*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 3 Augustus 2026
Op die vraag waar Aidan van Heerden (21) – ʼn LLB-derdejaarstudent aan Akademia se Pretoria-kampus – sy skoolloopbaan voltooi het, antwoord hy met ʼn glimlag: “In die tweede kamer links, op die onderste verdieping, van ons huis in Bettiesbaai.”
Dié antwoord verklap meer as net Van Heerden se fyn sin vir humor en tuisskoolagtergrond. Dit vertel iets van ʼn jong man wat van kleins af geleer het dat kennis veel verder strek as net klaskamers en voorgeskrewe handboeke. Vandag, as wenner van die Fakulteit Regsgeleerdheid se eerste tusseninstellingskynhof, streef Van Heerden steeds dieselfde doel na: om nie net bloot boekekennis te verwerf nie, maar wysheid; om nie net antwoorde te vind nie, maar om die vermoë om die regte vrae te vra te ontwikkel.
Akademia as ʼn Afrikaanse vormingstuiste
Volgens Van Heerden vervul studentwees en naskoolse studie ʼn groter rol as net beroepsvoorbereiding. Vir hom verteenwoordig sy studiereis aan Akademia ʼn vormingstydperk waarin hy, en sy medestudente, geleer word hoe om te dink – krities, deurgrondend en bowenal met ʼn nederige besef dat daar altyd meer is om te leer en te ervaar.
Maar hoe het dié Kapenaar tot die besluit gekom om homself as student in Pretoria te vestig?
Hy antwoord dat Afrikaans as onderrigtaal vir hom ʼn deurslaggewende oorweging was, al het dit sy keuses wat ʼn studietuiste betref beperk. Van Heerden vertel dat sy grootwordjare in die Kaapse platteland sy liefde vir Afrikaans help vorm het, terwyl die werke en denke van skrywers soos CM van den Heever en CJ Langenhoven dié liefde gedurende sy tienerjare verder verdiep het.
Gedagtig hieraan het hy dit sterk oorweeg om in Stellenbosch te studeer, en het hy verskeie beroepsvelde “van musikant tot predikant” oorweeg alvorens hy op ʼn loopbaan in die regte besluit het. “Hierdie besluit het nie gepaardgegaan met ʼn groot en dramatiese eureka-oomblik nie, maar ek weet nou dat dit die Here se voorsienigheid oor ʼn “redelike tyd was wat my tot dié rigting gebring het,” sê Van Heerden.
Dit was Van Heerden se pa, eerw. dr. J. L van Heerden, wat hom aan Akademia voorgestel het. Ná ʼn deeglike ondersoek oor die instelling en die beskikbare studiemoontlikhede het Van Heerden op Akademia besluit omdat die instelling se waardes met dié van sy eie belyn was. Die karakter en gehalteaanbod van die Fakulteit Regsgeleerdheid het ook dadelik sy belangstelling geprikkel. “Al verlang ek soms by tye erg huis toe, is ek nie vir ʼn oomblik spyt oor my keuse nie, en ek beskou dit as ʼn besonderse voorreg om in my hartstaal te kan studeer,” sê Van Heerden.
Die vele dimensies van studentwees
Van Heerden meen dat die vele dimensies van die instelling se studentelewe dit vir hom maklik maak om Fontie-wees ten volle te geniet.
“Ek is veral dankbaar vir die moeite wat daar aan die dag gelê word om ruimte te skep vir studentedeelname aan intellektueelverrykende geleenthede, soos konferensies, openbare lesings en ander toerustingsgeleenthede,” sê Van Heerden. Gedagtig hieraan is Van Heerden ʼn gereelde gesig by denkforumgeleenthede soos aangebied deur die NP van Wyk Louw-sentrum. Hy is van mening dat filosofie en kritiese denke nie bloot akademiese boublokke is nie, maar eerder ʼn lewenslange gesprek oor die waarheid, geregtigheid en die werklikheid fasiliteer.
Vir Van Heerden is daar niks lekkerder as om klas te draf nie. “Elke een van my dosente doen ontsaglik baie moeite om sy/haar module so verstaanbaar moontlik te maak en hul eie praktykservaring met ons te deel. Die dosente is ook toeganklik en vervul só ʼn selfopgelegde en roepingsgedrewe mentorskapsrol,” sê Van Heerden. Hy voeg by dat dosente hom en sy klasmaats verder uitdaag om indringende vrae te vra, wyd te lees en op die manier die reg binne ʼn groter raamwerk van die werklikheid te verstaan.
Volgens Van Heerden is dit juis hierdie toegewydheid en passie is wat Akademia van ander hoëronderwysinstellings onderskei.
ʼn Blik op die toekoms
As toekomstige regspraktisyn, wat daarvan droom om eendag self die rol van dosent te vervul, stel Van Heerden veral belang in Regsuitleg, Administratief-, Kontrak- en Sakereg.
Dit is dan juis met ʼn oog op die toekoms dat Van Heerden aan die tusseninstellingskynhof deelgeneem het. Hy beskryf dié kompetisie as ʼn besonderse ervaring veral vanweë die netwerkgeleenthede wat dit ontsluit het. “Ek het nie nét die geleentheid gehad om ander toekomstige regslui van ander instellings en met uiteenlopende agtergronde te ontmoet nie, maar ook skouers geskuur met ervare praktisyns en kenners vanuit die advokatuur en die akademie,” vertel Van Heerden.
Die grootste les wat hy gedurende die kompetisie geleer het, is nederigheid. Hy verduidelik dat hierdie nie ʼn abstrakte tipe nederigheid is nie, maar eerder ʼn eerlike erkenning en bevestiging daarvan is dat ʼn mens nooit alles oor ʼn saak sal weet nie. “Ek het oor my eie hoofde van betoog geswoeg, die feitestel nagevors, en die teorie deurgegaan. Ek het dit uiteindelik geliasseer, net om die dag daarna die teenkanting se betoë aan te hoor en tot die besef te kom dat daar punte en uitgangshoeke was waaraan ek nie eers gedink het nie,” verduidelik Van Heerden.
Vir Van Heerden verteenwoordig die skynhofervaring vir hom presies wat regsopleiding behoort te wees: nie die blote memorisering van wette en regsfeite nie, maar die voortgesette ontwikkeling van karakter, oordeel en verantwoordelike denke. “Hierdie ervaring getuig van vorming wat my as persoon ʼn leeftyd lank sal bybly,” sluit Van Heerden af.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.