PERSONEEL
Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.
DEKAAN

Prof. Danie Goosen
DTh (Teologie)
Waarnemende dekaan:
Fakulteit Geesteswetenskappe
Prof. Danie Goosen studeer ekonomie, klassieke tale, teologie en filosofie aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy voltooi die grade BCom, BA, BAHons (Wysbegeerte), BD en DTh.
Tydens sy studie is Goosen onder meer ʼn navorsingsassistent in die Departement Grieks aan die Universiteit van Pretoria. Hy voltooi sy proefskrif getiteld “Nietzsche en die verwondering” in die Departement Godsdienswetenskap aan Unisa. In dié tyd word hy ook as dosent in dieselfde departement aangestel, waar hy in 2008 tot volle professor bevorder word. In hierdie departement is hy veral verantwoordelik vir kursusse in die filosofie van die godsdiens. Goosen bied ook vir etlike jare lesings oor die filosofie van die argitektuur in UP se Departement Argitektuur aan, sowel as ʼn kursus oor die moderne ervaring van skaarste in die Departement Filosofie aan dieselfde universiteit.
Goosen is lid van verskeie akademiese verenigings, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy navorsing fokus op die Westerse metafisiese denke, die teologies-politieke probleem, die modernisme en postmodernisme as idee-historiese verskynsels, asook die godsdiens- en politiekfilosofiese vrae van ons tyd.
Goosen hou ʼn verskeidenheid lesings in die binne- en die buiteland. Tegelyk publiseer hy ook ʼn wye verskeidenheid van wetenskaplike en populêre artikels in ʼn veelheid van media, waaronder die omvangryke Die Nihilisme (2007), oor die geestelik-kulturele problematiek van ons tyd. In 2015 publiseer hy ʼn politiek-filosofiese werk, Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae (2015). Hy skryf tans aan ʼn werk oor die moderne konserwatiewe gedagte.
Prof. Goosen is vanaf 2004 die voorsitter van die direksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hy is ʼn direksielid van AfriForum, die burgerregte-organisasie van die Solidariteit Beweging, asook ʼn lid van die direksie van Akademia.
DEPARTEMENTSHOOFDE

Alida Kok
BAHons (Internasionale Verhoudinge)
Departementshoof:
Sosiale Wetenskappe
Vakhoof: Politiek
Alida Kok het meer as tien jaar ervaring in die dosering van Politieke Wetenskap en was vantevore werksaam as dosent by die Universiteit van Pretoria (UP) en Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy het ook voorheen as bestuurder, navorser en ontleder in die nieregerings- en privaat sektor, en as ʼn adjunk- en waarnemende direkteur vir die internasionale samewerkingsprogram by die nasionale regering se Departement van Wetenskap en Tegnologie gewerk. Kok lewer gereeld kommentaar in die media oor Suid-Afrikaanse politiek en is sedert 2016 ʼn rubriekskrywer vir Beeld. Haar rubriek verskyn sedert 2020 ook in Die Burger. Hierin ontleed sy graag temas wat met die desentralisering van regeringsmag, die hervorming van die staat en politieke omwenteling verband hou. Sy het haar voorgraadse en honneursstudies (cum laude) in Politieke Wetenskap, met spesialisering in Internasionale Verhoudinge, by UP voltooi. Haar meestersgraad, wat sy tans voltooi, is ʼn kritiese bespreking van die openbare sfeer en handeling in die politieke teorie van Hannah Arendt waarin sy poog om handeling – of ‘politieke aksie’ – weer terug in verhouding met die huis te plaas. Sy fokus ook, in ander navorsing, op die verhouding tussen die desentralisering en sentralisering van regeringsmag, multivlakregeerkunde en die opkoms van kleiner invloedsfere.

