Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Ons gaan nóú braai!

6 Oktober 2023

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

Met ʼn vleisie op die kole, tamaties wat vir braaibroodjies gesny word, kinders wat giggelend rondhardloop en volwassenes wat gesellig by die vuur sit, word Erfenisdag, oftewel Braaidag, jaarliks gevier. Nasionale Braaidag word jaarliks op 24 September gehou, waar ons almal in eenheid saam Suid-Afrikanerwees kan vier.

Tradisies vorm die hart van Erfenisdag en dis juis daarom dat Suid-Afrikaners braai op hierdie spesifieke dag. Elke Suid-Afrikaner ken die bekende sêding: “Nou gaan ons braai”. Hoe kan mens dan nou anders as om op hierdie dag waar tradisies gevier word, ʼn vleisie op die kole te gooi en ʼn gesellige atmosfeer te geniet.

Fonties gesels saam oor Erfenisdag:

“Erfenisdag is ʼn belangrike datum wat elke Suid-Afrikaner op hulle kalender aanteken, waar ons almal ons kulturele erfenis kan vier. Die dag gee vir ons kans om terug te kyk na ons verlede en waar ons vandaan kom, dit gee ons geleentheid om ons tradisies te eer en na te dink oor die waardes wat een en elkeen van ons vorm. Erfenisdag skep ʼn geleentheid waar ons mekaar se verskille kan vier en kan deel. Die dag speel vir my ʼn kardinale rol in die bewaring van kultuur, tradisies en geskiedenis. Ek weet dat Erfenisdag ʼn gevoel van trots in my kweek en skep ʼn gevoel van behoort en gemeenskap wanneer ek reflekteer oor my geskiedenis.” – Shani Prinsloo, BEd (Grondslagfase)-tweedejaarstudent.

“Wanneer ek aan die term tradisie dink verskyn ʼn kragtige kultuurverskynsel wat diepgewortel is in gemeenskappe dwarsoor die wêreld. Dit is vir my ʼn manier waarop mense hul erfenis kan bewaar en oordra aan die volgende generasies. Sulke tradisies wat mense dwarsoor die wêreld vier, verbind mense met hul verlede deur vierings te hou van ou gebruike, rituele en gewoontes om sodoende ʼn gevoel van verbondenheid en identiteit te skep vir sommige gemeenskappe.” – Leané Lambrechts, BEd (Grondslagfase)-tweedejaarstudent.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.