Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie kweek entrepreneurs

Gepubliseer op: 15 November 2018

Akademia se sakeplankompetisie vir 2018 het BCom (Ondernemingsbestuur)-studente die geleentheid gebied om hulle besigheidsidees ʼn werklikheid te maak. Na afloop van die finale rondte wat op 8 November 2018 plaasgevind het, is die sake-idee, TempStudent, as die wenner van die sakeplankompetisie aangewys. Die spanlede van hierdie sakeplaninskrywing is Jean-Pierre Erasmus, Chimoné Kapp en Rohan Pieterse. TempStudent is ʼn aanlyn werksoekportaal waar medestudente kan registreer om kennisgewings vir deeltydse werksgeleenthede te ontvang. Die TempStudent-groep stap weg met ʼn skootrekenaar – ook ingerig met die nodige programme om ʼn besigheid op die been te bring ­– ter waarde van meer as R16 000.

“Die doel van hierdie kompetisie is om aan ons eie studente ʼn platform te bied om die vaardighede en kennis, opgedoen tydens hulle voorgraadse studies, prakties toe te pas,” verduidelik Elize-Mari Coetzer, programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur). “Boonop skep hierdie kompetisie hoop in ʼn land waar werksgeleenthede skaars is”.

Die ander finaliste se sake-idees is AdWorxx en Reality Safety. AdWorxx is ingeskryf deur Juan Pienewald en sy sake-idee is om trokke met elektroniese advertensieborde in te rig. Reality Safety is die breinkind van Roelene Uys en haar idee is om ʼn skietsimulator te skep waar mense binnenshuis kan leer hoe om vuurwapens op die regte manier te gebruik. Die top drie finaliste stap elkeen weg met ʼn gratis subskripsie by People Connect Group, ʼn aanlyn besigheidsgids.

Die drie finaliste is na ʼn keuringsproses deur akademici in Ondernemingsbestuur gekies. Die kriteria vir die eerste rondte het die oorspronklikheid en uitvoerbaarheid van die sakeplan gemeet. Tydens die finale rondte het die drie finaliste die geleentheid gekry om hulle sakeplanne aan ʼn paneel van deskundiges in bemarking, finansies, entrepreneurskap en ondernemingsbestuur voor te lê. Tydens dié rondte is die finaliste se sake-idees en aanbiedings gemeet aan die hand van verskeie ander elemente soos finansiële oorwegings, beplande bemarkings­veldtogte, en potensiële risiko’s wat in ag geneem is.

“Ons is trots op al die studente wat aan die kompetisie deelgeneem het,” sê Coetzer. “Dit is baie inspirerend om te sien hoe die teorie wat tydens studies geleer word prakties toegepas word. Ons wens die studente alle voorspoed toe met hulle opwindende sake-idees en ons hoop om binnekort te hoor dat ons studente suksesvolle ondernemings bestuur.”

(Links na regs) Die wenners van Akademia se sakeplankompetisie is Chimoné Kapp, Jean-Pierre Erasmus en Rohan Pieterse. Hulle sake-idee is TempStudent, ʼn aanlyn werksoekportaal waar medestudente kan registreer om kennisgewings vir deeltydse werksgeleenthede te ontvang