Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Yelana Benade: ʼn Fontie van vele talente

6 Oktober 2023

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

Yelana Benade kan mens nie net betower met haar stem nie, maar beïndruk mense gereeld deur haar styl en ander talente. Sy is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-eerstejaarstudent aan Akademia en haar besigheid, Bloudraad, het ongeveer drie jaar gelede as ʼn stokperdjie begin.

In haar besigheid maak sy stylvolle klere en leerprodukte. Sy het vir haarself hierdie produkte begin maak. Mense het egter belanggestel om dit te koop en só is Bloudraad ontwikkel. Benade het haar inspirasie vir kleremaak gevind nadat sy haarself vervies het vir die klere-industrie. Die klere het nooit lekker gesit nie, so toe begin sy om haar eie klere te maak. Sy voel dat die industrie die integriteit van klere weggevat het. Sy wil graag die trots en integriteit in haar klerekas terugsit. Sy sê dat selfgemaakte items vol trots is. Sy jaag ʼn styl na wat sy nie in die winkels kon vind nie en daarom het sy haar vaardighede gebruik om hierdie styl te bewaarheid. Sy sê dat sy graag haar vaardighede met ander wil deel.

Nie net kan sy sing, klere en leerprodukte maak nie, maar sy geniet dit ook om te verf. Haar tuiste is op die plaas waar sy dit geniet om tuin te maak. Hulle het ʼn groot groentetuin en is besig om ʼn vrugteboord op te sit. Wanneer sy nie haar kreatiwiteit in die natuur stimuleer nie, sal jy haar neus in ʼn boek vind.

Haar raad aan jong entrepreneurs is eenvoudig: “Doen dit net”. Sy moedig entrepreneurs aan om met hul kliënte te gesels – “mense soek opregtheid”. “Sê my wat jy wil hê, ek weet nog nie of ek dit sal kan regkry nie. Ek sal dit kan uitfigure,” sê sy. Haar laaste stukkie raad is om nie winsbejag te wees nie, maar eerder uniek.

Volg Yelana Benade se besigheid op Instagram waar navrae ook gerig kan word.

Yelana Benade is ʼn Fontie van vele talente.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.