Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Tien hoogtepunte van Akademia se dekade van pionierswerk

Gepubliseer op: 8 Desember 2022

Die jaar 2022 het op ʼn hoë noot vir Akademia afgeskop. ʼn Dekade se pionierswerk is deur die loop van die jaar gevier met menigte hoogtepunte en mylpale wat die instelling bekendgemaak het. Die instelling wat op 3 Maart 2012 sy deure vir slegs ongeveer 40 studente geopen het, spog met bykans 2 500 studente in 2022 en is gereed om ʼn vestigingsfase te betree.

Hier is tien hoogtepunte van Akademia se jaar van verjaarsdagvieringe:

HOOGTEPUNT EEN

3 Maart – Akademia se verjaarsdagpartytjie

Daar was ʼn verjaarspartytjie vir Akademia-studente en -personeel gehou waartydens die studenteraad ʼn skildery aan Akademia se direksie oorhandig het. Riaan Benadé het ook die dag vir vermaak gesorg, tesame met aktiwiteite soos vlugbal en toutrek.

Lees meer hier.

Akademia se studenteraad by die reusetienjaarkoek wat personeel en studente kon geniet.
Twee van Akademia se studente, oftewel Fonties, Demarco Robinson en Alicia Bennett, by die instelling se tiendeverjaarsdagpartytjie op 3 Maart by Leriba.

HOOGTEPUNT TWEE

3 Maart – Akademia-pioniers vertel

Akademia-pioniers vertel is ʼn rusbankgesprekreeks oor hoe Akademia gekom het waar ons vandag is. Van die mense wat die grondstene gelê het, soos Marthinus Visser, Henk Schalekamp en Dirk Hermann vertel meer. Die aanbieder van die tien episodes wat deur die jaar vrygestel is, is Esmarie Yssel en die temas dek van die droom van Akademia, eerste personeel en wat vir die instelling voorlê. Kyk die reeks hier.

Een van die Akademia-pioniers vertel-episodes se gaste, Jaco-Louis Kruger, Jorese Prinsloo en Johann Smith, saam met die aanbieder, Esmarie Yssel.

HOOGTEPUNT DRIE

24 Maart en 1 Oktober – Akademia se 10-jaarwyn en Die Pionier-koffie

Akademia se 10-jaarwyn is bekendgestel by ʼn wynproefunksie saam met Die Wynboer. Die wyn is ʼn heerlike 2019 pinotage van De Kleine Wijn Koöp en is beskikbaar op Die Winkel. Met die aankoop van dié wyn dra jy ook by tot Akademia se skenkingsfonds.

Personeel en studente van Akademia het saam met Kobus Wiese van Wiesenhoff koffie geproe om die versnit van Akademia se eie koffie te kies. Die Pionier, ʼn spesiale ontbytkoffiemengsel, is toe op 1 Oktober bekendgestel en is beskikbaar op Die Winkel.

Akademia se eie Pinotage-wyn is vanjaar bekendgestel.
Die Pionier-koffie is tesame met Wiesenhoff deur Akademia bekendgestel.

HOOGTEPUNT VIER

4 April – Koshuise se handelsmerkbekendstelling

Die drie koshuise, Huis Valorem (gemengde koshuis en daghuis), Huis Hennops (manskoshuis) en Huis Strelitzia (dameskoshuis), se handelsmerke is amptelik bekendgestel. Lees meer hier.

Die drie koshuise, Huis Hennops, Huis Valorem en Huis Strelitzia, wat deur Akademia-studente bewoon word, se handelsmerke is bekendgestel tydens ʼn funksie by Leriba in Centurion.

HOOGTEPUNT VYF

30 Junie en 5 Oktober – Akademia stel die Fakulteite Natuurwetenskappe en Regsgeleerdheid bekend.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe is tydens ʼn spoggeleentheid by die WNNR in Pretoria bekendgestel. Die fakulteit beslaan reeds twee kwalifikasies op die voltydse kampusmodel, naamlik BSc (Wiskundige Wetenskappe), asook BSc (Rekenaarwetenskappe).

