*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Naskoolse studie maak stééds sin – al voel die toekoms finansieel onseker

Gepubliseer op:  5 Mei 2026

Die koste verbonde aan naskoolse studie, saam met toenemende ekonomiese druk en onsekerheid in die arbeidsmark, laat talle voornemende studente en hul ouers verstaanbaar met vrae oor die toekoms. Tog wys ervaring dat dit juis in tye soos hierdie is dat ʼn doelgerigte belegging in menslike kapitaal die grootste langtermynwaarde ontsluit.

Die sleutel lê egter daarin om toegang tot gehalteonderrig op ʼn volhoubare en haalbare manier te vind. Dit is presies waar Akademia ʼn verskil maak. Deur innoverende en buigsame onderrigleermodelle, tesame met weldeurdagte beplanningsopsies en ondersteuning, bied die instelling praktiese oplossings vir die finansiële uitdagings van hoër onderwys – sonder om gehalte in te boet.

Volgens Danie Jansen van Vuuren, hoof: Finansies en Infrastruktuur by Akademia, is die fokus om studente nie net akademies te ondersteun nie, maar ook om toegang tot volhoubare geleenthede te skep wat naskoolse opleiding realisties en toeganklik maak. Op dié manier help Akademia om studiedrome te verwesenlik om die toekoms só hoopvol te betree.

Gedagtig hieraan beantwoord Jansen van Vuuren ʼn aantal vrae wat met die befondsing van naskoolse studie verband hou.

Hoekom is naskoolse studie veral belangrik in tye van groot onsekerheid?

Onsekerheid is nie ʼn nuwe verskynsel nie, maar tog weerhou dit mense daarvan om belangrike besluite te neem. Die wêreld het al talle krisisse in die gesig gestaar – van ekonomiese resessies tot globale pandemies. Tydens die Covid-19-pandemie het die onsekerheid dit letterlik laat voel asof alles (en almal) tot ʼn stilstand gekom het. Terugskouend sien ons egter dat mense daardie onsekere tyd gebruik het om vindingryk in hulself te belê en dat diesulkes hulle doelgerig beter in die arbeidsmark geposisioneer het.

ʼn Belegging in naskoolse studie verskil fundamenteel van ander tipe beleggings, omdat dit nie aan markskommelinge onderhewig is nie – dit is ʼn belegging in jou eie vorming en professionele mondering. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is werkloosheid onder gegradueerdes beduidend laer as onder diegene daarsonder en daar is sterk bewyse dat ʼn gehaltekwalifikasie ʼn persoon se inkomstevermoë en loopbaanvooruitsigte daadwerklik bevorder.

Hoewel die korttermynvooruitsig soms onseker en selfs onstabiel voorkom, bly die langtermynwaarde van naskoolse studie beduidend konsekwent. Onsekerheid kom en gaan, maar die kennis, vaardighede en vorming wat ʼn kwalifikasie tot gevolg het, sal jou ʼn leeftyd bybly.

Hoe belangrik is vooruitbeplanning as dit kom by die befondsing van naskoolse studie?

Vooruitbeplanning speel ʼn deurslaggewende rol wanneer dit by die bekostigbaarheid van naskoolse studie kom. Hoër onderwys is wêreldwyd duur, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Gedagtig hieraan behoort die fokus nie nét te wees op hoe om met naskoolse studie te begin nie, maar óók op hoe om die studie suksesvol binne die toelaatbare tyd te voltooi.

ʼn Algemene fout is om net vir die eerste of tweede jaar van studie te beplan. Wanneer finansiële druk later intree, word studie in hierdie geval soms noodgedwonge onderbreek. Die gevolg is dat geld belê is in ʼn onvoltooide program, sonder dat die volle opbrengs daarvan gerealiseer kan word.

Goeie vooruitbeplanning beteken ook realistiese besluitneming. Waar inkomste stabiel is, kan selfbefondsing ʼn opsie wees. Waar inkomste egter wisselvallig of onseker is, kan ʼn gestruktureerde studielening stabiliteit en voorspelbaarheid bied. Die doel is om ʼn balans te vind: Moenie jou huidige finansiële posisie oorlaai nie, maar ook nie jou toekomsbelegging onnodig uitstel nie.

Hoe kan daar nou reeds vir naskoolse studie in 2027 voorsiening gemaak word?

Selfs al is daar nog nie formeel vir naskoolse studie voorsiening gemaak nie, is dit geensins te laat om verantwoordelik te begin beplan nie. Die eerste stap is om inligting te versamel oor die verskillende befondsingsopsies wat beskikbaar is – van studielenings tot ander finansiële oplossings.

