
By Akademia word ons studente Fonties genoem. Hierdie eienaam is afgelei uit ons leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne. Vrylik vertaal beteken fontes ook fonteine. Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot nét ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, maar dra ook ʼn spesiale betekenis. Soos goeie fonteine standhoudende skoon water gee aan die omliggende omgewing, is die ideaal dat Fonties só tot diens van hul gemeenskap sal wees.
Met dié strewe in gedagte, behels Fontie-wees méér as net jou studie – dit is ook die kodewoord vir ʼn bruisende studentelewe. Dit is om in Afrikaans en binne ʼn Christelike konteks jou talente te ontwikkel, kosbare herinneringe te maak en lewenslange vriendskappe te smee.
Akademia se studentelewe bied ʼn tuiste waar studente se denke én hart geïntegreerd kan ontwikkel. Dit word gedoen deur ʼn ruimte te skep waar Fonties aan ʼn verskeidenheid aktiwiteite kan deelneem. Hier kry studente die geleentheid om hulle identiteit te ontdek en te ontwikkel, hul plek in die gemeenskap te vind én hulself doelgerig voor te berei vir ʼn vrye toekoms. En die lekkerste deel van dié avontuur? Jy smee lewenslange vriendskappe en netwerke wat jou op elke tree van jou toekomsreis gaan vergesel!
Akademia bied reeds vanaf 2026 ʼn aktiewe sportkalender by die Paarl-kampus aan om vir studente die geleentheid bied om aan ʼn verskeidenheid van sporte deel te neem. Akademia se sportfees, Fontie-spele word ook vir die eerste keer in die Paarl aangebied. Die sport-aanbod gaan jaarliks verder uitbrei om aan die toenemende sportbehoeftes van studente te voorsien.
ʼn Opwindende kultuurkalender word in die vooruitsig gestel om vir studente die geleentheid te bied om hulle kreatiwiteit uit te leef en hul talente ten toon te stel. Hier is ʼn paar van die kultuurgeleenthede waarna Fonties in die Paarl kan uitsien.
Hierdie is die eerste groot kultuuraktiwiteit waaraan nuwe studente as volwaardige Fonties kan deelneem, en vorm ʼn belangrike deel van die eerstejaarsoriënteringsprogram.
Akademia begin in 2024 om die sêrtradisie in koshuissleepverband te vestig. Elke sleep kry die geleentheid om onder leiding van ʼn afrigter hulle sangtalent te slyp en vanuit hul eie tradisie en kultuur ʼn tema te kies waarvolgens hulle optrede beplan word.
Die instelling beskik oor ʼn sterk debatskultuur en Fonties werk toegewyd aan hul redeneringsvaardighede. Deur debatsvoering word studente uitgedaag om oor verskeie onderwerpe soos die politiek en filosofie na te dink en te argumenteer.
Akademia se eie kunstefees nooi Fonties uit om tydens hierdie mag-nie-misloop-geleentheid met hulle talente te spog. Die kunstefees omvat verskeie kategorieë, insluitend drama, musiek, kuns, skryfkuns en ʼn oopafdeling.
Voorskou verteenwoordig ʼn fees van toneelspel, en koshuise ding opgewonde mee om dié verhoogerkenning. Die beste toneelstukke dring deur na die gesogte Artium-geleentheid.
Akademia is as gemeenskapsinstelling in die hoër onderwys verbonde aan die eie gemeenskappe. Tegelyk strewe dit goeie verhoudinge met ander gemeenskappe na. Sowel die “verbondenheid aan die eie” as die “goeie verhoudinge met ander” word deur vriendskap, geregtigheid en ʼn oop gesprek gekenmerk. As ʼn universitêre ruimte wat stewig in die Christelike geloof geanker is, leef Fonties prakties geloof, hoop en liefde uit deur liefde vir God en ons medemens, asook die hoop op ʼn beter lewe, nou en tot in ewigheid. Daarom sal daar geleenthede geskep word vir studente om terug te ploeg in die gemeenskap op verskeie gebiede.
Tydens die eerstejaarsoriënteringsprogram bevorder ons Fonties se gemeenskapsbetrokkenheid deur hulle te taak met die ontwerp, bou en versier van ʼn speelhuis. Laasgenoemde word dan ná voltooiing aan ʼn plaaslike gemeenskapsorganisasie geskenk. Die hoofdoel van hierdie projek is om fondse in te samel wat dan vir opheffingsprojekte in die gemeenskap aangewend word.
Hierdie inisiatief het dit ten doel om deur welwillendheidsdade en ʼn omgeekultuur terug te ploeg in die gemeenskap. Fonties word gedurende Omgeeweek opnuut bewus gemaak van die uitdagings en behoeftes in hulle gemeenskap, en word aangemoedig om doelgerig ʼn positiewe verskil te maak.
Fonties het die geleentheid om aan verskeie uitreikprojekte en inisiatiewe deel te neem waar hulle kan terugploeg in die gemeenskap.
Fontie-wees word gekenmerk deur ʼn jeugdige geesdrif en energieke uitlewing van ʼn gesonde en bruisende studentelewe.
Die Fontie-bal gaan sonder twyfel een van die grootste sosiale geleenthede op die jaarkalender word vir die Paarl-kampus. Tydens dié prestige geleentheid kuier nuwe eerstejaar-Fonties en senior studente gesellig saam.
Die Fontie-mark is ʼn fees van entrepreneurskap en alle lede van die Akademia-gemeenskap het ʼn geleentheid om hul handewerk én sakevernuf aan die gemeenskap ten toon te stel.
Die Draaibraai bring twee gunstelingaksies byeen: Dans en braai.
Akademia streef daarna om te verseker dat studente tot volronde roepingsgedrewe individue gevorm word. In die lig hiervan speel leierskapsontwikkeling ʼn baie belangrike rol en stel dié inisiatief Fonties in staat om onder leiding van ervare mentors hulself vir toekomstige leierskapsrolle voor te berei.
Studente kan tydens hul studie hulself verkiesbaar stel vir die studenteraad, die onderskeie huiskomitees, subkomitees, of die Help ʼn Fontie-komitee. Deur hierdie leierskapsposisies te beklee word daar aan studente die geleentheid gegee om ʼn aktiewe rol in die ontwikkeling en bestuur van die instelling se studentelewe te speel en by opwindende projekte betrokke te wees.
Akademia bied deur die jaar ook verskeie kampe aan waartydens studente uitgedaag word om kreatief te dink oor komplekse leierskapsuitdagings. Hierdie kampe gee aan Fonties die geleentheid om in hul inter- en intrapersoonlike verhoudings te groei, emosionele intelligensievaardighede te ontwikkel en kritiese denke te ontsluit met die oog op toekomstige leierskapsverantwoordelikhede.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.