Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Fotografieklub skud vere reg vir die nuwe jaar

Geskryf deur Kayla Roets, joernalis van die Fontiepos

Lede van die studentebemarkingskomitee se fotografieklub is op ʼn missie om seker te maak dat alle bemarkingsaksie-oomblikke vir Fonties – huidig en toekomstig, vasgevang word.  

Die klub het vanjaar op ʼn hoë noot afgeskop met die aanstelling van twee koördineerders om die groep se aktiwiteite te lei en te koördineer. Klublede vergader twee keer per maand en beide teoretiese en praktiese sessies word bygewoon om lede die kuns van fotografie te help verstaan, hul tegniese kennis uit te brei en hul vaardighede te verbeter.

Monique Schlesinger, lid van die bemarkingskomitee, help voorts die klub met hul beplanning en sien toe dat alle projekreëlings glad verloop. Sy dien ook as ʼn skakel tussen die bemarkingskomitee en die klub om effektiewe kommunikasie te verseker. Milla Matthee is die koördineerder van die fotografieklub en tref reëlings vir opleidingsessies, waartydens sy ook as aanbieder optree.  

Alle studente wat ʼn passie vir fotografie het, kan by die klub aansluit, selfs diegene wat nie oor professionele kameras beskik nie. Die doel van die klub is om nuwe vaardighede aan te leer, vriendskappe te smee, idees te deel en om uiteindelik ʼn fotografie-gemeenskap te skep.

Die klub beplan om sessies aangenaam te maak en ʼn gemaklike omgewing te skep waarin kreatiewe studente hul passie kan uitleef. Uitstappies word ook georganiseer en op hierdie wyse word studente blootgestel aan verskillende nuwe plekke en idees vir fotografie.

Vanjaar se klubverrigtinge het op 20 April afgeskop met ʼn inleidende sessie waartydens aspekte soos teoretiese en praktiese lesse bespreek is, sowel as portretfotografie vir studente se CV’s. Die klub beplan om vanjaar verskeie fotografiekompetisies aan te bied om lede se tegniese kennis en vaardighede te toets.

Ten einde hul vingers op die fotografiepols te hou, sal die klub van tyd-tot-tyd professionele fotograwe nader om met klublede te gesels. Tydens hierdie netwerksessies sal Akademia se jong fotograwe baat vind by die ondervinding en ervaringe van gevestigde fotograwe.

Die fotografieklub is oop vir almal en word beskryf as ʼn kreatiewe klub waar iets van alles gedoen en geleer word. In vandag se wêreld waar foto’s ʼn groot rol in sosiale media speel, bied hierdie klub ʼn platform vir studente om nuwe vaardighede aan te leer.

Onthou, jy hoef nie ʼn ervare fotograaf te wees om deel te neem nie! Al wat jy nodig het, is passie, nuuskierigheid, ʼn selfoon met ʼn kamera en natuurlike ʼn oog vir detail.

As jy meer wil weet oor die fotografieklub, kontak jou studenteraad en sluit aan by die WhatsApp-groep om gereelde kommunikasie oor die klub se bedrywighede te ontvang.

Milla Mathee is die fotografieklub-koördineerder.
Monique Schlesinger is ʼn lid van die studentebemarkingskomitee met fotografieklub-koördineerder as portefeulje.
Gebeurlikhede, soos Akademia-krieketwedstryde, is van die geleenthede wat deur die klub se lede gefotografeer word.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.