Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Bespaar ouditfooie só hierdie Spaarmaand

Gepubliseer op: 7 Julie 2020

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in Ouditkunde en Belasting by Akademia

Die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (SASI) is ʼn onafhanklike organisasie sonder winsoogmerk wat toegespits is op die ontwikkeling van ʼn lewenskragtige besparingskultuur in Suid-Afrika. SASI loods jaarliks in Julie, wat bekend staan as ʼn Spaarmaand, ʼn bewusmakingsveldtog ter bevordering van besparingsgeletterdheid.

Ouditfooie weerspieël die billike waarde van die professionele dienste wat ouditeure aan hul kliënte bied. Dit is direk eweredig aan die grootte van die entiteit, kompleksiteit van die dienste gelewer, kundigheidsvlakke, tegniese insette en tydsbestek. Ingevolge die Maatskappywet 71 van 2008 is die ouditkomitee verantwoordelik vir die bepaling van ouditfooie. Insig rondom hierdie bepaling is kardinaal te midde van die korona-krisis se ekonomiese ontwrigting.

Hier volg vyf wenke ter besparing van ouditfooie:

1. Herbesin oor die noodsaaklikheid van ʼn statutêre oudit teenoor ʼn onafhanklike nasiening

Benewens publieke maatskappye en maatskappye in staatsbesit, moet entiteite wat bates ten bedrae van R5 miljoen (of meer) binne ʼn fidusiêre kapasiteit namens onverwante persone hou, geoudit word. Boonop moet sekere maatskappye sonder winsoogmerke wat deur die staat of ʼn staatsorgaan geïnkorporeer is, en enige ander maatskappye soos voorsien deur die puntestelsel van openbare belang, geoudit word.

Persoonlike aanspreeklikheid, privaat of sonder winsoogmerke maatskappye met ʼn telling van openbare belang minder as 100, of tussen 100 en 349 waar finansiële state onafhanklik saamgestel word, kan ʼn oudit vermy by wyse van ʼn aandeelhouersbesluit, die verwydering van ʼn statutêre ouditvoorskrif vanuit die akte van oprigting, ʼn direksiebesluit en onafhanklike nasiening van die finansiële state.

2. Herbesin oor die regstruktuur binne ʼn groepmaatskappy

Ingevolge die Maatskappywet 71 van 2008 moet ʼn groepmaatskappy jaarliks gekonsolideerde finansiële state (sogenaamde groepstate) opstel. Internasionale ouditstandaard 600 (ISA 600 Spesiale oorwegings – Oudits van gekonsolideerde finansiële state [Insluitende die werk van komponentouditeure]) vereis dat die ouditeur voldoende en toepaslike ouditbewyse aangaande die finansiële inligting van die groep se komponente tegelyk met die konsolidasieproses verkry, ten einde ʼn groep-ouditmening uit te spreek. Die ouditeur is verantwoordelik vir die identifisering van beide beduidende en onbeduidende groepkomponente. Hoewel die ouditeur beduidende komponente volledig oudit, word slegs analitiese prosedures op groepvlak vereis betreffende onbeduidende komponente. Die verhouding beduidende teenoor onbeduidende komponente in ʼn groep sal gevolglik die ouditfooi stuur.

3. Herbesin oor die rol van die interne ouditfunksie

Internasionale ouditstandaard 610 (ISA 610 Die gebruik van interne ouditeure) omskryf die voordele meegaande aan die eksterne ouditeur se vertroue in ʼn doelmatige en effektiewe interne ouditfunksie. Vertroue in die werk van hierdie funksie ter verkryging van ouditbewyse, of direkte bystand aan die eksterne ouditeur verleen deur interne ouditpersoneel, sal gevolglik lei tot ouditfooibesparings. Interne oudit is in gelid met interne kontroles, dus sal die ouditeur ook die bestaan en effektiewe funksionering van die funksie oorweeg te midde van die beoordeling van risiko’s van wesenlike wanvoorstelling.

4. Herbesin oor effektiewe interne kontroles

Internasionale ouditstandaard 330 (ISA 330 Die ouditeur se antwoord op identifiseerde risiko’s) stel dat ʼn effektiewe beheeromgewing vertroue in interne beheer, asook intern gegenereerde ouditbewyse vestig, terwyl tekortkominge in die beheeromgewing die teëgestelde uitwerking teweegbring. Die ouditeur reageer op ʼn ondoeltreffende beheermilieu met toenemende stawingsouditprosedures, wysigings tot die tydstelling van ouditprosedures en ʼn verhoogde ouditomvang. Benut deurlopende dataontleding ter monitering van die effektiewe funksionering van interne kontroles om ouditfooie te bespaar.

5. Herbesin oor voorbereiding vir die oudit

Finaliseer die konsep- finansiële state en berei ʼn omvattende analitiese oorsig voor aangaande die konsepstate alvorens die oudit aanvangs neem ten einde ouditfooie te bespaar.

Michelle Coetzee is ʼn dosent in beide Ouditkunde en Belasting.
Sy is ʼn geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester, SAICA-assessor en streeksondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Rekeningkundige Vereniging.

Bronne:

ISA 330. 1st ed. [ebook] International Standards on Auditing. Beskikbaar: <http://www.ifac.org/system/files/downloads/a019-2010-iaasb-handbook-isa-330.pdf> [Toegang verkry: 6 Julie 2020].

ISA 600. 1st ed. [ebook] International Standards on Auditing. Beskikbaar: <https://www.ifac.org/system/files/downloads/a033-2010-iaasb-handbook-isa-600.pdf> [Toegang verkry: 6 Julie 2020].

ISA 610. 1st ed. [ebook] International Standards on Auditing. Beskikbaar: <http://www.ifac.org/system/files/downloads/a034-2010-iaasb-handbook-isa-610.pdf> [Toegang verkry: 6 Julie 2020].

Suid-Afrika. 2008. Companies Act 71 of 2008. Beskikbaar: <https://www.saica.co.za/Portals/0/Technical/LegalAndGovernance/Act%2071%202008%20Companies%20Act.pdf> [Toegang verkry: 6 Julie 2020].