*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 4 Mei 2026
Onthou die naam Heike de Klerk. Dié 19-jarige eerstejaarstudent aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is ʼn gerekende driesprongatleet wat plaaslik én nasionaal presteer. Tydens De Klerk se onlangse deelname aan Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Junior Kampioenskappe in Germiston (26 tot 28 Maart 2026) het sy goud verower met ʼn indrukwekkende sprong van 12,35 m. Hierdie prestasie het aan haar die derde plek op die Afrika-ranglys vir vroue O/20 besorg asook ʼn vierde plek vir senior vroue in Suid-Afrika. Behalwe vir haar spesialisasie in driesprong, blink De Klerk – wat vanaf graad-R kompeterend deelneem – ook provinsiaal uit in verspring en die 100 m.
Akademia as studietuiste
Vir dié boorling van Roodepoort in Gauteng en oudleerder van die Hoërskool Waterkloof is dissipline, geloof en doelgerigtheid die grondslag waarop sy haar toekoms bou – in die lesinglokaal sowel as op die atletiekbaan.
De Klerk vertel dat sy op Akademia as ʼn studietuiste besluit het, nadat sy die instelling se kampusopedag in 2025 in Pretoria bygewoon het. “Die atmosfeer tydens die kampusopedag was aansteeklik en ek het dadelik tuis gevoel en instinktief geweet dat ek deel van die Fontie*-familie wou wees,” vertel De Klerk. Sy pak tans die BCom (Ondernemingsbestuur)-program by wyse van die instelling se voltydse kampusmodel aan.
De Klerk beskryf haar studente-ervaring as verrykend en geniet elke oomblik, van klasdraf tot sosiale geleenthede as deel van die damesdaghuis, Huis Daglelie. Sy is ook ʼn lid van die instelling se dansklub. Laasgenoemde deelname getuig nie nét van De Klerk se vlugvoetigheid nie, maar ook haar kompeterende aard en sy vertel trots dat sy en haar vriend, Pieter Kriek, tydens die eerstejaarsoriënteringsprogram die Fontie-sokkiekompetisie gewen het.
Op die vraag wat haar gunstelingoomblikke van studentwees is, antwoord De Klerk sonder aarsel dat die eerstejaarskamp en die daaropvolgende oriënteringsweek haar vir altyd sal bybly. “Tydens dié tydperk het ek soveel nuwe vriende gemaak en eerstehands ervaar wat Akademia se waardes is en hoe ek roepingsgedrewe na die toekoms kan uitsien,” sê De Klerk.
Uitnemendheid op die atletiekbaan
De Klerk beskryf haar onlangse prestasies by die ASA-kampioenskappe as oomblikke van diepe dankbaarheid. “Nie almal verstaan altyd die jare se harde werk, opofferings en toewyding wat kompeterende sportlui moet deurgaan om suksesvol te wees nie, en daarom beteken ʼn goeie prestasie soveel méér as net ʼn blote wen – dit is die resultaat van jare se voorbereiding,” verduidelik De Klerk. Sy lig ook in dié verband haar hoed vir haar pa, GB de Klerk, wat sy as haar grootste steunpilaar beskryf. Die appel val beslis nie ver van die boom af nie, want De Klerk senior is ʼn bewese nasionale atletiekafrigter met meer as 35 jaar se ervaring.
As ʼn geregistreerde atleet van die Athletics Gauteng North (AGN)-klub neem De Klerk trots deel in Akademia-klere en is dit vir haar lekker om op dié manier haar Fontie-identiteit verder uit te leef. Sy is dan ook reeds vir die afgelope drie jaar deel van die senior AGN-span wat nasionaal kompeteer.
Balans, geloof en visie
Om voltyds te studeer én intensief te oefen verg deeglike beplanning. De Klerk oefen vyf dae per week, soms óók op Saterdae, gemiddeld twee ure per dag. Haar oefenprogram word voorts in twee dele opgedeel, naamlik ʼn voorseisoen en ʼn hoofseisoen. Tydens die voorseisoen fokus sy op aspekte soos spieruithouvermoë en kragwerk, terwyl daar tydens die hoofseisoen op tegniek en spoed gefokus word.
Tog bly balans haar sleutelwoord: “Ek prioritiseer my akademiese verpligtinge asook my atletiek en sosiale lewe en streef daarna om elke dag ʼn realistiese balans tussen die twee te handhaaf terwyl ek nooit my toekomsvisie uit die oog verloor nie,” meen De Klerk.
Sy deel graag die volgende brokkie advies met ander voornemende studente wat ook ʼn voltydse sportpassie uitleef:
Belê in ʼn dagbeplanner en hou nougeset by jou plan.
Haar groot sportdroom is om Springbokkleure te verwerf en op internasionale vlak mee te ding.
As atleet put De Klerk inspirasie uit verskeie wêreldbekende atlete, waaronder Heike Drechsler (haar naamgenoot na wie sy vernoem is), Sydney McLaughlin-Levrone (wie se geloof en wêreldrekords haar diep motiveer) en Thea LaFond (wie se Olimpiese goue medalje in 2024 toon dat deursettingsvermoë fisieke uitdagings kan oorkom).
Sport as ʼn bousteen vir die toekoms
Sport gaan vir De Klerk oor meer as net prestasie, en sy beskou dit as ʼn bousteen vir vorming en ontwikkeling. ʼn Geleentheid om waardevolle lewenslesse te leer. Hierdie lesse sluit in dissipline, uithouvermoë, geduld en ʼn diepe afhanklikheid van haar Skepper. “Sport bring my nader aan God en leer my om elke dag deur geloof te lewe en deel te neem,” sê De Klerk en sluit af deur te verduidelik dat met ʼn stewige akademiese grondslag en ʼn florerende sportloopbaan sy doelgerig aan haar toekoms bou – op én weg van die atletiekbaan af.
*Fonties is die gegewe naam vir studente wat aan Akademia studeer. Dit is afgelei van Akademia se leuse, Ad Futurum per Fontes – vanuit die bronne na die toekoms.
Wil jy soos De Klerk jouself met ʼn gehaltekwalifikasie toerus terwyl jy ander belangstellings soos byvoorbeeld sport najaag? Akademia bied aan jou die keuse van twee onderrigleermodelle, naamlik die voltydse kampusmodel of die nauurse afstandsmodel. Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word nou ingewag. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.