Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Twee noodsaaklike voertuigvaardighede vir Fonties

6 Oktober 2023

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Is jy dalk ʼn Fontie wat nie noodwendig alles van motors af weet nie? Hier is twee belangrike vaardighede wat enigeen moet weet.

Hoe kry ek my motor se battery weer aan die gang?

Om jou motor se battery aan die gang te kry is ʼn noodsaaklike vaardigheid vir elke bestuurder tydens noodgevalle. Solank jy toegang tot ʼn tweede motor en ʼn paar oorleikabels (jumper-kabels) het, is dit vinnig en maklik om weer aan die gang te kom. Om jou voertuig veilig te laat ry, volg hierdie stappe:

  1. Skakel beide motors af en maak seker dat hulle in park (vir ʼn outomatiese motor) of neutraal (vir ʼn handratmotor) is met die handrem opgetrek.
  2. Maak die enjinkappe van beide motors oop en spoor die battery van elkeen op.
  3. Koppel die eerste rooi oorleikabel aan die positiewe battery-terminaal van motor een (die dooie battery) en die tweede rooi kabel aan motor twee (die werkende motor) se positiewe terminaal.
  4. Koppel die swart kabel aan motor twee se negatiewe battery-terminaal en die ander kant van die swart kabel aan enige metaal komponent op motor een soos ʼn bout of ʼn moer. (NIE aan die negatiewe terminaal van die dooie battery NIE!)
  5. Skakel motor twee se enjin eerste aan, skakel dan motor een se enjin aan na ʼn paar minute.
  6. Laat die enjins luier (idle) vir omtrent 15 tot 30 minute sodat die battery van motor een kan laai.
  7. Ontkoppel die oorleikabels in die teenoorgestelde volgorde as wat jy dit aanvanklik gekoppel het. (Swart motor een, swart motor twee, rooi motor twee en rooi motor een)
  8. Indien onsuksesvol, raadpleeg ʼn werktuigkundige vir onderliggende kwessies en prioritiseer altyd jou veiligheid!

Kyk gerus hierdie video vir die visuele stappe.

Hoe ruil ek my voertuig se wiel om?

Die verandering van ʼn wiel is vir bestuurders ʼn basiese vaardigheid. Wat het jy nodig? ʼn Spaarwiel, domkrag, moersleutel en gebruikershandleiding.

  1. Vind ʼn veilige, plat area en aktiveer jou gevaarligte.
  2. Haal die spaarwiel en gereedskap uit die kattebak uit.
  3. Draai die pap wiel se moere gedeeltelik los met die moersleutel terwyl die motor op die grond is.
  4. Raadpleeg die gebruikershandleiding vir korrekte domkragplasing onder die voertuig.
  5. Lig die voertuig op met die domkrag en verseker stabiliteit. ʼn Kloksgewyse beweging lig die domkrag op en ʼn antikloksgewyse beweging laat die domkrag sak.
  6. Draai die pap wiel se moere heeltemal los, verwyder die wiel en plaas dit onder die motor.
  7. Plaas die spaarwiel in posisie en belyn die gate met die stutte.
  8. Draai die moere eers met die hand vas vir veilige belyning en dan met die moersleutel.
  9. Laat sak die voertuig tot op die grond met die domkrag.
  10. Draai die moere nog ʼn bietjie vas – maar nie te styf nie.

As jou kar ʼn spaarwiel het, kyk gereeld of dit nog in werkende toestand is sodat jy nie twee pap wiele het nie!

Kyk gerus hierdie video om die visuele stappe te sien.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.