Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent neem innovasie in Wiskunde-onderrig na die volgende vlak in Europa

Gepubliseer op: 9 Desember 2022

Johann Smith het ʼn referaat gelewer by die International Conference on Education Research and Innovation (iCERi) in Sevilla, Spanje, wat vanaf 7-9 November plaasgevind het. Sy referaat se titel was: “Moviefication of mathematical word problems: Using entertainment mechanisms to facilitate student engagement”. Die navorsing het gehandel oor die verband tussen studente se vrese en angs ten opsigte van wiskundige woordsomme en hul deelname aan huiswerk en ook hul prestasie.

Smith het storievideo’s gemaak (met teks, narratief en ʼn aktrise) wat die som omgeskakel het in ʼn storie. Die antwoorde en berekeninge is egter nie gegee nie. Die hoop was om hiermee twee uitkomste te bereik. Eerstens, dat die storie ʼn holistiese oorsig van die spesifieke som sou gee sodat studente dit makliker sou kon voltooi. Tweedens dat die video’s studente se angs sou verminder sodat hulle meer van ander somme (waarvoor daar nie video’s gemaak is nie) sou voltooi. Die resutate was bemoedigend. Daar was ʼn duidelike verhoging in die hoeveelheid studente wat huiswerk gedoen het, die gemiddelde hoeveelheid somme wat deur ʼn student gedoen is, asook die punte van groter assesserings.

Volgens Smith is wiskunde-angstigheid ʼn globale uitdaging. “Daar is instrumente (toetse) vir feitlik elke ouderdom om leerders se wiskunde-angstigheid te meet (tot so jonk as 4 jaar),” noem hy. “Dit mag moontlik een van die grootste uitdagings wees waarmee wiskundedosente en -onderwysers te make het en ons wil dit verlig deur hierdie navorsing.”

Smith glo dat die samewerking met ander navorsers sal lei tot die vind van maniere oor hoe om wiskunde-angstigheid aan te ondervang. “Ons hoop om met die navorsing uiteindelik studente te bemagtig om te presteer volgens hul potensiaal en nie volgens die beperkings wat op hul potensiaal geplaas is nie.”

Smith het ook tydens sy beroep in Europa as afrigter opgetree in België by die Arteveldehogeschool se jaarlikse Global Entrepreneurship Week vanaf 7-11 November. By hierdie geleentheid het studente van Vlaandere, Wallonië, Ecuador en Denemarke in groepe gewerk om nuwe innoverende ondernemings te konseptualiseer. Die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte is vooraf aan die studente beskikbaar gestel en hul moes dan daaruit ʼn tema kies waarvoor hul oplossings wil vind. Smith is toe ingedeel as afrigter by die groep met die tema: Volhoubare energie.

Volgens Smith sal hy graag Akademia se bande wil versterk met internasionale hoëronderwysinstellings deur verdere internasionale besoeke. “Dit was besonders om ander onderwysers en dosente te ontmoet wat dieselfde passie vir hierdie tema het. Ek hoop om saam met ʼn universiteit in Londen te werk om meganismes te vind om wiskunde-angstigheid te verminder. Akademia se bande in Gent, België is uit die aard van die saak ook versterk deur die Entrepreneurskapweek,” sluit hy af.

Johann Smith, dosent by Akademia, tydens sy referaat by die iCERi-konferensie in Sevilla, Spanje.
Johann Smith en een van die spanne by die Global Entrepreneurship Week.
Johann Smith saam met die ander mentors by Arteveldehogeschool se Global Entrepreneurship Week