Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die einde van die “hasiemelk”-era

6 Oktober 2023

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Gedurende Augustus vanjaar het ʼn nasionale ramp die land getref. Ja, daar word berig dat Nestlé besluit het dat hulle nie meer Nesquik se aarbei- en sjokolademelk gaan vervaardig en verkoop in Suid-Afrika nie. Hierdie nuus herinner my aan die tragedie in 2020 toe Lays aangekondig het dat hulle nie meer sout-en-asyn-skyfies gaan verkoop nie. Landsburgers was so geskok dat hulle vir maande daarna in hulle huise gebly het en geweier het om uit te kom. Navorsers, politici en staatsamptenare sal probeer insinueer dat dit eintlik as gevolg van die internasionale pandemie of nasionale inperking was, maar dié van ons wat lief is vir ons peuselhappies weet dat die verlies van hierdie skyfies waarskynlik die oorsaak was.

ʼn Mens sidder om te dink wat nóg vanjaar kan gebeur. Noudat party van ons se gunstelingmelk van die rakke af verdwyn het, ontstaan daar meer vrae. Moet ons almal nou maar duur Steri-Stumpies drink? Daar is die bekommernis oor wat volgende gaan verdwyn. “Hoe lank voor daar nie meer Fizzers by kinderpartytjies uitgedeel word nie? Gaan ʼn Savanna nog ʼn beskikbare drankie by ʼn braai wees?” Die tergende vraag: “Sal ons ooit kan herstel as Ouma Beskuit van ons rakke af verdwyn?”

Alle grappies op ʼn stokkie. Die nuus dat Nesquik se melk nie meer in Suid-Afrika verkoop gaan word nie was inderdaad vir baie van ons ʼn skok. Vir ʼn generasie mense was hierdie melk ʼn belangrike deel van hulle kinderjare en vir hulle ouers was dit spesiaal om vir kinders hierdie melk huis toe te bring. Die rede waarom dit nie meer in die land verkoop gaan word nie, volgens Nestlé, is omdat die aanvraag daarvoor afgeneem het. Mense verkies ander produkte en die mark is nie meer wat dit was nie.

So het die Nesquik-hasiemelkera in die land, net soos die eras van videowinkels en CD’s, tot ʼn einde gekom. Ons kan dit beskou as hartseer of ʼn rede om te waardeer wat ons het in die era waarin ons leef. Sekere aktiwiteite en produkte kan verdwyn, maar die stories en herinneringe sal lewenslank bly. Soos die storie oor hoe almal met die laaste paar Lays sout-en-asyn-skyfies wat hulle gekoop het (ná die aankondiging dat dit van die mark af sou gaan) ʼn pandemie aangepak het of die staaltjie oor hoe ons die tragiese nuus oor hasiemelk gekry het net voor die 2023-Rugbywêreldbeker. Die produk mag van die rak af wees, maar die stories bly ons sʼn om te vertel.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.