Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Só lyk Akademia se nuut-ingerigte Centurion-kampus

Gepubliseer op: 22 Februarie 2021

Akademia het verlede jaar die opwindende nuus aangekondig dat die instelling, bykomend tot die bestaande nauurse aanbod by landwye studiesentrums, ʼn kampus in Centurion gaan inrig. Hier sal studente vanaf 2021 voltyds kan klas draf en aan ʼn aktiewe studentelewe deelneem. Die instelling het sedert hierdie aankondiging gewoeker met die kampusinrigting om ʼn gerieflike studente-ervaring te skep. Eerste kampusstudente word op 15 Maart tydens oriëntering verwelkom. Hierdie studente gaan baanbrekers wees in die uitbou van die Afrikaanse universiteitswese en hulle sal help bou in die vestiging van verrykende kampustradisies.

Die kampus is sentraal in Centurion geleë, binne loopafstand vanaf die Gautreinstasie en ʼn gerieflike inkopiesentrum. Die rolstoelvriendelike kampus is ingerig met sewe lesingslokale wat 360 sitplekke kan akkommodeer. Hierdie lokale bestaan uit mobiele lessenaars, sodat studente maklik en vinnig groepe kan vorm om aan klasgesprekke en groepsassesserings deel te neem. Studente sal hulle klasbywoning digitaal via QR-kodes bevestig en daagliks vanaf 08:00-16:30 volgens die onderskeie roosters klas draf. Vir studente se gerief word klasroosters op groot skerms in die portaal beskikbaar gestel om aan te dui by watter lokale die studente vir klasbywoning moet aanmeld.

Die hele gebou is met hoëspoedinternet toegerus en studente kan maklik en vinnig hulle notas aflaai en digitale naslaanwerk doen. ʼn Toegeruste biblioteek is ook op die perseel beskikbaar om die student se leerervaring te vergemaklik. ʼn Vriendelike en ervare bibliotekaris staan gereed om studente met hulle navorsings- en inligtingsbehoeftes by te staan.

Die kampus het ʼn pragtige ouditorium wat ingerig is met beligting, kameras en klanktoerusting ­– ideaal vir studentekonserte, lesings, seminare, kongresse en ander funksies. Langs die ouditorium is ʼn ingerigte kafeteria, waar heerlike vars eet- en drinkgoed aangekoop kan word, en kan studente op die groen grasperke of onder sambrele by die voorportaal ontspan.

ʼn Kliëntediensafdeling sal studente op kampus bystaan met administratiewe navrae oor punte of registrasies. Bykomende dienste om studente te ondersteun word ook gebied, en is daar konsultasiekamers op kampus beskikbaar waar studente met hulle dosente kan gesels oor werk waarmee hulle vasbrand. ʼn Lid van die Studenteraad is boonop op kampus gesetel om met studentesake te help en om studente ingelig te hou van opwindende studenteaksies wat beplan word.

Daar is elf selfsorgwooneenhede op kampus beskikbaar wat verblyf aan 24 studente bied. Hierdie verblyf is ongeveer 100 meter vanaf die hoofingang van die kampusgebou geleë. ʼn Koshuisouer, ook die studentesakebestuurder by Akademia, woon op hierdie perseel om ook nauurse ondersteuning aan studente te kan bied.

Ouers hoef nie bekommerd te wees oor hulle kinders se veiligheid nie. Sekuriteitswagte patrolleer die kampus 24 uur en die kampus is van sekuriteitskameras voorsien wat binne en buite die perseel monitor.

Ongeag wat vanjaar met Covid-19-regulasies gebeur, is Akademia se onderskeie modelle ten volle gerat om op ʼn ononderbroke wyse voort te gaan met gehalte onderrig en hoogstaande opvoeding. Die kampus voldoen aan alle nasionale inperkingsregulasies en studente sal in ʼn veilige omgewing kan bou aan hulle toekoms!

Goeie nuus! Aansoeke vir studies op die Centurion-kampus is nog oop tot 2 Maart om 12:00. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting oor die aanlyn aansoekproses. Nuuskierig oor die kampus? ʼn Virtuele toer van Akademia se kampus word op Vrydag 26 Februarie om 10:00 op Akademia se Facebook-blad uitgesaai. Dagboek hierdie datum sommer nou!

Akademia bied vanaf 2021 die geleentheid aan studente om voltyds klas te draf op die nuut-ingerigte kampus in Centurion. Hier gaan studente aan ʼn aktiewe studentelewe deelneem.
ʼn Biblioteek is ook op die perseel beskikbaar om die student se leerervaring te vergemaklik.
Daar is ʼn pragtige ouditorium op die Centurion-kampus wat ingerig is met beligting, kameras en klanktoerusting ¬– ideaal vir studentekonserte, lesings, seminare, kongresse en ander funksies!
Die rolstoelvriendelike kampus is ingerig met sewe lesingslokale wat 360 sitplekke kan akkommodeer. Hierdie lokale bestaan uit mobiele lessenaars sodat studente maklik en vinnig groepe kan vorm om aan klasgesprekke en groepsassesserings deel te neem.