Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia smee buitelandse bande tydens besoek aan België

Gepubliseer op: 21 September 2017

Twee van Akademia se akademiese personeellede besoek België aan die einde van September 2017, waar hulle ’n kongres gaan bywoon en bande met oorsese universiteite smee.

Elzette le Roux, programbestuurder van die BCom (Ekonomie en Regte)-graadprogram en Felicia Snyman, vakhoof van Regsgeleerdheid, woon van 25 tot 27 September ‘n juristekongres met die tema ‘taal en die reg’ wat by die Universiteit van Antwerpen aangebied word saam met afgevaardigdes van ander universiteite in Europa en Suid-Afrika by, waar Snyman ‘n referaat gaan lewer.

Die referaat, getiteld ‘Regswapenrusting: Beskerm die beste belang van die kind teen die taalversperring in die SA familiereg’, beklemtoon dat daar tans ʼn magtige neiging in die Suid-Afrikaanse howe is tot die eksklusiewe gebruik van Engels, tot nadeel van die publiek met ander landstale as moedertaal. Familiereg stipuleer dat die beste belang van die kind deurslaggewend is. In haar referaat spreek Snyman die probleem van taalversperring en -hindernisse binne die familiereg aan en stel sy ‘n praktiese oplossing voor om te poog dat die beste belang van die kind-standaard onder alle omstandighede gehandhaaf word.

Bo en behalwe die bywoning van die kongres, gaan Le Roux ook bande met hoofsaaklik Belgiese en Nederlandse universiteite smee en versterk. Met dié netwerkgeleentheid beoog Akademia om eksterne moderatore vir die BCom Ekonomie en Regte-graad en die beoogde LLB-graad te werf, asook om moontlikhede vir uitruilprogramme te ondersoek. Dít vorm deel van Akademia se oogmerk om internasionale blootstelling aan studente te gee en sodoende die beste vanuit die wêreld na Akademia te bring en die beste van Akademia na die wêreld.