Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Studente begin groenteprojek by Pretoria-aftreeoord

Gepubliseer op: 9 November 2018

Vyf studente wat deel van Akademia se Elitebeursprogam is, het vroeër vanjaar ʼn gemeenskapsprojek, naamlik Groei-en-Geniet, by die Trans 50 Jakaranda-aftreeoord in Pretoria Noord begin. Hierdie groenteprojek het ontwikkel nadat dié groep Ondernemingsbestuurstudente uitgedaag is om ʼn volhoubare projek te begin en sodoende terug te ploeg in hulle gemeenskap as deel van hulle voltooiing van die Elitebeursprogram.

Die privaat hoëronderwysinstelling, Akademia, is daarop toegespits om afgeronde studente – vakkundig onderrig en in interdissiplinêre samehang opgevoed – aan gemeenskappe te lewer. Hierdie projek is maar net een van die maniere hoe die instelling bydra tot afgeronde studente ter bevordering van die groter gemeenskap.

Een van die groepslede van die Groei-en-Geniet-projek se ouma het na ʼn aftreeoord verhuis, waarna die student opgemerk het dat daar oor die algemeen nie genoeg stimulering vir bejaardes by sulke oorde beskikbaar is nie. Die studente het vroeg in 2018 hulle idee om groentebokse aan inwoners van die Trans 50 Jakaranda-aftreeoord te verskaf met ʼn volledige projekplan aan ʼn paneel van Ondernemingsbestuurdosente en Akademia-bestuur voorgelê.

Die spanlede van hierdie projek, Andrea Erasmus, Darcia Bensch, Minette Nel, Marlette Smit en Franco Smith, het op 26 Junie 2018 vyftien groentebokse – ten volle ingerig met tuingereedskap, saad en handskoene – aan die inwoners van die aftreeoord geskenk. Na slegs enkele maande groei hierdie plante welig en geniet die inwoners van die aftreeoord die instandhouding van hulle groentebokse.

“Dit is vir ons inwoners ʼn plesier om op ons oudag só iets te doen. Ek sien al hoe verkoop ons groente aan die inwoners wat net toeskouers is,” sê Bets van Emmenes, ʼn inwoner by die Trans 50 Jakaranda-aftreeoord. ʼn Ander inwoner van die aftreeoord, Lorma Naudé, vertel dat die groentetuin haar ʼn rede gee om op te staan. “… al is dit net om ʼn klein saadjie water te gee vir my om te kan eet. Ek is so dankbaar vir die jongmense wat met soveel ywer en toewyding kom belê het in die lewens van ons ouer persone.”

Nie net maak Groei-en-Geniet ʼn verskil in die lewe van vele bejaardes nie, maar studente leer ook prakties hoe om ʼn projekplan te implementeer, hoe om saam met kollegas te werk, en hoe om uitdagings in die implementering van ʼn projek te oorkom.

Al is die groenteprojek reeds goed op dreef het die groep studente ook groot planne om die projek na ander bejaardesentrums uit te brei. Akademia is trots op hierdie Elitebeursstudente.

Spanlede van die Groei-en-Geniet-projek, Andrea Erasmus, Darcia Bensch, Minette Nel, Marlette Smit en Franco Smith, het ʼn groenteprojek ten voordeel van bejaardes by die Trans 50 Jakaranda-aftreeoord begin. Foto: Verskaf