Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wenke hoe om skuld af te betaal

Geskryf deur Nicolene Steenkamp, programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning) by Akademia

Spaar is makliker gesê as gedaan. Waar moet ek begin spaar as ek soveel skuld het om af te betaal?

Soos dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Bestuur by Akademia, in ʼn vorige artikel vermeld het, het skuld in Suid-Afrika astronomies toegeneem en huishoudings is in die algemeen in die knyp. Onlangse navorsing toon dat ongeveer tien miljoen mense slegte skuld het, met meer as drie maande se agterstallige betalings. Skokkend genoeg toon die statistiek dat mense gemiddeld agt lenings het. Hul bestee meer as 70% van hul besteebare inkomste aan skuld wat terugbetaal moet word en verkeer dus in ʼn skuldstrik. Hierdie hartseer neiging het ná Covid-19 toegeneem met skuld-tot-inkomste-verhoudings van meer as 100%.

Skuld ontstaan wanneer mense meer geld gebruik om ʼn spesifieke lewensstandaard te handhaaf as wat hulle inkomste toelaat. Wanneer jy jou oë uitvee sit jy in ʼn skuldpandemie en weet nie hoe om daar uit te kom nie. Die groot nadeel van skuld is dat rentekoers ontsaglik hoog is.

Hier is ʼn paar wenke vir hoe om jou skuld onder beheer te kry:

1. Bepaal die omvang van jou skuld

Voordat jy jou skuld kan begin afbetaal moet jy weet hoeveel jy vir wie skuld. Om hierdie inligting op skrif voor jou te sien gaan jou help om jou volgende stappe te beplan.

Maak ʼn lys van die volgende:

  • jou krediteure (almal vir wie jy geld skuld);
  • hoeveel jy vir elkeen skuld;
  • die betaaldatum van die uitstaande paaiemente;
  • die rentekoers wat jy betaal; en
  • boetes vir betalings wat laat gemaak word.

 

Die onderstaande formaat kan jou help om hierdie te bepaal:

 

KrediteurTotale skuldBetaaldatumRentekoersBoetes
     
     

 

2. Stel doelwitte

Stel vir jou realistiese doelwitte soos: “Voor die einde van die jaar gaan ek een van my kredietkaarte se skuld afbetaal”. Deur doelwitte te stel gaan jy jouself motiveer om die skuld af te betaal. Skryf die doelwitte saam met jou totale skuld neer.

3. Bepaal jou alledaagse spandering

Stel vir jou ʼn maandelikse begroting op. Die doel van die begroting is tweeledig.

  1. Om vas te stel hoeveel jy kan bekostig om op jou skuld te spandeer.
  2. Waarop jy jou inkomste spandeer en waar jy moontlik kostes kan sny om eerder jou skuld af te betaal.

Indien jy onseker is oor wat alles in ʼn persoonlike begroting ingesluit moet word, kan jy hierdie begrotingstemplaat soos deur Akademia opgestel is gebruik.

4. Betaal die duurste skuld eerste af

Jy het reeds vasgestel watter rentekoers jy op jou skuld betaal. Betaal die skuld met die hoogste rentekoers eerste af. Kyk wat jy kan bekostig nadat jy jou persoonlike begroting opgestel het en betaal meer as die minimum paaiement af op die skuld met die hoogste rentekoers.

5. Moenie nog skuld maak nie

Moenie nog skuld maak voordat jy nie jou doelwitte bereik het nie. Los jou kredietkaart en klererekeningkaarte by die huis wanneer jy inkopies gaan doen. Stel jou krediet­kaart so dat jy nie oorplasings kan maak na jou spaarrekening nie.

6. Gebruik ekstra inkomste om skuld af te betaal

Wanneer jy ʼn ekstra inkomste verdien, gebruik dit om skuld af te betaal. As jy bevoorreg is om ʼn bonus of dertiende tjek by jou werkgewer te ontvang, gebruik dit om jou skuld af te betaal eerder as om iets te gaan koop.

7. Verander jou leefstyl en gewoontes

Een van die groot redes hoekom skuld ontstaan is om ʼn sekere lewensstandaard te handhaaf. Bepaal wat jy regtig nodig het en probeer afskaal op dit wat jy nie nodig het nie. Vra jouself af of dit regtig nodig is om elke dag op pad werk toe ʼn koffie te koop, of is dit regtig nodig om elke dag middagete te koop eerder as om vir jou middagete in te pak. Stel vas watter klein gewoontes jy kan verander sodat jy kan geld spaar.

8. Vergoed jouself

Beloon jouself wanneer jy jou doelwitte bereik het. Jy gaan meer gemotiveerd wees om jou skuld af te betaal wanneer jy nie daaraan dink as ʼn straf nie. Die enigste manier wat jy jou skuld gaan afbetaal is as jy aanhou met jou plan en gemotiveerd bly. Maak net seker jou beloning veroorsaak nie weer onnodige skuld nie.

Nicolene Steenkamp is die programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning) by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia.