
*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
By Akademia word ons studente Fonties genoem. Hierdie eienaam is afgelei uit ons leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms. Vrylik vertaal beteken fontes ook fonteine. Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot nét ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, dit dra ook ʼn spesiale betekenis. Soos lewendige fonteine standhoudende skoon water gee aan die omliggende omgewing, is die ideaal dat Fonties só tot diens van hul gemeenskap sal wees.
Met dié strewe in gedagte, behels Fontie-wees méér as net jou studie – dit is ook die kodewoord vir ʼn bruisende studentelewe. Dit is om in Afrikaans en binne ʼn Christelike konteks jou talente te ontwikkel, kosbare herinneringe te maak en lewenslange vriendskappe te smee.
“Die studentelewe is vol nuwe avonture en ervarings wat jou uit jou gemaksone bring. Daar is ʼn gevoel van vryheid en ontdekking, waar jy jouself beter leer ken. Dit is ʼn tyd waar jy saam met nuwe lewenslange vriende lag, leer en bou aan herinneringe wat vir altyd sal bly.”
– Matthew Luës, ondervoorsitter van die 2025/2026-studenteraad
Akademia se studentelewe bied ʼn tuiste waar studente se denke én hart geïntegreerd kan ontwikkel. Dit word gedoen deur ʼn ruimte te skep waar Fonties aan ʼn verskeidenheid aktiwiteite kan deelneem. Hier kry studente die geleentheid om hulle identiteit te ontdek en te ontwikkel, hul plek in die gemeenskap te vind én hulself doelgerig voor te berei vir ʼn vrye toekoms. En die lekkerste deel van dié avontuur? Jy smee lewenslange vriendskappe en netwerke wat jou op elke tree van jou toekomsreis gaan vergesel!
Die Akademia-studenteraad (SR) verteenwoordig studente en bestuur die studentelewe saam met die bestuurder: Studentesake.
Die portefeuljes vir SR 2026/2027 is soos volg:
Elsomé Thuynsma
Voorsitter
Hendru Stiglingh
Adjunkvoorsitter
Nathalie Harding
Koshuisraad
Megan Smit
Bemarking en Kommunikasie
Frances Dreyer
Sport
Annerine Steyn
Kuns en Kultuur
Hermann Pretorius
Projekte en Finansies
Katie Strydom
Gemeenskap
Miamien van der Ryst
Verenigings
Carli Els
Nauurs: Bemarking en Kommunikasie
Albert Cloete
Nauurs: Studentelewe
“Die studenteraad is ʼn spreekbuis vir studente en het daarom alle Fonties se beste belange op die hart. Die studentelewe hier bied nie net ongelooflike geleenthede vir persoonlike groei nie, maar stel jou ook in staat om jou Christelike waardes daagliks uit te leef.”
– Johannes van Jaarsveld, studenteraadvoorsitter 2024/2025
By Akademia gebruik ons sport as ʼn voertuig om ons studente te vorm – hul denke sowel as die hart. Gedagtig hieraan bied die instelling trots geleenthede waartydens studente óf kompeterend kan deelneem óf net vir die pret sport kan beoefen.
Ons sportafdelings sluit in:
Akademia se kultuurkalender is propvol geleenthede vir studente om hulle kreatiwiteit uit te lééf en hul talente ten toon te stel. Hier is ʼn paar van die kultuurgeleenthede waarna Fonties elke jaar kan uitsien:
Die eerstejaarskonsert is ʼn geleentheid waartydens al die nuwe eerstejaar-Fonties saam konsert hou. Dit bestaan uit toneel, dans en musiek en alle eerstejaars – in die koshuise en daghuise – vorm deel van hierdie prettige geleentheid. Die eerstejaars kry twee weke om te oefen vir dié konsert en dan tree hulle voor familie en vriende op. Hierdie is die eerste groot kultuuraktiwiteit waaraan nuwe studente, as volwaardige Fonties, kan deelneem en vorm ʼn belangrike deel van die eerstejaarsoriënteringsprogram.