Dr. Alé Steyn
PhD (Kommunikasiestudies)
Departementshoof:
Tale en Kultuurwetenskappe
Programkoördineerder:
BA (Taalstudies) en BAHons (Media en Kommunikasie)
Dr. Alé Steyn is die departementshoof vir Tale en Kultuurwetenskappe. Sy het haar meesters- en doktorsgraad in Kommunikasiestudies (met spesialisering in Joernalistiek) aan die Noordwes-Universiteit verwerf en honneurs- en meestersgrade in Engelse Letterkunde aan onderskeidelik die Universiteit van die Vrystaat en Kaapstad voltooi. Sy verwerf ook ʼn sertifikaat in teksredigering van die Universiteit van Kaapstad. Steyn het meer as tien jaar se ervaring as onder meer subredakteur, bladuitlegkunstenaar, joernalis, nuus- en inhoudsredakteur, manuskripontwikkelaar, teksredigeerder en media- en reklamepraktisyn. Sy was voorheen senior dosent in Joernalistiek en Korporatiewe Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, waar sy erkenning ontvang het vir haar uitnemende en innoverende onderrig. Haar navorsing is by plaaslike en internasionale kongresse voorgelê en sy het al etlike gaslesings by universiteite in die buiteland aangebied.
Departement Sosiale Wetenskappe

Pierre Muller
MPhil (Filosofie)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe
Vakhoof:
Filosofie
Pierre Muller is ʼn dosent in Politieke Filosofie en die Kuns van Argumentering by Akademia. Hy het ʼn BTh-graad in Bybelse Tale, asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Filosofie aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy navorsingsfokus is op die verhouding tussen ons begrip van vrye wil en wetenskapsfilosofie. Muller lewer akademiese aanbiedings op beide nasionale en internasionale vlak. Hy was as afrigter, beoordelaar en spreker by universiteitsdebat betrokke, en het die Noordwes-Universiteit, en later Suid-Afrika, by die 2019-wêreldkampioenskappe van die Universiteitswêrelddebat verteenwoordig. Hy was voorheen as deeltydse dosent aan die Noordwes-Universiteit verbonde by die Skool vir Filosofie, en as deeltydse dosent en nagraadse assessor in die Fakulteit Teologie.

Jean-Jacques Boshoff
BAHons (Internasionale Verhoudinge)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe
Programkoördineerder:
BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
Jean-Jacques Boshoff is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy is tans besig met die voltooiing van ʼn meestersverhandeling in politieke wetenskappe. Boshoff het agt jaar se ervaring in die dosering van politieke wetenskappe, en was voorheen verbonde aan UP en Unisa. Boshoff se navorsingsfokus is politieke bemarking en Afrika-politiek. Sy mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn artikel oor die verskynsel van negatiewe verkiesingsveldtogte gedurende die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing van 2014. Hy het ook as politieke konsultant by verskeie nieregeringsorganisasies gewerk.

Rentia Pretorius
MA (Staatsleer)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe
Vakhoof:
Globale Politiek
Rentia Pretorius is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneursgraad in Politieke Wetenskappe, ʼn Nagraadse Hoër Diploma in Biblioteekkunde en ʼn meestersgraad in Politiek aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Pretorius se navorsingsfokus is Afrika-politiek, demokratisering en internasionale verhoudinge. Haar mees onlangse gepubliseerde werke is ʼn artikel in die vaktydskrif Studia Universitatis Babes-Boloyai: Studia Europaea se spesiale uitgawe oor internasionale betrekking in Afrika (2019). Sy was vir meer as 30 jaar ʼn dosent in Politiek en Internasionale Verhoudinge aan die Universiteit van Pretoria.

Thinus Malan
BAHons (Filosofie)
Dosent:
Sosiale Wetenskappe

Prof. Pieter Labuschagne
DPhil en LLD
Deeltydse dosent:
Sosiale Wetenskappe
Pieter Labuschagne is ʼn kontrakaanstelling in vakgebied Politieke Wetenskappe (GPOLI150) by Akademia.
Labuschagne is ʼn vol professor in Politieke Wetenskappe en het die grade BAHons (cum laude), MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal. Hy het ook die LLB-, LLM- en LLD-grade aan Unisa behaal.
Labuschagne was twaalf jaar geskiedenisonderwyser en daarna dertig jaar lank dosent by die Departement Politieke Wetenskappe (Unisa) – die laaste vyf jaar as departementshoof. Hy het ook as gasdosent klas by die Universiteit van Pretoria (UP) en die Verdedigingskollege gegee.
Wat navorsing betref het 73 vollengte vakwetenskaplike artikels by geakkrediteerde vaktydskrifte uit sy pen verskyn, asook een boek en twaalf hoofstukke in boeke. Vir sy navorsing by Unisa is hy op die Accelerated Performance Excellence-program geplaas.
Departement Tale en Kultuurwetenskappe

