Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Vinnige en maklike studenteresepte

24 Januarie 2024

Geskryf deur Megan Ferreira, Fontiepos-joernalis

Die feestyd is nou verby en die Fonties het heerlik oor die vakansietyd aan huiskos gesmul. Dit is wel Januwôrrie en ons Fonties se beursies is dolleeg. Sommige van ons is voltydse of deeltydse werknemers, ʼn enkelmamma of -pappa, of selfs ʼn eienaar van ʼn besigheid. Ongeag watter tipe Fontie jy is, ons almal het baie vol skedules. Hier is ʼn paar maklike en vinnige studenteresepte vir Fonties:

Luggebraaide spek- en kersiestokkies:

Koop ʼn paar sosatiestokkies, sowel as een pakkie spek en rooi kersies. Druk die rooi kersies deur die stokkie en draai die spek om die stokkie. Hierdie stokkie kan vir ʼn halfuur in die lugbraaier gelos word totdat die spek gaar is. ʼn Soet sousie van die spekvet bly agter wat jy bo-oor kan gooi.

Maalvleisgevulde aartappelbakkies:

Maak ʼn paar aartappels (soveel na jou keuse) gaar en druk dit fyn. Braai die maalvleis en geur dit met speserye van jou keuse. Die fyngedrukte aartappels word dan in ʼn oondbestande bakplaat gesit en in ʼn bakkievorm gedruk. Plaas die maalvleis in die aartappelbakkie en rasper ʼn handvol (of soveel van jou keuse) kaas oor. Braai dit in ʼn lugbraaier of oond vir vyf minute of totdat die kaas gesmelt is.

Tuisgemaakte aartappelskyfies en steakrepies:

Koop so twee of drie velle dun steak (tenderised steak), twee pakkies bruin uiesoppoeier, aartappels (soveel na jou keuse) en ʼn houertjie suurroom. Sny die steak in dun repies, plaas dit in ʼn groot mengbak saam met een pakkie aangemaakte bruin uiesoppoeier. Meng laasgenoemde en laat dit vir ʼn driekwartuur staan sodat die steak heerlik gegeur word. Sny die aartappels (steeds rou) in skywe. Plaas die aartappels in ʼn aparte mengbak, saam met die oorblywende pakkie aangemaakte bruin uiesoppoeier, vir ʼn maksimum van tien minute. Plaas die steakrepies en aartappels in ʼn lugbraaier vir ʼn maksimum van 30 tot 45 minute óf totdat die aartappelskyfies en die steakrepies gaar is. Klits die suurroom en bedien as ʼn sous.

Elke resep is uit die boonste rakke en verseker 100%-tevredenheid. Mag elkeen dit geniet!

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.