Die Akademia-koor is ʼn besonderse deel van Akademia se kultuurbelewenis. Onder leiding van Hano van der Walt, oefen die koor weekliks en word daar deelgeneem aan verskeie konserte en spesiale geleenthede. Die visie van die koor is om ʼn tuiste te vorm waar Akademia-studente saam hulle musikale vermoëns kan slyp.
As jy sêr is altyd ʼn hoogtepunt op die kultuurkalender, omdat al ses die instelling se koshuise saam op een verhoog verskyn. Die sêrprogram bestaan uit sang en dans en gaan gepaard met hope pret. Studente se kreatiwiteit seëvier deur die stories wat hulle deur middel van musiek vertel.
Die koshuisdebatte bied ʼn heerlike geleentheid waar die koshuise op ʼn prettige en geesdriftige manier teen mekaar meeding. Akademia se debatstoernooi strek gewoonlik oor drie dae en bied ʼn gemaklike wegspringplek vir enigiemand wat nog nie voorheen gedebatteer het nie, maar graag hul hand daaraan wil waag. Die spanne trek boonop volgens ʼn gekose tema aan, wat bydra tot die pret, spangees en samehorigheid wat dié geleentheid so besonders maak.
Fontasies is Akademia se jaarlikse kultuurfees waartydens Fonties hul talent in verskeie afdelings ten toon kan stel. Dié kunstefees vind plaas oor ʼn week en die beste items – soos aangewys deur ʼn bewese beoordelaarspaneel – word genooi om aan die gala-aand deel te neem.
Voorskou is Akademia se jaarlikse toneelkompetisie. Elke koshuis kies ʼn toneelgeselskap om hul tydens die kompetisie te verteenwoordig. Wat dié geleentheid só besonders maak is die feit dat deelnemende studente self verantwoordelikheid neem vir die skryf en afrigting van hul toneelstukke, asook al die tegniese aspekte wat daarmee gepaardgaan. Voorskou bied gevolglik aan studente ʼn waardevolle geleentheid om hul kreatiwiteit en talente uit te lééf, nuwe vaardighede te ontwikkel en koshuisgees verder te versterk.
Artium is die instelling se luisterryke jaarlikse kultuurkonsertgala-aand waartydens die uitstaande kultuuritems van die jaar op een verhoog byeen gebring word. Die program bied ʼn gevarieerde fees van studentetalent, met optredes wat wissel van toneel en koorsang tot ander kultuuruitdrukkings. Artium vier nie nét die kreatiwiteit, talent en toewyding van Fonties nie, maar óók die lewendige kultuur- en koshuislewe wat dié instelling kenmerk. Die aand bereik ʼn hoogtepunt wanneer die kultuurbeker oorhandig word aan die koshuis wat deur die loop van die jaar die meeste kultuurpunte verwerf het.
Fonties het voorts die geleentheid om by verskeie instrumentgroepe betrokke te raak. Daar is byvoorbeeld ʼn musiekgroep wat musiekitems tydens kapeldienste lewer asook ʼn klassiekeinstrumentensemble wat tydens spesiale geleentheid optree. As jy ʼn instrument bespeel, sal jy sonder twyfel ʼn tuiste by een van dié groepe vind.
Fontie-spreke verwys na die instelling se nasionale debatskompetisies vir hoëronderwysinstellings. Verskeie instellings neem hieraan deel en behalwe vir die gewildheid van dié kompetisies, word Fonties ook die geleentheid gegun om hul algemene kennis te verskerp.
Akademia het in 2026 trots sy buiging op die verhoog gemaak met ʼn eie studentemusiekblyspel, Daai kleindorpiegevoel. Deur dié kultuurtradisie te laat herleef, bied die instelling aan Fonties die geleentheid om hul talente uit te lééf, hul kreatiwiteit vrye teuels te gee en in groepsverband aan die Akademia-kultuurerfenis te bou.
