Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Ontmoet Akademia se nuwe studentesakebestuurder

Gepubliseer op: 18 Februarie 2021

Akademia se studente-ondersteuning is onlangs selfs verder uitgebou deur die aanstelling van dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder, by Akademia. Sy is getaak met die onderhou en verdere verfyning van die instelling se studentelewe en studenteaangeleenthede. Sy sal ook haar plek as voltydse koshuisouer by die private studenteverblyf op die nuut-ingerigte Centurion-kampus inneem.

Muller is nie net ʼn gesoute akademikus en navorser nie, maar het ook welke ervaring in die praktyk, verskeie koshuisaangeleenthede en gemeenskapsake. Sy was voorheen by die Noordwes-Universiteit (NWU) as projekbestuurder in die kantoor van die direkteur van bemarking en studentewerwing betrokke, en was ook vir sewe jaar koshuisouer op die Potchefstroomkampus. Tussendeur alles kon sy ook berading doen in die verskeie gemeenskappe waar sy gewoon en gewerk het.

Wat maak jou opgewonde om by Akademia aan te sluit?

Ek sien daarna uit om ʼn studentelewe te vestig by ʼn instansie wat gehalte onderrig sonder kompromie vir nauurse en voltydse studente aanbied. Dit is baie opwindend om deel van ʼn instelling te wees waar die begronding in geloof gesetel is, en die visie is om ons studente met meer as net ʼn kwalifikasie die wêreld in te stuur is. Ons afgestudeerde studente sal uiteindelik die groter prentjie kan sien, die geheel van dinge verstaan, en sal kan terugkeer na hulle gemeenskappe om daar ʼn verskil te maak. Hierdie opvoedingsbenadering onderskei Akademia-studente van ander.

Wat is enkele doelwitte vir Akademia se studentesake?

Een doelwit is om ʼn veilige en gesonde studentelewe op ʼn verwelkomende, positiewe kampus te vestig. Die Centurion-kampus is ʼn eerste vir Akademia, en is ʼn magdom werk vooraf in die nauurse onderrigmodel gedoen waarop verder uitgebou kan word vir ʼn opwindende en betekenisvolle studentelewe. Talle aksies word beoog om die studentelewe kleurvol in te rig. Ons gaan ook fokus op loopbaanvoorbereiding en mentorskapprogramme vir ons studente. Hierdie inisiatiewe gaan ʼn unieke bydrae lewer in die voorbereiding van ons studente vir toekomstige loopbane en hulle vorming as volronde mense.

Wat is jou droom vir Akademia?

Akademia se planne vir die tussentydse kampus is reeds goed op dreef en studente kan uitsien na ʼn belowende studentelewe. My droom vir Akademia is om baie vinnig op ons beoogde kampus (ons langertermynprojek) te vestig en die volheid van ʼn koshuis- en kampuslewe te kan ervaar! As jy wou weet hoe ons omvattende residensiële kampus in die toekoms gaan lyk en funksioneer, beplan jy sommer nou al vir jou kind se toekoms by Akademia.

Klik hier vir meer inligting oor Akademia se nauurse en voltydse onderrigleermodelle. Hier maak studente kennis met hulle toekoms!

Dr. Desiree Muller is onlangs aangestel as studentesakebestuurder by Akademia.