Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

2021-toppresteerder in finansiële beplanning vertel oor Akademia-studiereis

Gepubliseer op: 12 Julie 2022

Akademia se 2021-toppresteerder in die BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie, Natasja Jansen, gesels oor haar ondervinding as nauurse student by dié instelling.

Jansen, oorspronklik van Bloemfontein af, is van jongs af blootgestel aan die finansiële bedryf aangesien haar pa ʼn finansiële adviseur is. “Ek was bevoorreg om op so ʼn jong ouderdom te weet dat my absolute passie mense en beplanning was, en wat is beter as om beide te doen en ʼn finansiële adviseur te word,” vertel sy. Sy het in haar heel eerste konsultasie gesit gedurende skaduwerk toe sy nog op hoërskool was. “Ek was toe seker dat ek dit vir die res van my lewe wil doen.”

Ná skool het sy voltyds as ʼn administratiewe sekretaresse gewerk terwyl sy haar kwalifikasie in Finansiële Beplanning by Akademia voltooi het. Jansen wou graag BCom (Finansiële Beplanning) studeer omdat die kwalifikasie kyk na al die verskillende velde van welvaart en risikobestuur. “Die kwalifikasie is breedvoerig en maak dit vir jou as jong adviseur moontlik om op verskillende vlakke kennis op te doen en verder te kan studeer,” sê sy.

Akademia se nauurse onderrigleermodel maak dit ook moontlik vir studente soos sy wat BCom (Finansiële Beplanning) studeer, om haar twee jaar toepaslike werkservaring te kan opdoen, terwyl sy studeer en haar pad na ʼn professionele loopbaan versnel. “Die feit dat Akademia vir studente die geleentheid bied om te studeer en te werk het definitief my aandag gevang, en is een van die hoofredes hoekom ek toe by Akademia aansoek gedoen het.”

Die feit dat sy dié kwalifikasie in haar moedertaal kon voltooi, was net nog ʼn bonus vir Jansen. “Ek het gewroeg tussen verskeie universiteite in my tuisdorp en Akademia het dit vir my moontlik gemaak om ʼn vrye keuse te maak om in Afrikaans vanaf enige plek ter wêreld te studeer.”

“Omdat die program van Akademia goedgekeur is deur die Finansiële Beplanningsinstituut van Suider-Afrika (FPI-akkreditasie) bevestig dit weereens dat Akademia hoogstaande opleiding bied,” sê sy. Met dié kwalifikasie voldoen sy ook aan die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor se FAIS-wetlike vereistes.

Jansen werk tans by Old Mutual in Bloemfontein as ʼn finansiële adviseur ná sy haar graad in 2021 met lof geslaag het. Sy is ook tans besig met haar nagraadse kwalifikasie in Finansiële Beplanning by die Universiteit van die Vrystaat. Sy vertel dat haar kwalifikasie by Akademia en die praktiese ondervinding wat dié kwalifikasie haar gebied het, dit vir haar moontlik maak het om vandag ʼn radikale verskil in haar kliënte se lewens te maak.

“Akademia het gehelp om my loopbaan as finansiële adviseur op die regte fondasie te bou en het my ʼn voorsprong op my kollegas in my bedryf gegee,” sê sy. “Deur BCom (Finansiële Beplanning) te studeer het ek die voordeel om op ʼn jong ouderdom my toekoms te kan beplan deur wetgewing tot my voordeel te gebruik en die groot prentjie van die finansiële wêreld te verstaan. Jy leer maniere om jou welvaart te bestuur sodat jy optimale groei en kostebesparings kan handhaaf,” vertel sy.

Sy beveel ʼn beroep in die rigting met selfvertroue aan. “ʼn Beroep in finansiële beplanning is nooit vervelig nie en dit is ʼn opwindende veld waar geen kliënt se omstandighede dieselfde is nie. Hierdie kwalifikasie bied jou die prosesse en kennis om elke kliënt met die beste finansiële en wetlike aspekte te kan help deur goeie beplanning,” vertel Jansen.

Jansen is bly dat sy by Akademia studeer het. “Jy besef eers watter groot voorsprong Akademia vir jou bied wanneer jy aansoek doen vir werk in jou betrokke en gekose beroepsveld,” sluit sy af.

Akademia wens haar die beste toe met haar loopbaanreis en hou haar toekoms met blink oë dop.

Indien jy ʼn loopbaan as finansiële adviseur of batebestuurder wil volg of bloot meer wil leer oor hoe om finansies suksesvol te bestuur, is die BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie by Akademia ideaal vir jou. Klik gerus hier vir meer inligting. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop.

Natasja Jansen is ʼn passievolle alumnus van Akademia en ook die 2021-toppresteerder van die BCom (Finansiële Beplanning)-klas.