Akademia is as gemeenskapsinstelling verbonde aan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Tegelyk strewe die instelling ook goeie verhoudinge met ander gemeenskappe na. Sowel die “verbondenheid aan die eie” as die “goeie verhoudinge met ander” word deur vriendskap, geregtigheid en ʼn oop gesprek gekenmerk. As ’n universitêre ruimte wat stewig in die Christelike geloof geanker is, gee Fonties prakties gestalte aan geloof, hoop en liefde deur hul liefde vir God en hul medemens uit te leef, asook deur die hoop op ʼn beter lewe – hier en nou, en tot in ewigheid – te koester.
Tydens die eerstejaarsoriënteringsprogram word Fonties se gemeenskapsbetrokkenheid versterk deur deelname aan die Spore-projek. Tydens dié projek word studente – in koshuisverband – getaak met die ontwerp, bou en versier van speelhuisies vir kwesbare kinders. Ná afloop van hierdie projek word die speelhuisies aan plaaslike gemeenskapsorganisasies geskenk. Die hoofdoel van hierdie projek is om fondse in te samel wat vir deurlopende opheffingsprojekte in die gemeenskap aangewend word.
Hierdie inisiatief het dit ten doel om deur dade van welwillend en ʼn omgeekultuur iets tot die gemeenskap terug te ploeg. Fonties word gedurende Omgeeweek opnuut bewus gemaak van die uitdagings en behoeftes in die gemeenskap, en word aangemoedig om doelgerig ʼn positiewe verskil te maak.
Weekliks besoek een van ons koshuise ʼn plaaslike ouetehuis, waar studente nie net kosbare bande met die inwoners smee nie, maar ook tydens teetyd elke bejaarde met ʼn versnapering bederf.
Fonties het die geleentheid om deur die loop van die jaar aan verskeie uitreikprojekte en inisiatiewe deel te neem.
Fontie-wees word gekenmerk deur ʼn jeugdige geesdrif en energieke uitlewing van ʼn gesonde en bruisende studentelewe. Die sosiale kalender word gevolglik gekenmerk deur geleenthede soos:
Aan die einde van die eerstejaarsoriënteringsprogram kan studente tydens die eerstejaarsdinee as volwaardige Fonties saam kuier, dans en droom oor hul eerste studiejaar.
Die Fontie-bal is sonder twyfel een van die grootste sosiale geleenthede op die jaarkalender. Tydens dié prestigebal kuier nuwe eerstejaar-Fonties en senior studente gesellig saam.
Die jaarlikse Fontie-mark is ʼn fees van entrepreneurskap en alle lede van die Akademia-gemeenskap het ʼn geleentheid om hul handewerk én sakevernuf aan die gemeenskap ten toon te stel.
Fonties kom in fakulteitsverband bymekaar om hul onderskeie fakulteitsgemeenskappe te ontmoet.
Die Draaibraai verweef twee gunstelingaksies: dans en braai.
Hierdie deftige geleentheid aan die einde van die jaar gee aan Fonties die geleentheid om deftig aan te trek en saam met hul dosente en ander ondersteuningspersoneel te sosialiseer.
Akademia streef daarna om te verseker dat studente tot goedgevormde en roepingsgedrewe individue na vore tree. In die lig hiervan speel leierskapsontwikkeling ʼn baie belangrike rol en stel dié inisiatief Fonties in staat om onder leiding van ervare mentors hulself vir toekomstige leierskapsrolle voor te berei.
Studente kan tydens hul studie hulself verkiesbaar stel vir die studenteraad (SR), die onderskeie huiskomitees (HK), subkomitees, óf die Help ʼn Fontie-komitee. Deur hierdie leierskapsposisies te beklee word daar aan studente die geleentheid gegee om ʼn aktiewe rol in die ontwikkeling en bestuur van die instelling se studentelewe te speel en by opwindende projekte betrokke te raak.
Akademia bied deur die jaar ook verskeie kampgeleenthede aan waartydens studente uitgedaag word om kreatief te dink oor komplekse leierskapsuitdagings. Hierdie kampe gee aan Fonties die geleentheid om in hul inter- en intrapersoonlike verhoudings te groei, emosionele intelligensievaardighede te ontwikkel en kritiese denke te ontsluit met die oog op toekomstige leierskapsverantwoordelikhede.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.