Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-student vir klerkskap gekies

Gepubliseer op: 4 September 2017

David Keyter, ʼn BCom Ekonomie en Regte-eerstejaarstudent by Akademia, is ná ʼn keuringsproses en onderhoude met verskeie kandidate as kandidaatprokureur by ʼn prokureursfirma in Pretoria aangestel.

Hy is vir vyf jaar as klerk aangestel, ʼn tydperk waarbinne hy sy BCom-graad, asook ʼn LLB-graad wil voltooi. Sover het hy blootstelling aan litigasie, familiereg en arbeidsreg gekry.

Elzette le Roux, programbestuurder van Ekonomie en Regte, vertel dat die prokureursfirma haar gekontak het met die spesifieke versoek dat Akademia-studente vir klerkskap aanbeveel word. “Ek het die top-studente genader en genooi om hul CV’s vir die firma te stuur. So agt studente het aansoek gedoen, waarna twee saam met ander eksterne kandidate vir ‘n onderhoud genooi is. David het my toe laat weet dat hy die pos gekry het en nou as klerk aangestel is. Hy is in ekstase en noem dat hy reeds baie leer en reeds ‘n beter verstaan van Familiereg (die regsvak wat hy neem) het.”

Volgens David kry hy as klerk ʼn breë oorsig oor die reg en waar mens in die prentjie pas. “Om die prokureurseksamens te kan skryf moet ‘n klerkskap ook voltooi word, so dit is een van die beste maniere om werksondervinding te kry en solank voor te berei vir ‘n moontlike toekoms as prokureur.”

Die feit dat die prokureursfirma ‘n verskeidenheid spesialisgebiede dek, help David ook om solank moontlike spesialisasie vir sy eie toekoms te oorweeg.

Hy voeg by dat hy baie beïndruk is met sy leerervaring by Akademia. “Ek is nie iemand wat vir lang periodes in klasse kan oplet nie, so die feit dat ek later weer my klasvideo’s op die Spens kan kyk, help my baie. Die studiemateriaal en dosente is na my mening op dieselfde vlak as ander tersiêre instansies en ek het nog net goeie ervarings by Akademia gehad. As dit nie vir Akademia was nie, sou ek ook nie nou die geleentheid gehad het om te kan werk en swot nie.”

Akademia nooi ander prokureursfirmas, wat Akademia-studente ‘n klerkskapgeleentheid wil bied, om die programbestuurder, Elzette le Roux, by elzette@akademia.ac.za te kontak.