*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Fontie-Wian verower goud én silwer op internasionale liggaamsbouverhoog

Gepubliseer op:  6 November 2026

Op slegs 20-jarige ouderdom het Wian Welding doelgerig sy stempel op die internasionale liggaamsbouverhoog afgedruk. Tydens die World Natural Bodybuilding Federation (WNBF) se Mauritius-kompetisie op 3 Oktober het dié eerstejaar-Fontie* goud in die junior liggaamsbouafdeling sowel as silwer in die Classic Physique Tall-afdeling verower. Hy het hierbenewens ook die vierde plek in die ope swaargewigafdeling behaal.

Welding volg die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program by wyse van Akademia se nauurse afstandsmodel.

Die WNBF is die wêreld se grootste federasie vir natuurlike liggaamsbou, en volgens Welding lê die waarde van dié sportsoort juis in die eerlikheid en integriteit daarvan. “Natuurlike liggaamsbou is vir my suiwer en eerlik. Alles wat jy met jou liggaam bereik, is die resultaat van jou eie inspanning en die dissipline wat jy aan die dag lê. Daar is geen kortpaaie nie, en dit is net harde werk wat sukses ontsluit,” sê hy.

Van Bothaville tot Mauritius

Welding se reis as liggaamsbouer het op 13-jarige ouderdom in die gimnasium van Bothaville Hoërskool begin, waar sy pa hom touwys gemaak het. Aanvanklik het hy homself op kragoptel toegespits, maar ʼn besering het sy fokus verander en hy het in 2023 sy buiging in liggaamsbou gemaak.

In 2024 het Welding sy eerste kompetisies in liggaamsbou aangepak en het hy reeds in Oktober beïndruk deur die o. 19-afdeling by die International Natural Bodybuilding Association (INBA) se nasionale kompetisie in die Wes-Kaap te wen. Op dieselfde dag het hy ook sy provinsiale kleure ontvang. Ná die gesin se verhuising na Langebaan in 2025 het hy sy fokus steeds verder versterk deur met Aldin Stuart, stigter van Stuart Nutrition and Performance en ʼn bewese afrigter (wat in voeding en liggaamsbou spesialiseer), te begin werk.

Rekenaarwetenskappe as ʼn toekomsboublok

Vir Welding verteenwoordig sy gekose loopbaanfokus, Rekenaarwetenskappe, ʼn belangrike toekomsbousteen wat die grondslag vir verskeie geleenthede neerlê. Hy wil eendag ʼn sagteware-ingenieur word. “Ek stel belang in die probleemoplossingsaspek daarvan. Die proses om stelsels te beplan en te bou, bied ʼn unieke manier om ʼn probleem te benader en dit geleidelik op te los,” sê hy. Welding is ook opgewonde oor die geleentheid wat sy studiereis hom bied om nie nét sy kennis te verdiep en sy denkproses te slyp nie, maar óók sy logiese redenerings- en probleemoplossingsvaardighede te verbeter. Al hierdie vaardighede kan hy in alle aspekte van sy lewe toepas.

Volgens Welding word sy studieprogram al hoe meer interessant namate hy vorder. Hy vertel dat hy veral die Wiskunde vir Programmering- en Programmeringskonsepte-module geniet. “Een van my gunstelingervarings van die eerste semester was die besef dat al my modules nou verweef is en teen die einde van die jaar het al die onderskeie dele ʼn samehangende groter geheel gevorm,” verduidelik Welding.

Oor sy keuse van Akademia as ʼn studietuiste vertel Welding dat die instelling se Christelike waardes en begronding vir hom ʼn groot trekpleister was. “Ek het geweet ek sal tuis voel en saam met mense verkeer wat dieselfde waardes as ek het,” sê hy. Die nauurse afstandsmodel gee hom boonop die ruimte om sy studie rondom sy professionele sportbeoefening te beplan. Hy maak ook gevolglik gebruik van die e-leeropsie wat hom in staat stel om klasse vanuit die gerief van sy eie leefvertrek óf hotelkamer – tydens deelname aan kompetisies – by te woon. Gedagtig aan sy besige program, vertel Welding dat hy sy dag in blokke opdeel: oggende en aande vir sy studie; middae vir oefening.

Volgens Welding is struktuur die gemene deler tussen sport en studie: albei verg goeie voorbereiding, doeltreffende beplanning en die vermoë om aanpassings te maak wanneer iets nie werk nie.

Groei onder druk

Sy voorbereiding vir die Mauritius-kompetisie het reeds in Desember verlede jaar begin en het oor die bestek van ʼn jaar gestrek.

Hy vertel dat die paar maande wat die kompetisie voorafgegaan het, veral uitdagend was. Hy moes onder meer sy studieroetine aanpas, want sy liggaam het geleidelik uitgeput geraak. In die laaste twee maande was sy liggaamsvet en kosinname op hulle laagste. “Jou brein moet harder werk om te fokus en dit is moeiliker om inligting in te neem as gevolg van die lae inname en energie,” verduidelik Welding. Die nauurse afstandsmodel het dit vir hom moontlik gemaak om sy studietyd buigsaam in te deel wanneer sy liggaam meer rus nodig gehad het. Hy is veral dankbaar vir sy ouers se voortgesette ondersteuning en beklemtoon die waarde van ʼn goeie ondersteuningsnetwerk.

“Ek het in hierdie tyd geleer dat ek meer druk kan hanteer as wat ek gedink het,” sê Welding. “Voor die jaar begin het, was ek baie onseker oor hoe ek alles sou kon balanseer. Ek het net besluit om die kans te vat en te doen wat nodig is, en ek is baie bly dat ek my instink vertrou het en voortgegaan het,” sê Welding.

Hy beskou die Mauritius-ervaring as ʼn fondament waarop hy kan voortbou. Sy plan is nou om sy liggaam tyd te gee om te herstel en só volgende jaar op verbetering te fokus. In 2028 wil hy sy blik op steeds groter internasionale kompetisies in Europa of Amerika rig.

Vir ander jongmense wat ʼn veeleisende of voltydse passie met hulle studie wil balanseer, het hy dié raad:

  • Beplan elke dag en elke week.
  • Probeer nuwe skedules tot jy een vind wat vir jou werk.
  • Gun jouself die ruimte om foute te maak en só waardevolle lesse te leer.
  • Streef doelgerig na balans.

Wil jy soos Welding ʼn gehaltekwalifikasie verwerf terwyl jy jou sportdrome aktief najaag? Akademia se nauurse afstandsmodel maak dit vir jou ook moontlik om klas aanlyn by te woon by een van die sentrums regoor Suid-Afrika óf vanaf enige plek ter wêreld via die e-leeropsie. Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is oop tot 31 Januarie 2027.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei van die instelling se leuse, Ad futurum per fontes: vanuit die bronne na die toekoms.

Wian Welding (20) is ʼn eerstejaar-Fontie in die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program wat nauurs oor afstand aan Akademia studeer. Hy het vroeër vandeesmaand goud en silwer by die WNBF Mauritius-liggaamsboukompetisie verower.
Welding in sy provinsiale kleure, wat hy in Oktober 2024 ontvang het. Op dieselfde dag het hy ook die o. 19-afdeling by die INBA se nasionale liggaamsboukompetisie in die Wes-Kaap gewen.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.