Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger vind veilige tuiste by Akademia

Gepubliseer op: 8 Desember 2022

Akademia het op 10 Oktober die instelling se dekade van pionierswerk gevier. Op dieselfde dag, die tiende van die tiende maand, het oudpresident Paul Kruger verjaar en Akademia het ter viering hiervan ʼn standbeeldreeks bekendgestel wat in die instelling se besit geneem is. Die kommunikasiekantoor het by prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, gaan inloer om meer uit te vind oor die rede agter die standbeeldreeks.

  • Waarom het Akademia juis Paul Kruger gekies vir die standbeeldreeks?

Oudpresident Paul Kruger is vir ons as taal- en kultuurgemeenskap ʼn baie belangrike historiese figuur. Maar waarom? Hoekom is hy ʼn belangrike historiese figuur? In aansluiting hierby kan ons ook vra waarom Kruger juis vir ons binne ʼn akademiese en universitêre konteks belangrik is. Hoekom sou ʼn hoëronderwysinstelling hom huldig? In antwoord op laasgenoemde sou ons kon sê dat Kruger in 1889 die eerste tree gegee het in die totstandkoming van die eerste Afrikaans-Nederlandse universiteit in die destydse Pretoria. Hy het met behulp van die hoof van onderwys van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ds. SJ du Toit, gepoog om ʼn universiteit in Pretoria te stig. Hy het daardie tyd onder andere gesê dat die eerste leraar wat aan daardie universiteit aangestel moes word, ʼn professor in die regte moet wees. Dit is in hierdie verband ook betekenisvol dat hy bygevoeg het dat die regsgeleerde  in die eerste plek ʼn godvresende mens moes wees

Vandag wil ons egter ook ʼn ander rede aanvoer waarom Akademia ʼn ereplek aan oudpresident Kruger gee. Dit hou verband met die baie bekende uitspraak wat Kruger gemaak het – “Neem uit die verlede wat goed en mooi is en bou die toekoms daarop.” Enigeen wat Akademia ken, sal besef hoe nou die verband is tussen wat oudpresident Kruger destyds gesê het en Akademia se bykans soortgelyke leuse, Ad futurum per fontes – Na die toekoms en deur die bronne. Met die “bronne” bedoel ons wat Kruger gesê het – die goeie, ware en skone. Ons aanvaar dat die oorspronge van hierdie belangrike beginsels na die drie groot stede uit ons tradisie, naamlik Athene, Jerusalem en Rome, teruggevoer kan word. Dit is die bronne waarby ons aanknoop en wat ons steeds in staat stel om die toekoms met helder oë en hoop tegemoet te gaan.

  • Beskryf die standbeeldreeks?

Die oorspronge van die standbeeldreeks lê by die FAK. Die FAK het die standbeelde op Kerkplein geskandeer en met behulp daarvan die beelde gegiet. Terloops, met behulp van die skanderings kan enige grootte van die standbeelde gemaak word. Die groep bestaan natuurlik uit vyf beelde, te wete die vier beelde van die Boerekrygers asook die beeld van Kruger. Wat so treffend van die kleiner beelde is, is dat die detail op die beelde selfs duidelik as die standbeelde op Kerkplein is. Dit is esteties gesproke werklik aangrypend. Die feit dat dit in ʼn kleiner formaat is, beteken ook dat dit in ʼn ruimte kan staan waar mense dit van naderby kan ervaar.

  • Van matter materiaal is die beelde gemaak?

Die FAK het slegs twee stelle van hierdie spesifieke grootte in brons gegiet – die eerste stel is ʼn bietjie donkerder. Hierdie stel beelde behoort aan die FAK, en staan vandag in die Voortrekkermonument. Die stel van Akademia is meer bronskleurig, en sal uiteindelik by die nuwe kampus op ʼn baie spesiale plek staan. Die beelde is baie duursaam. Geen verdere stelle sal van hierdie grootte gemaak word nie. So sal die uniekheid daarvan beskerm word.

  • Waarom is die reeks juis nou gemaak en bekendgestel?

Dit was ʼn vreemde sameloop van omstandighede. Mens moet in gedagte hou dat ons pas ons tienjaarfees gevier het en dit het saamgeval met 10 Oktober, wat ook Paul Kruger se verjaarsdag is. Oudpresident Kruger verjaar op die tiende van die tiende maand en ons is tien jaar oud. Daarmee word as’t ware simbolies uitdrukking gegee aan ʼn dieper band tussen Kruger en Akademia. Ons kan dit verduidelik met behulp van die wyse waarop Kruger en Akademia die verlede verstaan. .

  • Wat maak Prof. die meeste opgewonde oor die standbeeldreeks?

In aansluiting by die laaste opmerking moet ons stilstaan by ʼn groter argument wat hier in die agtergrond afspeel. Dit hou verband met ʼn baie wesenlike vraag waarby Akademia vandag te staan gekom het. Trouens, dit is ‘n vraag wat vandag wêreldwyd aan universiteite gevra word. Ons kan dit so formuleer: Wat is die verband tussen kritiese denke wat onder meer deur universiteite beoefen word, en ons eie kulturele (en Westerse) tradisie? Universiteite dwarsoor die Westerse wêreld beantwoord die vraag deur aan te voer dat kritiese denke in spanning staan met die tradisie. Hoe meer kritiese denke jy beoefen, hoe meer neem jy van jou tradisie afskeid. So word geargumenteer. By Akademia gaan ons uit van ʼn heeltemal andersoortige verhouding tussen kritiek en tradisie. Ons gaan uit met die gedagte dat ʼn kritiese lewenshouding nie beteken dat jy afskeid neem van jou tradisie nie, maar dat jy eerder deur middel daarvan jou tradisie verryk en verdiep. Ons neem nie by wyse van ons kritiese lewenshouding afskeid van die tradisie nie, ons verryk eerder so die tradisie. Dit is die dieper rede waarom ek baie opgewonde is oor die beelde.

  • Wat is Prof. se gunstelingeienskap van Paul Kruger?

Vanuit hedendaagse gesigspunte beskou, was Kruger ook deur  foute gekenmerk. Nogtans versinnebeeld Kruger in menige opsigte die ideaal van wysheid. Hy het geen skoolopleiding gehad nie. Nogtans was hy ʼn wyse mens. Iets van Salomo se wysheid het in hom voortgeleef. Mens moet in gedagte hou – by Akademia verwerf studente kennis van hul onderskeie dissiplines. En kennisverwerwing is vir ons belangrik. Dit is egter nog nie genoeg nie. Ons moedig ook die verwerwing van wysheid by ons studente aan. Ook in hierdie sin is Kruger vir ons belangrik. Kruger is in vele opsigte die beliggaming van die wysheidsideaal uit ons eie tradisie.

  • Beoog Akademia nog standbeelde in die toekoms?

Ons kan kwalik  aan die toekomstige kampus op die pragtige koppie dink sonder om ook te dink aan standbeelde van ander groot intellektuele figure uit die Westerse en Afrikaanse intellektuele wêreld.

Die standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger en die krygers wat in Akademia se besit geneem is en op 10 Oktober 2022 tydens die instelling se verjaardagfunksie bekendgestel is.