*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 31 Julie 2026
Wanneer Akademia se Woordmeesters-taalkompetisie* – in trotse samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Die Papier – op 14 Augustus 2026 ʼn hoogtepunt bereik, sal die topfinaliste nie nét om die titel van woordmeester meeding nie. Hulle sal ook eerstehands bewys dat ʼn liefde vir Afrikaans mense uit uiteenlopende beroepsvelde, verskillende lewensfases en selfs oor generasies heen saam kan bind.
Neem die topfinaliste in die Publiek-kategorie as sprekende voorbeeld. Hoewel Chrisna Bezuidenhout, Morné van Rooyen en Ranya van der Walt mekaar voor Woordmeesters nie geken het nie, word hulle deur veel meer as net hul deelname saamgebind. Hulle deel ʼn diep liefde vir Afrikaans en ʼn oortuiging dat die taal gekoester, versorg en doelbewus uitgebou moet word. In dié opsig is hulle moedertaalambassadeurs.
Die verbondenheidspotensiaal van taal
Volgens Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia en een van vanjaar se Woordmeesters-beoordelaars, lê die waarde van die taalkompetisie juis opgesluit in hierdie verbondenheidsaspek.
“Die gevaarlikste ding wat met ʼn taal kan gebeur, is wanneer mense eenvoudig ophou om daarvoor om te gee,” verduidelik Brits. Sy gaan voort deur te sê dat die groot belangstelling in vanjaar se kompetisie wys dat mense steeds omgee vir Afrikaans, en dat hulle die taal wil versorg. Volgens Brits gaan die kompetisie daarom oor baie meer as net korrekte spelling en idiomatiese gebruik. Dit daag deelnemers uit om die herkoms, betekenis en gebruik van woorde te verstaan.
“As ons nie weet wat ʼn woord soos ‘sondebok’ beteken nie, kan ons maklik die skelm skotvry laat wegkom in ons stories. ʼn Sondebok is immers die onskuldige persoon op wie al die skuld gepak word. Woorde dra betekenis, geskiedenis én kultuur en daarom is dit belangrik om hulle reg te verstaan,” verduidelik Brits.
ʼn Taal in aksie
Brits wys daarop dat Afrikaans juis lewendig bly omdat sprekers bereid is om voortdurend by mekaar te leer. “ʼn Taal wat groei en gedy, is ʼn dinamiese taal,” sê sy.
Sy onthou hoe wyle prof. PG du Plessis daarvan gehou het om vergete Afrikaanse woorde weer in sy skryfwerk te laat herleef. Self onthou sy ook hoe ʼn Vrystaatse tannie van ʼn “torts” eerder as ʼn flits gepraat het. Sulke woorde hoef nie noodwendig weer algemene gebruik te word nie, maar hulle herinner ons aan die rykdom van Afrikaans en laat ʼn mens met nuwe waardering na die taal kyk.
Volgens Brits is daar boonop groot waarde daarin dat verskillende geslagte met mekaar oor taal kan en moet gesels. Ter illustrasie hiervan verduidelik Brits dat ou uitdrukkings dikwels lewenswysheid oordra, terwyl jonger generasies weer nuwe taalgebruike vestig. Sy glimlag byvoorbeeld daaroor dat haar studente haar geleer het om nie altyd ʼn informele WhatsApp-boodskap met ʼn leesteken af te sluit nie – ʼn subtiele manier om die gesprek oop te hou. Net só leef ou uitdrukkings soos “moenie die pap te dik aanmaak nie” steeds voort as tydlose raad wat oor geslagte heen betekenis behou.
Die stories van vanjaar se topfinaliste in die Publiek-kategorie
Die gedeelde liefde vir taal vind gestalte in die uiteenlopende stories van vanjaar se topfinaliste in die Publiek-kategorie.