Dr. André Gouws
PhD (Joernalistiek)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Gouws is ʼn ervare joernalis en akademikus. Gouws is sedert 2017 in die akademie. Hy het van 2017 tot 2018 Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoseer, en van 2019 tot 2022 Joernalistiek en Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Gouws het in 2025 ’n PhD in Joernalistiek aan die Stellenbosch Universiteit verwerf. Hy het in 2018 ’n MA-graad in Joernalistiek en Mediastudies (met lof) aan die Rhodes-Universiteit verwerf, en in 1993 ’n BA-graad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg.
Gouws is op 1 Maart 2023 as buitengewone navorser in die Skool vir Kommunikasie by NWU se Potchefstroomkampus aangewys. In 2022 die uitnemende onderrigtoekenning van Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Geesteswetenskappe vir onderrig in die Skool vir Kommunikasie ontvang, en in 2021 die uitnemende onderrigtoekenning van NWU vir die gebruik van inligtingstegnologie in onderrig. Hy was in 2021 en 2022 NWU-genoot vir oop onderrig.
Gouws doen navorsing oor digitale media en visuele kommunikasie, asook joernalistiekonderrig. Hy het verskeie referate oor sy navorsing gelewer op plaaslike en internasionale konferensies, en het in 2022 en 2024 akademiese boekhoofstukke oor joernalistiekonderrig gepubliseer.
Gouws was meer as twee dekades lank verbonde aan verskillende media-instellings, waaronder Beeld, Die Burger en Grafika24, Media24 se infografika-afdeling. Hy was die stigtersredakteur van Grafika24, en het ook verskeie ander redakteursposisies gevul, insluitend nagredakteur en hoofsubredakteur van Die Burger. Hy is sedert 2023 die publieke verteenwoordiger vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) op die Persraad van Suid-Afrika. Hy is sedert 2023 lid van die uitvoerende komitee van SACOMM, die Suid-Afrikaanse kommunikasievereniging wat kommunikasiedepartemente aan hoëronderwysinstellings verteenwoordig.

Dr. Annerie Geyer
DPhil (Kommunikasiebestuur)
Senior dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Dr. Annerie Geyer is ʼn Kommunikasie-dosent by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneurs-, meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Kommunikasiebestuur) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit en Universiteit van Pretoria verwerf. Geyer se navorsingsfokus is organisasiekommunikasie, met spesifieke fokus op verhoudingsbestuur en werknemerbetrokkenheid. Haar mees onlangse werk is ʼn referaat wat handel oor werknemerbetrokkenheid by die Internasionale Navorsingsimposium vir Openbare Betrekkinge (BledCom). Sy het vier jaar as kommunikasiekonsultant gepraktiseer en doseer reeds agt jaar in kommunikasie.

DJ Cloete
MA (Algemene Taal- en Literatuurwetenskap)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
DJ Cloete is ʼn dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia en het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. Cloete het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie was hy was ʼn lektor in taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getitel Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). Cloete se navorsingbelangstellings is Variasietaalkunde en Rekenaargesteunde taalonderrig.

Dr. Hélanie Jonker
PhD (Kommunikasiestudies)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Dr. Hélanie Jonker is ’n dosent in Kommunikasiebestuur by Akademia en het ’n B-graad in Bedryfskommunikasie asook ’n meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Ontwikkelingskommunikasie) aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het reeds meer as twee dekades gelede haar loopbaan begin en het werkservaring as kommunikasiepraktisyn en projekbestuurder in die hoër onderwys en organisasies sonder winsoogmerk. Die afgelope sewe jaar het sy gewerk as vryskut- akademiese kursusinhoudskrywer en dosent by verskeie private hoëronderwysinstellings. Jonker se navorsingsfokus is ontwikkelingskommunikasie, asook organisasiekommunikasie. Sy is ’n bydraende skrywer van die handboek, getiteld “Developing Soft Skills for Success: A guide for modern professionals” (Uitgewer: Van Schaik) waarin sy die hoofstuk oor professionele kommunikasievaardighede geskryf het.