Dit is ook belangrik om na die beskikbare onderrigleermodelle self te kyk. Die tradisionele voltydse kampusmodel is nie vir almal geskik nie. Vandag is daar toenemend geleenthede om te studeer terwyl jy voltyds werk. Akademia se nauurse afstandsmodel is ʼn wesenlike oplossing vir diegene wat reeds in die werksplek gevestig is, óf ander belangstellings nastreef. Om nauurs oor afstand te studeer verg wel selfdissipline, deeglike beplanning en konsekwente prioritisering, maar dit bied ook waardevolle voordele. Hierdie voordele sluit onder meer in:

  • Die geleentheid om waardevolle werkservaring op te doen.
  • ʼn Praktiese verdieping en belewenis tussen teorie en praktyk.
  • Die daarstelling van ʼn groter gevoel van verantwoordelikheid teenoor akademiese prestasie.
  • ʼn Geleentheid om ʼn salaris te verdien en só tot jou naskoolse studieonkoste by te dra.

Nóg ʼn manier om as ʼn werkende student die befondsing van jou studie te vergemaklik, is om jou gekose modules oor ʼn tydperk te versprei. Op dié manier betaal jy slegs vir die modules wat jy neem. In praktyk sal dit byvoorbeeld beteken dat as jy drie modules neem, teen R7 000 per module, jy slegs R21 000 vir die jaar sal betaal in stede van die volledige programkoste van byvoorbeeld R62 000. Op die lange duur kos jou studie dalk ʼn rapsie meer as gevolg van jaarlikse inflasie, maar dit bring onmiddellike finansiële verligting én laat ʼn student toe om daadwerklik stukrag aan sy/haar studiedroom te gee.

Verder is dit sinvol om vroeg reeds ʼn eenvoudige, realistiese begroting op te stel en oop gesprekke binne die gesin te voer oor verwagtinge en prioriteite. Hoe vroeër hierdie aangeleenthede duidelik is, hoe makliker is dit om die nuwe studiehoofstuk doelgerig te bestuur.

Wat is van die mees algemene finansiële foute wat mense maak as dit kom by naskoolse studieonkoste?

Een van die mees algemene foute wat mense maak, is om die koste van naskoolse studie te onderskat deur slegs op klasgelde te fokus. In werklikheid is klasgelde net een deel van die totale prentjie. Uitgawes soos handboeke, verblyf, kos, vervoer en ander daaglikse koste dra beduidend by tot die werklike studieuitgawe.

Nóg ʼn fout is om té optimisties te begroot sonder om voorsiening te maak vir onverwagte uitgawes. Wanneer iets dan nie volgens plan verloop nie, plaas dit studente en hul ouers onder onnodige finansiële druk. ʼn Meer konserwatiewe benadering, waar die volle omvang van die studiereis in ag geneem word, plaas mense in ʼn baie sterker posisie. Dit verhoog die kans om studie suksesvol te voltooi en om werklik die opbrengs op hierdie belangrike belegging in jou toekoms te ervaar.

Watter finansieringsopsies bied Akademia aan voornemende studente?

Voornemende studente en hul ouers kan van die volgende finansieringsopsies gebruik maak:

Die instelling se betalingsplanne is veelsydig en bied aan jou die geleentheid om studiegelde op ʼn aanpasbare manier af te betaal. Hierdie opsies is van toepassing op beide die voltydse kampusmodel én die nauurse afstandsmodel.

Binne hierdie konteks, kan jy die volgende keuses uitoefen:

  • ʼn Volledige eenmalige betaling aan die begin van die jaar; of
  • Paaiemente wat oor die bestek van die akademiese jaar versprei word.
  • Merietebeurse vir 2026-matrikulante

Hierdie akademiese beurse word outomaties aan studente toegeken wat direk ná graad 12 hul studie begin en vir drie- of vierjaarbaccalaureusgrade geregistreer is. Die merietebeurse strek tot ʼn maksimum van R50 000 per student, en kan slegs as koshuisfooie of studiegelde gebruik word. B’s en V’s geld. Vir meer inligting hieroor, besoek Akademia se webblad.

Tydens jou studieaansoek by Akademia kan jy reeds aandui dat jy finansiële ondersteuning benodig. Indien jy ʼn verdienstige voornemende student is, maar nie vir die Konnek-studielening kwalifiseer nie, sal jy outomaties na die Solidariteit Helpende Hand Studietrust verwys word. Die Helpende Hand Studietrust bied rentevrye lenings aan verdienstelike studente.

Akademia is ʼn studietuiste wat nie nét jou akademiese groei ondersteun nie, maar ook aan studente die nodige boublokke voorsien om vorming én uitnemendheid moontlik te maak. Moenie huiwer nie – gebruik die bogenoemde finansieringsopsies om die pad na jou toekoms te baan.

Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is reeds oop.

Danie Jansen van Vuuren, hoof: Finansies en Infrastruktuur by Akademia meen naskoolse studie maak steeds sin, desondanks die realiteit van ekonomiese druk, geopolitieke onsekerheid en ʼn brose arbeidsmark.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.