Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Waluś-geval plaas hernude fokus op paroolproses in Suid-Afrika

Gepubliseer op: 8 Desember 2022

Geskryf deur Natasha Venter, deeltydse dosent in Regsgeleerdheid by Akademia

Die onlangse bevel van hoofregter Raymond Zondo op 21 November 2022 dat Janusz Waluś (69) ná byna 30 jaar se gevangenisstraf op parool vrygelaat moet word, het wye oordeel vanuit talle politieke oorde gelok. Waluś is natuurlik lewenslange gevangenisstraf opgelê nadat hy op 10 April 1993 vir Chris Hani, die voormalige sekretaris-generaal van die SAKP en hoof van Umkhonto we Sizwe, in Boksburg vermoor het. Hy is uiteindelik op 7 Desember 2022 vrygelaat, maar sy lang stryd om parool laat die vraag ontstaan of daar gelyke behandeling van alle gevangenes is wanneer vrylating op parool oorweeg word.

Waluś is in dieselfde jaar waarin hy vir Hani vermoor het, vervolg, skuldig bevind, en ter dood veroordeel. Ná die S v Makwanyane-uitspraak in 1995 waarin die doodstraf afgeskaf is, is Waluś se vonnis na lewenslange gevangenisstraf omgeskakel. Volgens die Wet op Korrektiewe Dienste 11 van 1998, moet ’n persoon wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is tegnies lewenslank agter tralies bly. Parool kan egter die tydperk verkort wat sulke misdadigers in korrektiewe sentrums spandeer, weliswaar nadat sekere paroolvoorwaardes opgelê is.

Voor 1 Oktober 2004 moes gevangenes wat gevonnis is tot lewenslange gevangenisstraf, 20 jaar van hul vonnis uitdien voordat hulle vir parool in aanmerking sou kom (hierdie tydperk is deur wetgewing gewysig tot 25 jaar vir gevangenes onder die ouderdom van 65). Die paroolraad, wat alle aansoeke om parool moet goedkeur, kan egter ook krediete vir goeie gedrag in aanmerking neem wat hierdie tydperk kan verkort. Waluś het dus in 2011 (ná die Van Wyk-uitspraak wat die tydperk verder verkort het tot 12 jaar en vier maande vir diegene wat voor Oktober 2004 lewenslange gevangenisstraf opgelê is) vir die eerste keer aansoek gedoen vir parool waarna die paroolraad aanbeveel het dat hy op parool vrygelaat moes word. Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste het egter hierdie, en verskeie ander aansoeke om parool, van die hand gewys en Waluś se hofaksies hieroor deurentyd teengestaan. Daar is ook wyd voorsiening gemaak vir sogenaamde slagoffer-oortreder-dialoog waartydens Hani se weduwee skerp kapsie gemaak het teen Waluś se parool, selfs nadat hy verskeie kere om verskoning gevra het vir sy dade.

Ná ’n jarelange hofstryd, het die Konstitusionele Hof egter beveel dat Ronald Lamola, die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, vir Waluś binne 10 dae op parool moet vrylaat met diesulke voorwaardes wat die minister sal bepaal. (Hierdie tydperk is egter verleng nadat Waluś op 29 November deur ’n medegevangene met ’n mes gesteek is en eers moes herstel.) Hier, moet ons in ag neem dat gevangenes wat voor Oktober 2004 gevonnis is, soos Waluś, slegs vir ’n maksimum tydperk van twee jaar aan hierdie paroolvoorwaardes onderwerp kan word. (Paroolgangers wat ná hierdie tydperk lewenslank gevonnis is, bly egter lewenslank onderworpe aan hierdie voorwaardes.)

’n Interessante kinkel is egter dat Waluś se Suid-Afrikaanse burgerskap in 2017 herroep is, wat beteken dat hy tegnies ná sy vrylating na Pole gedeporteer moet word. Pole sal egter nie onder enige verpligting wees om die paroolvoorwaardes wat in Suid-Afrika opgelê is te handhaaf nie. Aaron Motsoaledi, die Minister van Binnelandse Sake, het egter op 28 November 2022 aangekondig dat sy departement ’n uitsondering gemaak het sodat Waluś in die land kan bly om sodoende sy parooltydperk hier uit te dien. Hierdie uitsondering het wel ’n voorwaarde, naamlik dat Waluś geen reisdokumente en/of paspoort wat deur die Ambassade van Pole uitgevaardig word, mag gebruik om na sy geboorteland terug te keer nie. Waluś se regspan voer uit die aard van die saak aan dat hierdie voorwaarde onregverdig is.

Die media-aandag wat Waluś se geval gekry het, het opnuut die aandag gevestig op die paroolproses in Suid-Afrika. Wat egter onderstreep moet word, is die feit dat nie alle gevalle konsekwent hanteer word nie. Daar is ongelukkig talle gevalle waar die families van slagoffers of slagoffers self nie eers in kennis gestel word dat persone wat hulle te na gekom het deur misdaad te pleeg, aansoek gedoen het vir parool nie. Dit is wel die geval dat niemand geregtig is op parool nie en dat dit ’n voorreg is wat deur die owerhede oorweeg en goedgekeur moet word, maar dan moet alle misdadigers oor dieselfde kam geskeer word.

Natasha Venter is ʼn deeltydse dosent in Regsgeleerdheid by Akademia met ʼn passie vir strafprosesreg.