As Afrikaans-onderwyseres aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria, het Bezuidenhout se Woordmeesters-avontuur begin met ʼn uitdaging vanaf haar departementshoof, Hans Moolman.
Hoewel sy die taaltoetse uitdagend gevind het, beskryf Bezuidenhout haar ervaring as besonder insiggewend. Haar liefde vir Afrikaans het reeds gedurende haar skooljare posgevat danksy inspirerende taalonderwysers. Vandag leef sy haar passie vir Afrikaans reeds agttien jaar lank elke dag uit in haar eie klaskamer.
Volgens Bezuidenhout is goeie taalvaardigheid die sleutel wat mense in staat stel om hul volle potensiaal te kan bereik.
Haar gunstelingwoord is “reukwater”.
Vir Van Rooyen, ʼn nuusredakteur by OFM in Bloemfontein, spruit sy deelname aan vanjaar se taalkompetisie uit ʼn persoonlike groeiuitdaging. Nadat Van Rooyen verlede jaar gevoel het dat hy nie die kompetisie met genoeg erns aangepak het nie, het hy besluit om vanjaar terug te keer, vasberade om beter te vaar.
Volgens Van Rooyen was die taaltoetse tegnies en veeleisend by tye. “Dit was dalk meer die soort goed wat ʼn mens sou moes naslaan as uit die hoof weet, maar ek reken dit het die kaf van die koring geskei,” sê Van Rooyen.
Sy liefde vir Afrikaans het reeds vroeg by sy ma ontstaan, ʼn ywerige blokraaiselinvuller wat altyd groot waarde aan korrekte taalgebruik en spelling geheg het. Wyle prof. Johan Combrink is sy taalrolmodel, en Afrikaans is vir hom veel meer as ʼn kommunikasiemiddel. “Dit is die medium waarin ek dink, droom, redeneer, werk en aanbid. Daarsonder sal ek nie volledig mens kan wees nie,” sê hy. Om dié rede glo hy dat goeie taalvaardigheid noodsaaklik is om ʼn mens se diepste gevoelens noukeurig te verwoord. Passend genoeg is sy gunstelingwoord in Afrikaans “trouens” – ʼn klein woordjie wat dikwels groot betekenis dra.
Op haar beurt meen Ranya van der Walt dat Woordmeesters vir haar óók meer as net ʼn taalkompetisie is. Sy beskou dit as ʼn geleentheid vir gewone mense om hul buitengewone liefde vir Afrikaans uit te leef.
Nadat sy verlede jaar teleurgesteld was omdat sy nie al die taaltoetse kon voltooi nie, het sy vanjaar seker gemaak dat sy vanjaar aan elke uitdaging deelneem. Sy vertel dat die taaltoetse vir haar só lekker was dat sy telkens teleurgesteld was wanneer sy die laaste vraag bereik het.
Van der Walt se liefde vir Afrikaans is diep gewortel in haar grootwordjare. Haar pa se liefde vir die taal, haar ma se boekrak vol Afrikaanse boeke en onderwysers wat haar aangemoedig het om haar eie stem te ontwikkel, het saam die grondslag gelê vir ʼn lewenslange passie. Vandag beskryf sy Afrikaans as “my hart, my huis” – ʼn manier van dink en doen, en ʼn plek waar haar menswees tuis voel. Haar gunstelingwoord is “nademaal”.
Hoewel hul stories verskil, loop daar ʼn duidelike draad deur elke topfinalis se taalervaring: Afrikaans is meer as net ʼn kommunikasiemiddel. Dit is deel van wie hulle is. Deur hul deelname aan Woordmeesters 2026 vier hulle nie net hul taalvernuf nie, maar ook die rykdom van ʼn taal wat steeds inspireer, ontwikkel en mense bymekaarbring.
*Borge wat aan dié taalinisiatief deelneem, sluit in Afrikaans.com, AfriForum, Weet, Penguin Random House South Africa, Stimulusmaksima en Jonathan Ball Publishers.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.