*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Mensevorming as grondslag vir gemeenskapsbou

Gepubliseer op:  30 Oktober 2026

Geskryf deur prof. Gawie du Toit, hoof van Akademia se Paarl-kampus.

Wat behoort die roepingsdoel van ʼn universiteit te wees? Is dit bloot ʼn instelling waar kennis oorgedra, beroepsvaardighede ontwikkel en kwalifikasies verwerf word? Óf lê die ware waarde van ʼn universiteit óók in sy vermoë om mense toekomsgedrewe te vorm. Mense wat met wysheid kan oordeel, verantwoordelik kan handel en hul kennis tot voordeel van die gemeenskap kan aanwend?

Hierdie vrae spreek tot die kern van die klassieke universiteitswese. Hoewel kennis en beroepsvoorbereiding onontbeerlike funksies van hoër onderwys is, kan die universiteit se roeping nie daartoe beperk word nie. ʼn Hoëronderwysinstelling behoort immers nie nét mense vir ʼn loopbaan voor te berei nie, maar hulle óók toe te rus om met onderskeidingsvermoë, karakter en verantwoordelikheid hul plek in die samelewing vol te staan.

Juis hierin lê die potensiaal van hoër onderwys as ʼn bousteen – nee, ʼn hoeksteen, van gemeenskapsvorming.

Kennis alleen is nie genoeg nie

Die Christelik-klassieke universiteitsideaal, waarin Akademia gefundeer is, bied ʼn besondere perspektief op die eeuoue vormingsopdrag. Die denkwerk van invloedryke filosowe, van Plato en Aristoteles tot hedendaagse denkers soos Alasdair MacIntyre en Wendell Berry, herinner ons daaraan dat onderwys nog altyd met groter vrae oor die mens, die waarheid en die goeie lewe verweef is.

Hierdie tradisie plaas begrippe soos waarheid, wysheid, deug, geloof en rede sentraal. Dit beklemtoon terselfdertyd die groter samehang van kennis, die waarde van verwondering en die betekenis van tradisie en gemeenskapsverbondenheid. Kennis is vanuit hierdie perspektief daarom nie bloot ʼn versameling feite of ʼn instrument waarmee ekonomiese vooruitgang bewerkstellig word nie. Allermins. Dit is deel van ʼn groter dinamiese soeke na begrip, betekenis en verantwoordbare menslike handeling.

Wanneer studente leer om vrae krities te ondersoek, verskillende perspektiewe op ʼn rasionele wyse te oorweeg en hul kennis met wysheid toe te pas, word hulle vir soveel meer as ʼn beroepslewe voorberei. Hulle ontwikkel die vermoë om as roepingsgedrewe landsburgers, kollegas, ouers en gemeenskapslede ʼn betekenisvolle bydrae te lewer.

Hierdie vormingsopdrag vra daarom vir ʼn samehang tussen denke en karakter, tussen kennis en verantwoordelikheid, en tussen individuele ontwikkeling en die welsyn van die breër gemeenskap.

Die verlede as ʼn bron vir die toekoms

Hierdie uitgangspunt vind uitdrukking in Akademia se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Dié leuse verwoord ʼn belangrike vertrekpunt: Die strewe van ʼn toekomsgerigte instelling, hoef nie sy historiese en filosofiese wortels agterweë te laat nie. Inteendeel, juis deur krities en doelbewus uit hierdie bronne te put, kan ʼn universiteit sy identiteit verdiep en sy roeping met groter helderheid uitlééf.

Die Christelik-klassieke erfenis is dus nie bloot ʼn historiese nalatenskap wat bewaar moet word nie. Dit is ʼn lewende bron van insig wat rigting gee aan ʼn hoëronderwysinstelling se akademiese identiteit, begrondingswaardes en vormingsideaal. Dit help om belangrike vrae te stel oor wat die moeite werd is om te weet, watter soort mense ons behoort te word en hoe kennis in diens van iets groter as onsself gestel kan word.

Hierdie benadering beteken egter nie dat die verlede kritiekloos nagevolg moet word nie. Dit beteken eerder dat bestaande wysheid ernstig opgeneem, deeglik ondersoek en op ʼn kritiese wyse by hedendaagse vraagstukke betrek behoort te word. Só word tradisie nie ʼn hindernis vir vernuwing nie, maar ʼn dinamiese wegspringplek vanwaar betekenisvolle vernuwing kan spruit.

