Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Vyf vinnige feite oor Akademia-personeel

Gepubliseer op: 6 Julie 2022

Geskryf deur Marisha Hermann, joernalis van die Fontiepos

In hierdie uitgawe leer ons Nolo Chaba, Lucky Tladi Mahlatse en een van ons nuwe dosente, André Gouws, beter ken.

Nolo en Lucky is bekende gesigte op die Centurion-kampus en doen baie vir die studente. Hulle groet altyd vriendelik en is lief daarvoor om geselsies aan te knoop.

Kom ons leer ken vir Nolo Chaba, skoonmaker by die Centurion-kampus

  1. Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek hou nie van ʼn deurmekaar en vuil huis nie, daarom sorg ek dat ek deeglik huisskoonmaak in my vrye tyd.

  1. Wat is jou gunsteling-roomysgeur?

Vanieljeroomys.

  1. Wat is jou gunstelingwoord?

Plesier (Pleasure).

  1. Hoe lank werk jy al by Akademia?

Vier, amper vyf jaar.

  1. Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek het voorheen by Solidariteit gewerk.

Kom ons leer ken vir Lucky Tladi Mahlatse, skoonmaker by die Centurion-kampus

  1. Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek help my dogtertjie wat in graad R is met haar huiswerk. Dit is moeilik, maar tog ook lekker!

  1. Wat is jou gunsteling-roomysgeur?

Bloubessieroomys.

  1. Wat is jou gunstelingwoord?

Gesels of geselskap, want ek hou daarvan om te praat.

  1. Hoe lank werk jy al by Akademia?

Drie jaar.

  1. Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek het by die Wild Fig in Southdowns gewerk. Alhoewel die werk meer is by Akademia, is ek gek oor die mense en ek geniet my werk baie!

Nolo Chaba en Lucky Tladi Mahlatse vier Akademia se verjaarsdag saam met ʼn groep studente.

Kom ons leer ken vir André Gouws, dosent: Visuele en Digitale Kommunikasie

.    Hoekom het jy hierdie beroep gekies?

Ek wou nog altyd klasgee. Ek hou daarvan om te sien hoe mense nuwe dinge leer. Dit is vir my lekker om mense te help om hul drome te bereik, en om hulle te help om begrip te kweek vir die veld van digitale media. Ek geniet ook die navorsingsaspek van die akademie, dit is vir my heerlik om self nuwe dinge uit te vind en te ondersoek.

  1. Wat is jou stokperdjies?

Ek is ʼn DXer. Dit beteken ek luister na kortgolf- en mediumgolfradios om radioseine op te vang wat van ver af reis tot in Suid-Afrika. Kortgolf- en mediumgolfseine kan saans van die ionosfeer in die atmosfeer af bons en dan kan mens dit baie ver van die oorsprongland hoor. Ek het byvoorbeeld al Amerika se tydsein, wat op die radio uitgesaai word, al die pad van Hawaii af gehoor. Hawaii is basies Suid-Afrika se teenpool, dit is dus omtrent die verste wat ʼn radiosein na Suid-Afrika kan reis. Ek vang ook gereeld spioenasieseine op; dit is lande wat geheime boodskappe aan hul spioene rondom die wêreld stuur. Dit is gewoonlik ʼn ry syfers wat die spioene kan dekodeer. Soms is dit dataseine, wat soos outydse internetmodems klink. Die spioene het ʼn spesiale apparaat om dit te kan dekodeer. Die spioenasiedienste gebruik juis radioseine omdat niemand dit kan keer nie, en dit ook baie moeilik is om te ontsyfer. Kuba, Rusland en Taiwan is van die lande wat dit baie gebruik. My stokperdjie is vir my iets wat bietjie terugkeer na ʼn eenvoudiger wêreld toe ons net radio, TV en koerante gehad het. Dis bietjie ontsnapping van digitale oorlading. Die digitale wêreld is my werk, maar die analoog-wêreld van gewoon radioluister is my ontspanning.

  1. Wat is jou gunsteling-roomysgeur?

Sjokoladeroomys

  1. Wat is jou gunsteling-idioom en hoekom?

Aanhouer wen. Ek dink my antwoord hier is vanselfsprekend, want ek het eers baie laat in my lewe by my droomberoep uitgekom, maar ek het nooit ophou droom nie.

  1. Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek was vier jaar lank dosent by die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, ook in joernalistiek en kommunikasiestudies. Voor dit was ek by die Universiteit Stellenbosch (US) vir twee jaar, en voor dit was ek my hele lewe lank in die joernalistiek.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.