Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-koor bereik groot sukses in 2023

6 Oktober 2023

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis  

Die Akademia-koor het vele hoogtepunte in 2023 bereik. Nie net is die koor genomineer vir ʼn Legato-toekenning nie, maar die koor bring ook binnekort hulle heel eerste enkelsnit uit. Met al hulle optredes regdeur die jaar het die koor met hulle musiek verskeie gehore bekoor. “Ek dink die koor het ʼn uitstekende jaar gevul met wonderlike koormusiek gehad,” sê Franco Prinsloo, dirigent van die Akademia-koor.

Op Afrikaanse Taaldag het die koor hulle eerste musiekvideo bekendgestel. In hierdie video sing die koor met trots die Akademia-universiteitslied. Die Akademia-koor is genomineer vir uitsonderlike uitvoering van ʼn geestelike koorwerk vir hulle werk Die Beker. Daar het 53 kore by die Legato-koorfees opgetree waaruit die nominasies gekies is. Verder gaan die koor hulle eerste enkelsnit, ʼn verwerking van die bekende Sonvanger, bekendstel. Hierdie enkelsnit sal eersdaags beskikbaar wees.

Die koor het ook vanjaar verskeie optredes gehad. Een daarvan is die Akademia-koorfees waar kore van Gauteng se topskole ook gesing het. Prinsloo sê dis ʼn eer om op hierdie manier te bou aan die gemeenskap van koorliefhebbers. Nóg ʼn konsert was die Lentekonsert saam met die Vox Chamber Choir by die Voortrekkermonument. Prinsloo sê ook dat die koorlede hierdie jaar werklik hegte vriendskappe gevorm het. “Koorvriendskappe is vriendskappe wat vir jare en jare sal hou.”

Die koor het eksponensieel gegroei en kan nie wag om nog verder te groei volgende jaar nie. “Ons het hierdie jaar baie nuwe stemme bygekry en klink nou mooier as ooit. Met agt verskillende stemgroepe sing ons omtrent gehore aan die brand!” sê Hannelie du Preez, voorsitter van die koorbestuur. “Ek dink elke lid van die koor kan baie trots wees op dit wat ons bereik het hierdie jaar en ek kan nie wag om te sien wat ons volgende jaar gaan bereik nie,” sluit du Preez af.

Die Akademia-koor tydens die Akademia-koorfees in Augustus.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.