Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Matriek, jou loopbaanreis begin hier

Gepubliseer op: 23 Februarie 2021

Met groot verligting kan matrieks uiteindelik hulle skoolloopbaan afsluit nadat hulle die wenstreep bereik het. Matriekuitslae is pas bekendgemaak en duisende matrieks wonder waarskynlik “Wat nou?”. Terwyl talle hoër­onderwysinstellings se aansoeke vir studies reeds gesluit het, bied Akademia steeds die geleentheid aan skoolverlaters om nog aansoek te doen om vanjaar studies aan te pak.

Aansoeke vir voorgraadse studies is nog tot 2 Maart oop. “Weens die ontwrigtende tye waarin matrieks hulleself bevind het, het Akademia besluit om vergunning te bied en aansoeke vir die 2021-studiejaar later te sluit,” sê Paul Vogel, operasionele hoof by die instelling. “Ons besef dat verlede jaar se matrieks talle onsekerhede en uitdagings ervaar het, en Akademia wil hierdie jongmense gerusstel dat daar nog kans is om die bal aan die rol te kry vir studies.”

Akademia, nou byna ʼn dekade oud, bied ʼn verskeidenheid geakkrediteerde kwalifikasies aan waarvan skoolverlaters kan kies. Boonop is daar ʼn keuse tussen nauurse studies oor ʼn landwye netwerk van studiesentrums, en voltydse studies op die nuutingerigte kampus in Centurion wat vanjaar deure oopmaak.

Akademia se nauurse model is ideaal vir skoolverlaters wat graag wil studeer en tegelyk werk of ander belangstellings najaag. Hierdie model gebruik gevorderde tegnologie om kontaksessies aan te bied, en studente word in ʼn interaktiewe virtuele leerruimte regstreeks oor twaalf studiesentrums met mekaar verbind. Dosente saai vanaf die ateljee in Centurion uit en alle studente ontvang ongeag hulle ligging presies dieselfde onderrig.

Op Akademia se nuwe Centurion-kampus studeer studente voltyds en word klasse bedags bygewoon. Die kampus is gerieflik ingerig met ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, biblioteek, studenteverblyf en ʼn ouditorium, asook ander fasiliteite wat studenteondersteuning bied. Op hierdie kampus sal studente baanbrekers wees wat aan ʼn aktiewe studentelewe kan deelneem, terwyl hulle aan ʼn betekenisvolle loopbaanreis bou.

“Ons studente is vir ons belangrik, en daarom bied Akademia vanjaar aan eerstejaars toegang tot ʼn gratis aanlyn kursus om die kuns van studentwees baas te raak – selfs nog voordat hulle amptelike oriëntering op 15 Maart afskop,” noem Vogel. Hier word nuttige temas soos basiese rekenaarvaardighede, hoe om vir die akademiese jaar voor te berei, akademiese taal- en skryfvaardighede, basiese akademiese navorsing en wenke vir die aflê van assesserings hanteer. “Ons glo dat hierdie kursus skoolverlaters nóg beter gaan voorberei voordat hulle met die akademiese jaar begin,” meen Vogel.

Ongeag wat vanjaar gebeur is Akademia gereed om weer soos in die verlede wêreldklas onderrig aan skoolverlaters te bied.

Aansoeke vir studies by Akademia vind eksklusief aanlyn plaas. Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za, of stuur ʼn WhatsApp aan 0861 222 888. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!