Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Gedagtes in aanloop tot die begrotingsrede

Gepubliseer op: 22 Februarie 2021

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in Belasting en Ouditkunde by Akademia

Op Woensdag 24 Februarie 2021 sal die minister van finansies, Tito Mboweni, die begrotingsrede vir 2021 lewer.

Benewens die COVID-19-pandemie se humanitêre ontwrigting, het dit ook ekonomiese onstuimigheid teweeggebring. Na afloop van die 2020-mediumtermynbegrotings­beleidverklaring word belastingverhogings ten bedrae van R5 miljard vir 2021/2022 geprojekteer. Drastiese belastingverhogings kan egter die herstel van die ekonomie belemmer.

Die volgende belastingberamings kan moontlik verwag word:

1.) Inkomstebelasting

Die heffing van persoonlike inkomstebelasting op individue se belasbare inkomste is een van die sleutelkomponente van direkte belasting in Suid-Afrika. Histories het die Nasionale Tesourie beduidende addisionele belastinginkomste gegenereer by wyse van persoonlike inkomstebelastingverhogings.

ʼn Verhoogde belastingkoers van 47% (ʼn toename van 2%) word vir natuurlike persone en spesiale trusts voorspel wat teen die maksimum marginale koers belas word. Die korporatiewe belastingkoers sal waarskynlik onveranderd bly vanweë Suid-Afrika se dringende behoefte aan buitelandse belegging.

2.) Kapitaalwinsbelasting

Die huidige insluitingskoerse van toepassing op individue (40%) en maatskappye (80%), sal vermoedelik verhoog word tot onderskeidelik 66% en 100%.

3.) Belastingverslagdoening en tussentydse invordering

Die Suid-Afrikaanse regsprofessie tref onderskeid tussen die balie en die sybalie. Die balie bestaan uit advokate, terwyl die sybalie uit prokureurs bestaan. Lede van die balie genereer belasbare inkomste vanuit hul aanstellings deur die sybalie en/of ontvangstes vanaf mede-advokate vir die lewering van onderlinge regsdienste.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens behoort te herbesin oor die belasting, invordering en terughouding van hierdie bedrae. ʼn Elektroniese verslagdoeningstelsel soortgelyk aan die lopende betaalstelsel waaraan werkgewers en werknemers onderhewig is, behoort tydig geïmplementeer te word. Hierdie stelsel kan aangevul word deur die bestaande voorlopige belastingstelsel ten einde tussentydse invordering te verbeter.

4.) Besnoei mediese krediete

Die skrapping van mediese krediete behoort R27,8 miljard te bespaar, hoewel dit die toekomstige bekostigbaarheid van mediese fondse wesenlik sal beïnvloed. ʼn Besnoeiing van 33% sal ʼn besparing van R9 miljard teweegbring en is gevolglik meer raadsaam as die totale skrapping van mediese krediete te midde van die korona-krisis.

5.) Belasting op Toegevoegde Waarde

ʼn Toename van 1% in die BTW-koers sal beduidende belastinginkomste genereer. ʼn Verhoging in hierdie koers sal egter ernstige teenstand vanaf vakbonde en verbruikers uitlok.

6.) Welvaartbelasting

Die Nasionale Tesourie sal herbesin oor bestaande belastings teenoor die instelling van ʼn welvaartsbelasting of solidariteitsbelasting. Die instelling van ʼn nuwe soort belasting sal die regering administratief en finansieel swaar belas. Dié instelling sal ook innoverende belastingvermyding en belastingontduiking aanspoor.

Dit is raadsaam dat belastingbetalers die begrotingsrede besigtig en die bepalings met hul finansiële adviseurs bespreek. Die bepalings soos op 24 Februarie 2021 aangekondig sal geld vanaf 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022.

Besoek Akademia se webwerf vir meer inligting omtrent die Nagraadse Diploma in Belasting. Dit is ideaal vir diegene wat hulle loopbane in belasting na die volgende peil wil neem.

Michelle Coetzee is ʼn geoktrooieerde rekenmeester. Sy doseer Ouditkunde en Belasting by Akademia en is die Vakhoof: Belasting, Finansiële Rekeningkunde en Ouditkunde.

Bronne:

SAICA, 2021, Besoek: 19 Februarie 2021. <https://www.saica.co.za/News/tabid/55/language/en-ZA/Default.aspx>