Die Fakulteit Regsgeleerdheid is bekendgestel by die instelling se Centurion-kampus. Regsgeleerdheid is by Akademia ingelei deur die BCom (Ekonomie en Regte)-program waarvan die eerste studente in 2017 ingeneem is. Akademia bied reeds die gewilde LLB-kwalifikasie op die nauurse afstandsmodel aan sedert 2020 en dit word ook vanaf 2023 voltyds op die kampusmodel aanbied.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe se akademici saam met Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, prof. Hannes Rautenbach, dekaan van dié fakulteit en prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia.
Die Fakulteit Regsgeleerdheid se akademici saam met die dekaan van die fakulteit, prof. Hermie Coetzee, tydens die bekendstellingsfunksie.

HOOGTEPUNT SES

10 Oktober – Prestige-tienjaarfunksie

Akademia vier sy tiende verjaarsdag saam met eerste studente, alumni, personeel, donateurs, die direksie en ander pioniers tydens ʼn formele glansfunksie by Sol-Tech se kampus in Monument Park. Lees meer hier.

Op 10 Oktober is daar ʼn prestigefunksie gehou vir personeel, toppresteerders, media, donateurs en ander gaste om die pionierswerk van Akademia te vier.

HOOGTEPUNT SEWE

10 Oktober – Krugerstandbeeldreeks

Die standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger en die krygers is by die prestige-tienjaarfunksie bekendgestel, wat terloops ook op Kruger se verjaarsdag plaasgevind het. Hierdie bronsreeks is deur die FAK geproduseer en sal uiteindelik by Akademia se kampus wat gebou gaan word, uitgestal word.

Die standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger en die krygers wat in Akademia se besit geneem is en op 10 Oktober 2022 bekendgestel is.

HOOGTEPUNT AGT

10 Oktober – Akademia-gedenkboek

Die Akademia-gedenkboek is amptelik by die formele geleentheid bekendgestel en aan Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, oorhandig. Die gedenkboek handel oor Akademia se eerste tien jaar en is geskryf deur Ilze Nieuwoudt en met trots uitgegee deur die Akademia Uitgewery. Koop jou spoguitgawe op Die Winkel teen R650.

Die Akademia-gedenkboek bevat die suksesverhaal van die instelling oor die afgelope tien jaar en is op 10 Oktober bekendgestel tydens Akademia se prestigefunksie te Sol-Tech.

HOOGTEPUNT NEGE

10 Oktober – Universiteitslied

Tydens Akademia se prestige-tienjaarfunksie is die universiteitslied van dié instelling vir die eerste maal deur die Akademia-koor gesing. Die lied is geskryf deur prof. Hans du Plessis, skrywer en digter, en is gekomponeer deur Franco Prinsloo, Akademia se koordirigent. Kyk gerus hier na ʼn opname van die lied.

Die Akademia-koor het op 10 Oktober tydens die instelling se prestigefunksie vir die eerste maal die instelling se eie universiteitslied gesing.

HOOGTEPUNT TIEN

18 Oktober – Akademia et al.

Akademia het tydens ʼn bekendstellingsfunksie by Leriba in Centurion die nuus bekendgemaak dat die instelling ʼn opwindende kortkursusplatform, genaamd Akademia et al. van stapel stuur. Lees meer hier.

Dr. Tienie Ehlers, onafhanklike besigheidskonsultant, dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, tydens die bekendstelling van Akademia et al.

Van niks af na tien jaar se pionierswerk. Ons is dankbaar vir die afgelope tien jaar se kundigheid, skenkings, lojaliteit, vertroue, raad, samewerking, geleenthede, netwerk, vriendskap, en genade. Sonder jou sou ons dit nie kon doen nie. Bou saam met ons aan die volgende fase van Akademia – ʼn volwaardige wêreldklas Afrikaanse universiteit. Ná ʼn suksesvolle 2022 sien die instelling met opgewondenheid uit na wat vir die jaar 2023 voorlê. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting.