Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Studenteadviseurs bied bystand aan voornemende studente

Gepubliseer op: 14 September 2017

Ses studenteadviseurs oor die land heen is aangestel om voornemende Akademia-studente met raad en daad by te staan.

In Gauteng is Tap du Plessis en Leah van Heerden aan stuur van sake, terwyl Pieter Jordaan die leisels in die Vrystaat hou. Die Kaap beskik tans oor drie studenteadviseurs, met Deon Steyn in die Paarl, Hendrina Jordaan in Tygervallei en Johan Lubbe in George.

Volgens Tap is die grootste voordeel van Akademia se leermodel dat studente kan studeer terwyl hulle werk – en dít boonop in Afrikaans. “Akademia bied geakkrediteerde onderrigprogramme in Afrikaans aan wat toeganklik en bekostigbaar is. Ons as studenteadviseurs is hier om voornemende studente te help om hul loopbane en ideale te verwesenlik,”sê hy.

Vir Leah is Akademia die sleutel tot ’n blink toekoms. Sy moedig gedrewe en doelgerigte mense aan om hul loopbaanmoontlikhede by Akademia uit te brei. “Akademia help jou bou aan jou toekoms.”

Pieter glo ook Akademia is die toekoms van tersiêre onderrig. Vir hom is ʼn student iemand wat doelgerig is om ʼn beter toekoms te verseker – en hy staan gereed om só ʼn student by Akademia se Vrystaatse studiesentrum in Bloemfontein te verwelkom. “Die Vrystaat is ʼn gemeenskap wat die beste van dienste en produkte verwag. Akademia, met sy uitstekende kwalifikasies en onderrigmodel, pas dus perfek in dié provinsie.”

Deon wys daarop dat Akademia ’n uitstekende opsie is in ’n tyd wat daar ʼn groot behoefte aan selfverbetering deur die aanleer en ontwikkeling van vaardighede is. “Die grootste trekpleister is dat dit ʼn bekostigbare alternatief sonder politieke agenda is. Akademia is beroepsgerig, dinamies en doelwitgedrewe.”

Hendrina moedig voornemende studente wat hul vaardighede in hul belangstellingsveld wil verbeter aan om by Akademia in te skryf vir uitstekende onderrig in Afrikaans. “Akademia bied ’n uitkoms aan beide skoolverlaters en werkendes wat nie noodwendig by ’n instansie met ’n daaglikse rooster wat jou bind, kan studeer nie.”

Johan se passie lê by Akademia omdat hy meen dat dit die enigste interaktiewe afstandsonderriginstelling is waar ʼn persoon hom akademies kan toerus om sy werksideale te verwesenlik. “Akademia bied gehalte onderrig teen bekostigbare pryse in Afrikaans en bring met sy uitgebreide kampusse onderrig na die student se voorstoep. Dis die ideale tuiste vir George se groot Afrikaanse gemeenskap.”

Kontak gerus die studenteadviseur in jou omgewing vir meer inligting oor Akademia se programaanbod en hulp om aansoek te doen. Hulle wil jóú graag help om by Akademia te studeer, presteer en floreer!