Gepubliseer op: 9 Julie 2019

“Finansiële vryheid beteken dat jy oor die nodige bates, beleggings, beleggingseiendomme, aandele en oor ʼn lae-insetbesigheid beskik wat genoegsame inkomste vir jou genereer sodat jy kan kies of jy aktief wil werk of nie.”

Deur Nicolene Steenkamp

Nicolene Steenkamp is die programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning) by Akademia

Julie is nasionale spaarmaand. In vandag se ekonomiese omgewing dit nie meer genoegsaam om bloot ʼn inkomste te verdien nie – jy moet jou geld doeltreffend en doelbewus rig om finansiële vryheid te bekom.

Finansiële vryheid beteken dat jy oor die nodige bates, beleggings, beleggingseiendomme, aandele en oor ʼn lae-insetbesigheid beskik wat genoegsame inkomste vir jou genereer sodat jy kan kies of jy aktief wil werk of nie.

Dit is belangrik dat jy die koste van jou leefstyl moet bepaal. Hoe hoër die koste van jou leefstyl is, hoe groter moet die belegging en bates wees wat jy gaan nodig hê om finansieel vry te wees. Meeste mense ervaar egter die uitdaging dat na hulle begrotings opgestel en leefstylkostes bepaal is, hulle nie eers genoeg geld oor het om te spaar nie.

Hier volg ʼn vyf wenke oor hoe jy finansiële vryheid kan bekom:

  1. Breek slegte gewoontes

ʼn Mens se gedragpatrone en gewoontes speel ʼn groot rol in die bestuur van jou geld. Mense is geneig om onnodig geld te spandeer sonder dat hulle dit noodwendig agter kom. Begin jouself leer en dwing om van jou inkomste wat jy verdien het te hou en nie alles te spandeer nie.

  1. Identifiseer jou bron van inkomstes en uitgawes

Dit is belangrik dat jy verstaan waar jou inkomste vandaan kom. Identifiseer die bron van jou inkomste. Is my inkomste afkomstig van ʼn vaste maandelikse salaris, is dit ʼn bonus wat ek een keer ʼn jaar ontvang of is dit inkomstes wat ek een keer ʼn kwartaal verdien? Verder is dit ook belangrik dat jy weet waarop jy jou geld spandeer. ʼn Maklike manier om hierdie bronne te identifiseer is deur middel van ʼn begroting op te stel.

  1. Prioritiseer jou behoeftes

Wanneer jy jou bron van uitgawes geïdentifiseer het, is dit maklik om te prioritiseer. Vra jouself af watter uitgawes is belangriker as finansiële vryheid en sny daardie uitgawes uit jou begroting uit.

  1. Begin belê

As jy eers wag tot aan die einde van die maand om vas te stel hoeveel geld jy oor het voordat jy begin belê, gaan jy nooit begin nie. Nadat jy die onnodige uitgawes uit jou begroting gesny het, aktiveer ʼn debietorder van ʼn vaste bedrag wat na een of ander vorm van ʼn belegging gaan.

  1. Raak ontslae van jou skuld

Maak ʼn lys van al jou skuld. Identifiseer watter van die skuld die grootste risiko is, asook watter die grootste rentekomponent dra. Bepaal ʼn vaste bedrag wat jy maandeliks kan bekostig en betaal die skuld af. Wanneer jou skuld afbetaal is, volhard daarin om nie weer slegte skuld te maak nie. Moenie geld spandeer wat jy nie het nie.

Begin vandag werk aan jou finansiële vryheid sodat jy tyd en vryheid het om dinge te doen wat vir jou ware vreugde in die lewe bring.