Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Wat is ʼn student?

6 Oktober 2023

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

ʼn Student is meer as net ʼn Burger King-ete tussendeur klasse, soveel meer as min slaap en baie take. ʼn Student is meer as iemand wat elke dag klasdraf en opsoek is na die balans tussen hul studies en hul studentelewe. Meer as iemand wat ry met ʼn petrolliggie wat al vir drie dae skyn of geskenkbewyse gebruik om ʼn koffie saam met vriende te drink. ʼn Student is meer as iemand wat betrokke is op kampus of op die laaste nippertjie hul taak klaarmaak, net voor middernag. Meer as iemand wat oor sommige naweke kuier asof daar nie ʼn môre is nie of iemand wat verkies om oor ander naweke negeuur in die bed te klim. ʼn Student is soveel meer.

ʼn Student is iemand wat aanpasbaar is en moeilike omstandighede in die oë kyk en glimlag. ʼn Student is iemand met hoop vir ons land se toekoms ten spyte van al die negatiewe nuus wat deur sosiale media versprei word. Iemand wat glo hulle kan ʼn verskil maak in hul omgewing en daarom meer kundig wil word in hul veld. ʼn Pionier wat wil leer en hul kennis wil gebruik om nuwe dinge te ontdek wat nie net ons land sal bevoordeel nie, maar die hele wêreld. ʼn Student gryp enige geleentheid aan sodat hul voorbereid kan wees om hul toekoms by die horings te pak. ʼn Student dink kreatief en los probleme op wat vir die res van die mense onmoontlik gelyk het.

ʼn Student het nie ʼn eindbestemming nie maar omhels eerder die proses van ontwikkeling en vorming van ʼn individu tot hul selfaktualisering kan bereik. Om ʼn student te wees, is nie gekoppel aan ouderdom nie en nog minder aan sekere karaktereienskappe. Om ʼn student te wees, is ʼn houding wat aangeneem moet word, ʼn houding van aanpasbaarheid – iemand wat kies om te lag in moeilike omstandighede, en wie nie geloof en hoop verloor nie. ʼn Student het ʼn houding van kundigheid, pionierskap, kreatiwiteit en die benutting van geleenthede. ʼn Student is ʼn uitsonderlike en asemrowende spesie wat die toekoms van ons land is en die toekoms van ons wêreld in hul hande hou.

Om ʼn Akademia-student te wees, is ʼn groot voorreg. ʼn Akademia-student is ʼn pionier, ʼn rentmeester en verbonde aan sy of haar gemeenskap. Ons het geloof, hoop en liefde in ons rugsak, en die strewe na wysheid en kennis in ons hart. Dit is ʼn fees om ʼn Fontie te wees!

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.