Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Komplimente vir die Lente

6 Oktober 2023

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Die lang winter het uiteindelik tot ʼn einde gekom en lentebloeisels begin hul opwagting maak. Lente is hier: ʼn Spesiale seisoen wat nuwe hoop, hergeboorte en skoonheid simboliseer.

In Suid-Afrika word die koms van die lente jaarliks op 1 September gevier omdat ons September, Oktober en November as ons lentemaande beskou. Lentedag bring ʼn spesiale gevoel en baie mense voel ʼn onmiddellike behoefte om mooier as gewoonlik aan te trek. Winkels sal partykeer helder versierde pienk en blou kolwyntjies verkoop. In sommige winkels tooi kassiere hulleself met kleurvolle blomkrone, kopdoeke en serpe. Baie Suid-Afrikaanse skole reël ook ʼn loslitdag vir die leerders.

Die lentegees wat geskep word, veroorsaak dat mense meer geneig is om mekaar te komplimenteer en om hierdie rede beskou baie mense Lentedag ook as Komplimentedag. By Akademia het dit ʼn tradisie geword om Komplimentedag behoorlik te vier.

Komplimente is belangrik om verskeie redes. ʼn Kompliment kan gebruik word om iemand te laat weet hulle daaglikse moeite word wel deur iemand anders raakgesien en waardeer, soos ʼn werkopdrag of selfs die klere wat hulle vir die dag uitgekies het. Komplimente kan iemand se selfvertoue help bou en die geringste kompliment kan vir iemand op ʼn slegte dag daardie dag ʼn bietjie ophelder.

ʼn Kompliment wat ʼn persoon ontvang motiveer hulle weer om ander te komplimenteer en so hou hierdie positiewe siklus aan. Ironies genoeg is dit vir sommige mense moeilik om komplimente te aanvaar. Dink aan die kere wat jy al vir iemand gesê het dat hulle ʼn mooi hemp dra en hulle antwoord die volgende: “Dit is eintlik maar net ʼn ou hemp.” Net soos dit ʼn kuns is om vir iemand ʼn kompliment te gee, is dit ook ʼn kuns om ʼn kompliment te aanvaar. Hoe meer komplimente ons vir mekaar gee, hoe makliker dit sal word om komplimente te aanvaar.

Dit bly egter belangrik om wel eerlik met mekaar te wees wanneer ons mekaar komplimenteer. Dit is byvoorbeeld dalk beter om niks te sê nie, eerder as om vir Eskom te sê dat hulle die kragsituasie in die land goed bestuur.

ʼn Eerlike kompliment kan vir iemand baie beteken, veral as dit van ʼn vreemdeling af kom. So volgende keer as jy van iemand se hemp hou wanneer jy hulle in ʼn winkelsentrum of iewers anders raakloop, sê dit gerus vir hulle en maak hulle dag op daardie manier.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.