*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Wanneer ʼn ompad ʼn kraakvars nuwe geleentheid word – Dianel se hoërsertifikaatverhaal

Gepubliseer op:  3 November 2026

Toe Dianel Homsek (20) se matriekpunte nie aan die toelatingsvereistes vir haar droomstudierigting voldoen het nie, het ʼn enkele sin deur ʼn Akademia-bemarkingsadviseur haar nuwe hoop gegee: “Vee af jou trane, ons het ʼn plan!” Vandag is dié Bloemfonteinse eerstejaar-Fontie besig om haar studiedroom in die BCom (Rekeningkunde)-program, wat sy deur die nauurse afstandsmodel volg, te verwesenlik. Terselfdertyd lê sy as entrepreneur die boustene vir ’n suksesvolle toekoms neer.

Van kleins af het Homsek geweet dat sy eendag iets met haar lewe wou bereik. Sy het op ʼn plaas net buite Bloemfontein grootgeword en was aanvanklik oortuig dat sy ʼn dokter wou word. Mettertyd het haar belangstelling egter ʼn ander rigting ingeslaan. Haar liefde vir syfers en probleemoplossing het haar na rekeningkunde gelei, met die droom om uiteindelik as ouditeur te werk en veral boere met die finansiële bestuur van hul boerderyondernemings te help.

Hoewel haar matriekuitslae nie dadelik die deur na die BCom (Rekeningkunde)-program oopgemaak het nie, was dit nie die einde van haar studiedroom nie. Sy moes bloot ʼn ander roete oorweeg – een wat uiteindelik nuwe moontlikhede en onverwagte geleenthede op haar pad sou bring.

Padlangs onderweg na die verwesenliking van ʼn droom

Homsek se eerste kennismaking met Akademia was reeds in graad 9, toe haar ma vir haar en ʼn neef na ʼn vakkeusegeleentheid by die instelling se Bloemfontein-sentrum geneem het.

Hoewel sy destyds nog nie presies geweet het waarheen haar studiereis haar sou lei nie, het die geleentheid haar op ʼn besonderse manier aan Akademia bekendgestel. Die instelling en die mense wat sy daar ontmoet het, het ʼn blywende indruk gelaat en sou later ʼn belangrike rol in haar studiekeuse speel.

Ná matriek, toe haar aanvanklike studiedroom buite bereik gelyk het, het sy besluit om weer by Akademia se Bloemfontein-sentrum aan te klop – dié keer vir raad. Dit was hier waar sy die moontlikheid ontdek het om eers die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde te voltooi en sodoende ʼn grondslag vir verdere studie te lê.

Op hierdie manier kon sy steeds aan haar droom werk, al sou die pad daarheen ietwat anders lyk as wat sy aanvanklik beplan het. Die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde het aan haar die geleentheid gebied om haar kennis uit te bou, akademiese selfvertroue te ontwikkel en haar doelgerig vir verdere studie voor te berei.

Kennis wat nuwe deure oopsluit

Homsek se leergierigheid en ondernemingsgees het reeds voor haar studie duidelik na vore gekom. Terwyl sy nog op skool was, het sy in aanloop tot ʼn Desembervakansie haar ouma se soet mosterd begin maak en verkoop om ekstra sakgeld te verdien. Toe die verkope ná die feestyd afgeneem het, het sy terstond besluit om ʼn nuwe onderneming aan te pak.

Só is Kraak Vars gebore.

Met haar ma se hulp in die kombuis het dié onderneming – wat bevrore etes voorsien – aanvanklik begin as ʼn manier om geld vir haar studie bymekaar te maak. Die onderneming het egter mettertyd gegroei en vandag betaal Homsek haar eie studiekoste ten volle. Wat as ʼn klein inisiatief begin het, het dus ontwikkel tot ʼn onderneming wat nie nét haar studie ondersteun nie, maar óók haar ondernemingsvaardighede verder slyp.

Die kennis en vaardighede wat Homsek deur haar studiereis tot op hede opgedoen het, vind boonop praktiese toepassing in haar onderneming. Sy kan nou self koste bereken, begrotings opstel, verkooppryse bepaal en beter verstaan hoe finansiële besluite ʼn onderneming se winsgewendheid beïnvloed. Sy het ook ʼn groter begrip vir die uitwerking van inflasie en hoe prysveranderings ʼn onderneming se finansies raak.