ʼn Akademiese tuiste met ʼn sterk gemeenskapsverbondenheid

Die universiteit se vormingsopdrag staan nie los van die taal en kultuur waarin mense hulself uitdruk en hul wêreld verstaan nie.

Afrikaans se plek as akademiese en wetenskapstaal is daarom meer as ʼn praktiese onderrigkeuse. Dit skep ruimte waarin kennis ontwikkel, idees verfyn en komplekse vraagstukke in ʼn eie taal ondersoek kan word.

Vir Akademia hou hierdie uitgangspunt verband met die strewe om ʼn akademiese tuiste te wees waar taal, kultuur, kennis en gemeenskapsverbondenheid mekaar doelgerig versterk. So ʼn tuiste bied nie bloot toegang tot akademiese programme nie; dit skep ook ruimte vir studente om hul intellektuele vermoëns te slyp, hul waardes te ondersoek en hul verantwoordelikheid teenoor ander te begryp.

Die universiteit se verbondenheid aan ʼn bepaalde taal- en kultuurgemeenskap hoef óók nie die omvang van sy bydrae te beperk nie. Wanneer ʼn gemeenskap deur onderwys versterk word, strek die vrugte daarvan veel wyer. Mense wat met kundigheid, integriteit en ʼn diensbare ingesteldheid gevorm is, neem hierdie eienskappe saam na hul beroepe, gesinne, ondernemings en die breër samelewing.

Waar die universiteitsideaal gestalte kry

ʼn Universiteitsideaal kry egter eers werklike betekenis wanneer dit in die daaglikse praktyk gestalte vind. Filosofiese uitgangspunte moet daarom nie nét in verklarings en leuses verwoord word nie, maar ook sigbaar wees in ʼn instelling se akademiese programme, onderrigbenadering, studentelewe en vormende ervarings.

By Akademia is die strewe om hierdie samehang tussen denke én hart, akademiese diepgang en karaktervorming, en individuele ontwikkeling en gemeenskapsdiens deel van die instelling se voortgaande bouwerk te maak. Die oogmerk is om goed ontwikkelde mense te vorm wat nie net oor die nodige kennis en vaardighede beskik nie, maar ook die wysheid en verantwoordelikheidsin ontwikkel om dit sinvol aan te wend.

Hierdie vorming is nie ʼn bysaak wat eers aandag kry wanneer akademiese werk afgehandel is nie. Dit behoort fyn verweef te wees met die leerproses self: met die vrae wat gevra word, die gesprekke wat gevoer word, die waardes wat voorgehou word en die geleenthede wat studente kry om hul kennis in die praktyk toe te pas.

Akademiese uitnemendheid en mensvorming is dus nie teenpole nie. Wanneer dit doelbewus met mekaar verbind word, kan hoër onderwys mense voorberei om nie net ingewikkelde probleme op te los nie, maar ook verantwoordelik te besluit watter probleme aandag verdien en hoe oplossings tot voordeel van ander aangewend kan word.

Bou aan mense, bou aan die toekoms

Akademia se voortgesette groei en toekomsgerigte ontwikkeling bied ʼn geleentheid om hierdie klassieke universiteitsideaal verder uit te bou. Die ware betekenis van dié bouwerk lê egter nie uitsluitlik in die skepping van infrastruktuur, die uitbreiding van akademiese programme óf die verwerwing van kwalifikasies nie. Dit lê uiteindelik ook in die mense wat deur die instelling gevorm word en die bydrae wat hulle tot hul gemeenskappe lewer.

ʼn Universiteit se nalatenskap word immers nie net gemeet aan die kwalifikasies wat toegeken word nie, maar ook aan die gehalte van die mense wat deur sy poorte stap. Dit word sigbaar in hul vermoë om met kennis én wysheid op te tree, om met integriteit te lei, om verantwoordelik teenoor ander te leef en om hul kundigheid tot voordeel van die breër samelewing aan te wend.

Só bou Akademia vanuit die bronne van die verlede voort aan goed gevormde mense vir ʼn vrye en hoopvolle toekoms. Mense wie se denke én hart gevorm word om nie net hul eie toekoms te verwesenlik nie, maar ook betekenisvol tot die toekoms van hul gemeenskappe by te dra.

Prof. Gawie du Toit, hoof van Akademia se Paarl-kampus, meen dat ʼn universiteit se nalatenskap nie net gemeet word aan die kwalifikasies wat toegeken word nie, maar ook aan die gehalte van die mense wat deur sy poort stap.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.