Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia vier Internasionale Moedertaaldag

Gepubliseer op: 21 Februarie 2021

Die 21ste Februarie word wêreldwyd as Internasionale Moedertaaldag gevier. Hierdie inisiatief is gestig met die doel om veeltaligheid te bevorder en die diverse ontwikkeling van tale te beklemtoon. Vandag vier Akademia met trots Afrikaans as onderrigtaal, en bedank elke Afrikaanssprekende vir hul rol om dié taal te laat voortleef.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, noem dat die instelling ʼn noue verbintenis met Afrikaans as moedertaal het. Akademia bied uitnemende opleiding en uitstaande opvoeding aan Afrikaanse studente wat graag in hulle moedertaal wil studeer.

Volgens studies[1] is Afrikaanse moedertaalonderrig veel meer doeltreffend as om in ʼn tweede taal te studeer. Hierdie studie toon ook aan dat dit nie noodwendig waar is dat Afrikaanse studente eerder in Engels wil studeer nie, en dat dié studente wel van mening is dat Afrikaans steeds relevant in die werkplek is.

Boonop is ook die afgelope dekades ontdek dat daar ʼn noue verband is tussen die ontwikkeling van jou moedertaal en jou vermoë om die werklikheid konseptueel te begryp, en logies daaroor na te dink. Hoe sterker jou moedertaal gevestig is, des te sterker is jou vermoë om ook abstrakte begrippe te hanteer. Daarom is konseptuele ontwikkeling sonder ʼn deeglike begronding in ʼn eie moedertaal veel moeiliker.

“Akademia is as hoëronderwysinstelling juis daartoe verbind om ons moedertaal op die hoogste vlak te gebruik. Nog meer, Akademia is daartoe verbind om deur middel van sentrale universitêre funksies soos navorsing en dosering ruimtes oop te maak waarbinne ons moedertaal kan gedy.” Hy sê dat Akademia daarmee nie die belangrikheid van ʼn algemene taal soos Engels ontken nie. “Ons gaan egter uit van die standpunt dat ons eie moedertaal te midde van Engels ʼn florerende taal – ook in die akademiese wêreld van die hoër onderwys – kan wees.”

Studente wat in Afrikaans studeer kry die nodige vaardighede om in die bronne van ten minste drie sterk akademiese tale – naamlik Afrikaans, Nederlands en Engels – in te delf. Vir studente wat slegs Engels besig, is eersgenoemde twee bronne ontoeganklik.

Goosen meen dat Afrikaans nie net as algemene omgangstaal of as taal van die letterkunde ʼn bykans onuitputlike seggingskrag het nie. “Afrikaans het óók as akademiese taal ʼn besondere uitdrukkingsvermoë.” Hy sê dat Afrikaans die afgelope jare uiteraard op akademiese gebied vele uitdagings beleef het. “Akademia is egter oortuig dat Afrikaans met oordeelkundige taalstrategieë weer ʼn florerende taal in belangrike segmente van die akademiese lewe sal wees.” Hy is verder van mening dat Afrikaans se vermoë om die unieke aard van ons eie wêreld ook akademies tot spreke te bring hierin ʼn belangrike rol speel.

“Moedertale is die voedingsbron vir ons konsepte, ons vermoë om te redeneer, ons logiese ordening van argumente. Sonder ons moedertale sou ons konseptueel veel armer gewees het.”