Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Oorwegings vir wanneer jy ʼn huis wil koop

Gepubliseer op: 12 Julie 2022

Geskryf deur Monique Brasler, deeltydse dosent in Finansiële Beplanning by Akademia.

Mens kom op die punt dat jy moeg is vir huur en jou eie huis wil koop. Wanneer rentekoerse laag is, is mens in die versoeking om dalk ʼn plek te koop wat effens buite die begroting val. Hier is ʼn paar wenke wat sal voorkom dat die toename in rentekoerse jou nie onverhoeds vang nie:

  1. Bou altyd ʼn bietjie ekstra vet in – Wanneer jy jou somme maak om te kyk hoeveel jy kan bekostig, kan jy jouself baie spanning spaar deur ʼn bietjie vet in die berekening in te bou. Byvoorbeeld, indien jy skat dat die bank vir jou ʼn koers van 8% sal aanbied, werk dalk 1,5% tot 2% by om veilig te wees.
  2. Verbandregistrasie en oordragkostes – Die verbandregistrasie en prokureurskoste is nie iets waarvoor mens altyd beplan nie, en dit is partykeer meer as waarvoor begroot is. Jy wil nie noodwendig ʼn persoonlike lening teen ʼn hoë rentekoers uitneem om dit te dek nie. Dit maak dalk sin om bietjie langer te huur om hierdie bedrag te kan spaar.
  3. Ander maandelikse kostes – Wanneer jy jou somme maak, moet die volgende ook by die verbandpaaiement getel word om te verseker dat jy dit kan bekostig:
  • Addisionele versekering
  • Eiendomsbelasting
  • Heffings
  • Gereelde onderhoud

 

Dit is altyd opwindend om mens se eie huis te hê, maar dit is belangrik om die kat mooi uit die boom te kyk en die voordele en nadele van eiendomsbesit te oorweeg. Die bekende gesegde lui dat trou nie perdekoop is nie, maar net so is die koop van eiendom ook nie perdekoop nie.

Monique Brasler is ʼn deeltydse Akademia-dosent in Finansiële Beplanning.