Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Leer die koshuisouers van die Leriba-koshuise beter ken

6 Oktober 2023

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

Die Dodds-egpaar het albei ʼn spesiale plek vir jongmense in hul harte en met die Hennops-manne is hulle hande altyd vol. By Huis Strelitzia is Karien Brits die koshuisouer wat dit geniet om te sien hoe studente ontwikkel, en sy wou nog altyd ʼn koshuismoeder wees. Hier is vyf vinnige feite sodat jy hulle beter kan leer ken:

Yolandé Dodds: Koshuisma by Huis Hennops

  1. Waarom wou jy ʼn koshuisouer wees?

Jongmense lê my nog altyd na aan die hart. Dit is so lekker om jongmense se uitkyk oor dinge te hoor – dit verander ʼn mens se perspektief heeltemal. Dis lekker om anders oor dinge te dink.

  1. Wat is jou stokperdjies?

Ek hou baie van koffie, en ek lees graag, of dit nou tydskrifte of ʼn lekker storieboek is. Niks te ernstig nie.

  1. Wat is jou gunstelingroomysgeur?

English toffee frozen-jogurt of enige geur met neute.

  1. Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

As die lewe jou suurlemoene gee maak limonade. Gelukkig het Leriba baie suurlemoene!

  1. Watter beroep volg jy terwyl jy die rol van koshuisouer vervul?

Ek is nog my lewe lank ʼn sekretaresse en het ʼn groot passie vir die beroep.

Tinus Dodds: Koshuispa by Huis Hennops

  1. Waarom wou jy ʼn koshuisouer wees?

Om Fonties te help en te ondersteun is vir my ʼn voorreg. Daar is niks lekkerder as om iemand te sien groei van ʼn bang eerstejaar af tot jong volwassene met kennis en vertroue nie.

  1. Wat is jou stokperdjies?

Ek PROBEER, maar die probeer is in hoofletters, om gholf te speel. Dit kom nie maklik vir my nie, maar dis lekker om te probeer.

  1. Wat is jou gunstelingroomysgeur?

Salted Caramel – die smake werk net vir my.

  1. Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

ʼn Halwe eier is beter as ʼn leë dop, dit is beter om deel van iets te wees as net niks nie.

  1. Watter beroep volg jy terwyl jy die rol van koshuisouer vervul?

Ek is nou reeds vyf jaar deel van Akademia se operasionele span.

Tinus en Yolandé Dodds, koshuisouers by Huis Hennops

Karien Brits: Koshuisma by Huis Strelitzia

  1. Waarom wou jy ʼn koshuisouer wees?

Dit is iets wat ek eintlik lankal wou doen – koshuisma wees. Ek is al oor die twintig jaar op een of ander manier by ʼn universiteit betrokke en dit is heerlik om studente se groei en ontwikkeling dop te hou. Nou het ek die geleentheid om hierdie pad met ʼn hele koshuis vol studentekinders te stap. Dit bly ʼn groot voorreg om met studente te mag werk. Ek het tot vandag toe nog kontak met my oudstudente in Pole – ek het al troues daar bygewoon en hulle kinders vasgehou.

  1. Watter is jou stokperdjies?

Ek is die mal “tannie” wat met haar fiets werk toe ry. My stokperdjie/sport is sommer my vervoer ook. Ek is ook altyd besig om die een of ander obskure taal aan te leer – ʼn mens weet nooit wanneer jy dit nodig gaan kry as jy iewers gaan reis nie. Ek skryf dan ook briewe aan my reistas (met die naam Koos) oor my reise in Suid-Afrika en elders.

  1. Wat is jou gunstelingroomysgeur?

Ek is baie lief vir die Italiaanse gelato. Spesifiek die mango- en waatlemoengeure. Ek sal my laaste Euro daarop uitgee.

  1. Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

Kom tyd kom raad. ʼn Mens het nie altyd dadelik al die antwoorde op moeilike omstandighede in die lewe nie. Soms moet ʼn mens geduldig wees en op die antwoord wag.

Die ander een is wat my ma altyd verdraai het. Oorspronklik: Van sit en staan kom niks gedaan. My ma se weergawe: Van sit en staan is lê die lekkerste!

  1. Watter beroep volg jy terwyl jy die rol as koshuisouer vervul? Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek is voltyds ʼn senior taalpraktisyn by Akademia sowel as ʼn deeltydse dosent in Sepedi in die Fakulteit Opvoedkunde.

Karien Brits, koshuisouer by Huis Strelitzia.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.