En steeds strek dié kennis selfs verder as net Kraak Vars. In haar eerste studiejaar kon sy reeds haar ma met die BTW-administrasie op die familieplaas help. Vir Homsek is dit ʼn besondere voordeel van haar gekose studierigting: die geleentheid om dit wat sy leer, in die praktyk toe te pas en ook ʼn bydrae tot haar gesin se onderneming te lewer.

ʼn Gemeenskap om saam in te groei

Hoewel akademiese kennis en nuwe geleenthede ʼn belangrike deel van Homsek se studiereis vorm, is die mense wat sy langs die pad ontmoet het net só betekenisvol.

Sy vertel dat die hegte vriendskappe wat sy tydens haar jaar se studie in die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde-program gesmee het, vandag nog voortduur. Homsek onthou hoe sy en drie medestudente elke Donderdag ná klas saam gaan eet het en die week op dié manier saam afgesluit het. Hierdie groepie klasmaats is vandag ʼn gekoesterde vriendekring.

Vir Homsek is hierdie verhoudings ʼn belangrike deel van haar Akademia-ervaring. Dit verryk nie net haar studietyd nie, maar het haar ook laat besef dat studeer oor méér as bloot lesings, opdragte en eksamens gaan. Dit gaan óók oor mense, gedeelde belewenisse en die ondersteuning wat ʼn mens langs die pad ontvang en self ook verleen.

Gróót drome op nuwe moontlikhede gebou

Homsek se toekomsdrome het intussen selfs groter in statuur geword. Sy wil Kraak Vars verder uitbrei en haar produkte uiteindelik landswyd versprei. Sy droom selfs van ʼn eie winkel waar mense dié produkte kan koop. ʼn Ander mikpunt is om eendag by die Langenhovenpark-boeremark, waaraan sy gereeld deelneem, al haar voorraad op ʼn enkele Saterdag uit te verkoop.

Haar oorspronklike droom om ʼn ouditeur te word, leef ook steeds vurig voort. Sy wil graag haar eie ouditeursfirma vestig wat op die landbousektor fokus. Omdat sy self op ʼn plaas grootgeword het en die uitdagings van die landboubedryf ken, wil sy graag ʼn span met mense bou wat die sektor verstaan en boere met hul finansiële bestuur kan bystaan.

As sy terugkyk op die teleurstelling ná matriek, besef Homsek dat ʼn mens se eerste plan nie noodwendig die enigste pad na jou bestemming is nie. Soms lê daar waardevolle geleenthede op ʼn ander roete.

Haar boodskap aan voornemende studente wat dalk tans onseker voel oor hul volgende stap, is eenvoudig: “Jy hoef nie al die antwoorde te hê nie. Jy moet net bereid wees om die eerste tree te gee.”

Volgens dr. Lizán Maree, bestuurder: Bemarking, herinner Homsek se verhaal voornemende studente daaraan dat ʼn ander studieroete nie die einde van ʼn droom hoef te beteken nie. ʼn Hoërsertifikaatprogram kan juis ʼn belangrike eerste bousteen wees. ʼn Geleentheid om kennis, vaardighede en selfvertroue te ontwikkel, nuwe moontlikhede te ontdek en met groter sekerheid aan die toekoms te bou.

Homsek sluit af deur te sê dat al wat ʼn mens soms nodig het – veral wanneer ʼn deur nie oopgaan soos jy gehoop het nie – dat iemand jou help om ʼn ander moontlikheid raak te sien. In dié verband wil sy ander voornemende studente bemoedig deur hulle daaraan te herinner dat die Here se meesterplan vir elkeen se lewe veel groter is as wat ons kan dink of droom. “Plaas jou vertroue op die Here, en kyk hoe Sy genade méér as genoeg is,” sê Homsek.

Koester jy ook ʼn studiedroom, maar jy is onseker oor die moontlikhede wat vir jou beskikbaar is? Moenie dat onsekerheid jou daarvan weerhou om die eerste tree te gee nie. Maak gerus ʼn afspraak met een van Akademia se bemarkingsadviseurs om jou opsies te verken en saam te kyk na ʼn studieroete wat by jou omstandighede en toekomsplanne pas. Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is steeds oop.

Dianel Homsek (20) se verhaal wys hoe ʼn hoër sertifikaat die eerste bousteen van ʼn groot toekomsdroom kan wees.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.