Search
Close this search box.

Kom maak jou tuis in die onderwys

Geskryf deur Juné Jordaan, adjunkredakteur van die Fontiepos

“Hoe kan jy wegkyk as ʼn kind opkyk na jou, as hy jou met sy hele lewe wil vertrou?” klink die woorde uit die liedjie “Jesus roep die kindertjies” soos gesing deur Jan de Wet en die Lofkleuters.

Vir my versinnebeeld hierdie liedjie die gees van onderwys, as een van die
mees delikate en emosiebelaaide beroepe. Leerders kyk op na jou as onderwyser en vertrou jou met alles wat hulle het; hul opwinding en teleurstelling. In kort: hul hele lewe.

Die meeste perspektiewe oor onderwys as ʼn beroep word stereotipies ontwikkel en veroorsaak dat heelwat mense onder ʼn wanindruk verkeer. Om die hart van onderwys te verstaan, is dit belangrik dat jy met studente praat vir wie onderwys ʼn hartsaak en ʼn roeping is. Alhoewel onderwys vir die wêreld lyk na ʼn beroep wat min betaal, is dit in die werklikheid ʼn roeping met baie beloning – deur ʼn glimlag, ʼn drukkie of selfs net die vertroue van ʼn leerder.

As jy gedink het onderwys is net ʼn beroep waar jy huiswerk gee, toetse merk en atletiek afrig, dink weer! Hanri Noëth, tweedejaarstudent in BEd (Grondslagfase) by Akademia, beskryf die onderwysberoep en -studierigting soos volg: “Onderwys is deel van my. Dit is my hele bestaan. Dit is ʼn roeping, maar met hart. Die een kan nie sonder die ander een nie. Dit is meer as net studies; meer as net ʼn graad. Dit is ʼn leefwyse waaroor ek al van kleins af droom en waarvoor ek in 2022 begin studeer het.”

Akademia het sy eerste groep van 42 opvoedkundestudente in 2022 verwelkom en sedertdien het dié getal volgens dr. Maretha Steyn, departementshoof van Opvoedkunde by die instelling, eksponensieel toegeneem tot 78 eerstejaarstudente en 35 tweedejaarstudente in 2023. Steyn het met 31 jaar se ondervinding in die onderwyssektor, ʼn belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van hierdie kwalifikasieprogram. Sy konseptualiseer onderwys soos volg: “Onderwys is nie ʼn beroep nie, maar ʼn roeping. Onderwys is gerig op die vorming en selfverwesenliking van leerders. Hierby ingesluit is die vorming van hart en denke asook onderrig en opvoeding. Dit bly maar net ʼn voorreg om met die kroon van God se skepping te werk en om daagliks ʼn daadwerklike poging aan te wend om ʼn verskil in iemand se lewe te maak.”

Dit gebeur soms dat mense selfs terwyl jy nog studeer op ’n mens neerkyk as gevolg van jou loopbaankeuse. Vir diegene met ʼn passie vir onderwys, is dit egter belangrik om nie deur uitdagings ontmoedig te word nie, juis vanweë die feit dat dié beroep jou bemagtig om ʼn verskil te maak en op die manier die toekoms positief te beïnvloed. Johann Schmidt, BEd (Intermediêre fase)-student, sê: “Mense kan sê en dink wat hulle wil oor onderwys, jy is daar vir die leerder, om die leerder te help en om van hom of haar ʼn beter persoon te maak in die toekoms.”

Getrou aan Akademia se aard, word die onderwyskwalifikasie vanuit ʼn unieke perspektief benader. Gedurende die eerste twee jaar van studie word daar slegs op vakdidaktiek gefokus, terwyl die student gedurende die daaropvolgende twee jaar geleer word hoe om vakinhoudelike kennis prakties aan leerders oor te dra. Akademia se kwalifikasie fokus baie op die praktiese toepassing sowel as integrasie tussen al die modules.

Danelle Huyzers, tweedejaar BEd (Intermediêre fase)-student, getuig hiervan: “Een van die dinge wat ek van die modules waardeer, is die klem op die werklike toepassing van statistiek en kenmerke. Ons dosente voorsien ons van genoegsame inligting en bronne wat ons as studente help om die toepassings te verstaan, en maak gebruik van verskillende strategieë om ons vaardighede te ontwikkel en te beoefen.”

Só praat nog onderwysstudente saam:

“Die beste besluit wat ek ooit gemaak het, was om opvoedkunde te studeer, ek sien uit vir wat die toekoms van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia inhou.” – K’rien Botha, tweedejaarstudent in BEd (Intermediêre fase).

“Tydens my opvoedkundereis het ek besef dat onderwysers ʼn skoolleerder kan maak of breek. Hiermee bedoel ek dat onderwysers werklik ʼn duidelike impak op ʼn leerder se toekoms het, “ sê Alize Pienaar, tweedejaarstudent in BEd (Grondslagfase).

“Ek voel trots daarop en is blymoedig oor my toekoms as ʼn onderwyser. Ek het baie goeie mans-onderwysers gehad op laerskool en hoërskool, almal van hulle het ʼn impak op my lewe gehad. Ek is vol hoop dat ek ook so ʼn impak op ander se lewens sal hê,” sê Abrie Brits, tweedejaarstudent in BEd (Intermediêre fase).

Onderwys is soveel meer as net nog ʼn beroep. Dit is ʼn roeping. ʼn Hartsaak. Ons is daarom dankbaar vir elke onderwyser en onderwyseres wat daagliks hard werk om leerders van formaat te onderrig. Ons is ook dankbaar vir elke onderwysstudent wat hul passie nastreef en ʼn verskil in die onderwysberoep gaan maak.

Opvoedkundestudente van Akademia net voordat hul op hul eerste skoolbesoek vir 2023 vertrek.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.