Karien Brits
MA (Setswana)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Karien Brits is ʼn dosent in Sepedi en Taalpraktyk en het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Brits se navorsingsfokus is meertaligheid en taalbeplanning, maar sy stel ook belang in taalaanleer, morfologie (Sothotale), taaltegnologie en onomastiek. Akademiese toekennings sluit in die beste honneursstudent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte op die Potchefstroomkampus van die NWU Sy is al vir twee dekades in die hoër onderwys betrokke en was werksaam by die NWU, die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan (Pole) asook die Universiteit van Johannesburg (UJ).

Landi Slatter
MA (Kommunikasie)
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Landi Slatter is ’n dosent in Joernalistiek by Akademia en het ’n BA-graad in Kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus verwerf, asook haar BA Honneurs (met spesialisering in Joernalistiek) en meestersgraad (in kommunikasiestudies met spesialisering in Joernalistiek) cum laude aan dieselfde universiteit. Slatter het haar loopbaan by Maroela Media begin en later by Rapport se nuuskantoor in Pretoria aangesluit as algemene joernalis; sy het ook die onderwysbeat gedek en in hierdie hoedanigheid as gas opgetree by radiostasies en Facebook Live-paneelgesprekke. Sy is steeds ’n vryskutjoernalis en tree weekliks as radiogas op om plaaslike nuusaangeleenthede te bespreek.

Dr. Rilette Swanepoel
PhD (Engels)
Senior dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Dr. Rilette Swanepoel is ʼn dosent in Engels en Literatuurteorie by Akademia. Sy verwerf ʼn doktors- en ʼn meestersgraad in Engelse letterkunde aan Noordwes-Universiteit asook ʼn honneursgraad en ʼn BA-graad, albei cum laude, aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Swanepoel se navorsingsfokus is postmoderne Engelse letterkunde, ʼn veld waarin sy gereeld publiseer. Haar mees onlangse artikel is gepubliseer in die internasionaal geakkrediteerde tydskrif Safundi. Swanepoel het kongresreferate gelewer in Italië, Ierland, Pole, Griekeland, Skotland en plaaslik in Suid-Afrika. Sy verwerf in 2018 ʼn Y2-gradering van die National Research Foundation (vroeër: Nasionale Navorsingstigting) en in 2024 ʼn C3-gradering.

Yolandi Groenewald
Baccalaureus in Bedryfskommunikasie
Dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Yolandi Groenewald is ʼn gesoute en bekroonde omgewings- en sakejoernalis met twintig jaar se ervaring in die mediabedryf. Sy het haar loopbaan by die Mail & Guardian begin en later by Rapport en City Press aangesluit. Groenewald was ook die burohoof by Fin24 en het vir onder meer Vrye Weekblad en talle internasionale publikasies geskryf. Yolandi het kommunikasie en joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer.

Lucia Poolman
BAHons (Afrikaanse Taalwetenskap)
Junior dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Lucia Poolman het ʼn BA-graad in Tale met spesialisering in Joernalistiek aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf, asook honneursgraad in Afrikaanse Taalkunde deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Poolman het haar loopbaan by Beeld begin, en het by verskeie publikasies gewerk, onder meer as redakteur van die destydse tvplus. As vryskutjoernalis en kommunikasiebeampte het sy al iets van alles gedoen, van skryf tot openbare skakeling, bemarking, die samestelling van Beeld in die nagkantoor en ook TV-programme gemaak. Sy skryf steeds vir Huisgenoot en doen navorsing vir TV-reekse.

Angelika Johannes
MA (Duits)
Deeltydse dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Angelika Johannes is ʼn deeltydse dosent in Duits by Akademia. Sy verwerf ʼn binasionale meestersgraad aan die Universiteit Leipzig, Duitsland, asook aan die Universiteit Stellenbosch, albei cum laude. Sy verwerf ook haar NGOS, honneurs- en BA-graad aan die Universiteit van Pretoria.

Mia-Louise Nel
MA (Frans)
Deeltydse dosent:
Tale en Kultuurwetenskappe
Mia-Louise Nel is ʼn deeltydse dosent in Frans by Akademia en is passievol oor die onderrig van hierdie taal op hoërskool- en tersiêre vlak. Sy het twee MA-grade (Université Lumière-Lyon-II (Lyon II) en Universiteit van Kaapstad (UK)) en ʼn honneursgraad (Universiteit van Pretoria (UP)) in hierdie dissipline verwerf. Sy slaag beide haar BA-graad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en NGOS-diploma by die AP Akademie met lof. Sy is tans ʼn voltydse onderwyser.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE